Die vakbond Solidariteit het vandag sy splinternuwe veldtog, met die tema #BouSaam, by ʼn konferensie in Pretoria van stapel gestuur. Die veldtog, wat oor ʼn tydperk van drie maande gaan strek, het ten doel om gemeenskappe betrokke te kry om saam aan suksesvolle selfdoen-instellings te bou. Die veldtog volg op Solidariteit se sukses met sy #OnsBou-veldtog verlede jaar.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, moet gemeenskappe weer saamspan en self bou. “Die verval van die staat tesame met grootskaalse korrupsie in die regerende party noodsaak gemeenskappe al hoe meer om self aan ʼn toekoms te bou,” het Hermann gesê.
Hy het voorts verduidelik dat die Solidariteit Beweging reeds met reusesukses verskeie instellings op die been gebring het, wat ondermeer fokus op opleiding, taal en kultuur. “Solidariteit wil hierop voortbou en glo dat gemeenskappe self aan ʼn toekoms kan bou waarin almal blywend vry, veilig en voorspoedig sal kan leef.
“Ons nooi derduisende mense om saam te kom bou,” het Hermann afgesluit.
Solidariteit het ook tydens die geleentheid sy nuwe herontwerpte en meer belynde webblad asook sy nuwe moderne handelsmerk onthul.
Solidariteit bou sedert 1902 ʼn toekoms en vier ook vanjaar sy 115de bestaansjaar.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Uitstekend. Kyk wie Bou op en Wie breek af.
Ek is in en ek hoop hier gaan ons soos een man en vrou saamstaan en saam bou want daar is nie ‘n ander keuse nie
Hoe DE hel? Hulle wil dan nou selfs vir Spur help!! Eks klaar met hulle.
Ek ondersteun Solariteit ten volle, alhoewel ek nie kon glo dat toe dit broekskeur begin gaan met ons met ñ finale jaar student op universiteit, hulle nie aan haar ñ beurs wou toestaan nie. Sal seker maar aaltyd ñ seer plekkie in ons harte hê, maar ja, ek ondersteun hulle ten volle. Baklei ten minste vir ons Suid Afrikaners
Ek betaal belasting aan die Keiser sodat hy en sy “cronies” hulle werk doen en die land en sy mense “bou”. Nou moet ek dit SELF doen? Sodra ek al my belasting kan weerhou…..kan ek myself sover kry om te begin bou. Intussen kyk ek hoe om ‘n nuwe begin in ‘n “regte land” te bou….