Video: Solidariteit maak VN-konsepklag teen SA-regering bekend

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag sy konsepklag oor regstellende aksie, wat hy later vanjaar teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies aanhangig gaan maak, bekend gestel.

Volgens die Solidariteit-klag oortree die Suid-Afrikaanse regering die VN-konvensie wat alle vorme van rassediskriminasie verbied. Die klag fokus op die staat se gebruik van die nasionale rassedemografie as ’n kwotabeleid.

Die klag neem die vorm aan van ʼn skaduverslag wat aan die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassisme (CERD) voorgelê gaan word.

Solidariteit het ook vandag begin met ʼn twee maande lange openbare proses om insette van Suid-Afrikaners van oor die hele ras- en politieke spektrum heen te kry om sodoende ʼn breë spektrum van Suid-Afrikaners se mening in die verslag te weergee.

Wanneer die openbare konsultasieproses afgehandel is, sal die verslag gefinaliseer word en in Augustus 2015 formeel by die VN ingedien word.

CERD maak voorsiening daarvoor dat burgerlike organisasies ’n regering kan verkla deur middel van ʼn skaduverslag wat voorgelê word in reaksie op die betrokke regering se eie verslag aan CERD.

“Dit is die eerste keer dat die Suid-Afrikaanse regering sedert 1994 by die Verenigde Nasies vir rassediskriminasie aangekla word. Die kern van die klag is dat die Suid-Afrikaanse regering se absolute fokus op rasseverteenwoordiging teen die bepalings van CERD indruis. Die staat se rassebeleid gaan verder as wat regstellende aksie internasionaal toegelaat word en voldoen nie meer aan die internasionale vereiste van regstellende aksie nie,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

Hermann verduidelik dat die klag in die skaduverslag wyer strek as bloot Solidariteit en sy lede. “Ons fokus op ʼn saak wat alle Suid-Afrikaners raak en wat ’n brandpunt vir almal, ongeag ras, geword het. Suid-Afrikaners oor ʼn breë spektrum is moeg vir die swak polisiediens as gevolg van ʼn oordrewe fokus op ras; dink dit is uiters onbillik om die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap toe te pas; en dink dit is absurd om met ʼn aggressiewe kwotastelsel vaardighede by Eskom te verjaag te midde van ʼn kragkrisis. Ons verwag dus steun vanuit alle oorde in ons openbare konsultasieproses,” het Hermann gesê.

Die regering se beleid van rassekwotas kan nie gedefinieer word as regstellende aksie nie, maar eerder as ’n vorm van neo-rassisme wat nêrens in die wêreld aanvaarbaar is nie.

Van die belangrikste punte van Solidariteit se klag teen die regering se neo-rassisme is dat:

  • Verskillende silo’s vir verskillende ras- en geslagsgroepe geskep word;
  • Die regering ’n toekoms deur maatskaplike manipulasie wil skep;
  • Rasseklassifikasie in Suid-Afrika weer geïnstitusionaliseer word;
  • Rasverskille die basis vir besluitneming geword het;
  • Nie op benadeling van die verlede gefokus word nie, maar slegs op ras;
  • Daar nie ’n sonsondergangklousule is nie omdat die rassedemografie deurlopend verander;
  • Daar nie ʼn fokus op opleiding en ontwikkeling van mense is nie, maar slegs op wiskundige uitkomste; en
  • Rassekwotas nagejaag word sonder inagneming van dienslewering.

Daarteenoor bepaal internasionale praktyke oor regstellende aksie dat:

  • Geen silo’s geskep mag word nie, dat ook gekyk word na klas en dat ras net in uiterse gevalle gebruik moet word;
  • Benadeling in sy geheel, en nie net met syfers nie, reggestel moet word;
  • Gewaak moet word daarteen dat vorme van rasseklassifikasie nie geïnstitusionaliseer moet word nie;
  • Daar met die oog daarop dat slegs meriete uiteindelik gebruik word, ʼn sonsondergang moet wees wat nie verder strek as wat nodig is nie;
  • ʼn Verskeidenheid van faktore in ag geneem moet word, wat insluit billikheid, individuele meriete en operasionele vereistes;
  • Gefokus word op opleiding en ontwikkeling van mense as die belangrikste metodes van regstelling; en dat
  • Gefokus word op goeie dienslewering as ʼn vorm van regstelling, veral vir armes.

Suid-Afrika se program van rasseverteenwoordigendheid voldoen dus nie aan die definisie van regstellende aksie nie, volgens Solidariteit.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het die volgende tydens die mediakonferensie gesê:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

marie ·

Ons groot probleem is Malema, hy is besig om baie steun te werf en is ook besig met aanhitsing om te staak, raak ontslae van hom en dit sal baie beter gaan in ons land, hy het xenofobia aangehits en al die stakings by die myne kom ook van hom af, as hy gaan staan vir die munisipaliteite soos hy beplan het ons probleme.

Tammy ·

Fantasties, dit verdien die hoogste lof. Baie geluk met die stap mense. Nou kan die vrot regering van ons wat net wi he en alles by almal wil oes op hulle neuse kyk. Verbeel jou jy moet 51% van jou besigheid wat meer as 100 miljoen werd is vir een van die rowers gee. Ja verniet gee en die damn goed kan nie eers n pennie waarde toevoeg tot daardie besigheid nie. Vrommel hulle op, dis n klomp rowers.

willie van niekerk ·

Dit is goeie nuus Kyk sommer ook na die SAPS hulle het n aantal jare gelede ook ras gebruik om lede wyd en suid te verplaas na gebiede waar Equity as verskoning gebruik was

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.