Video: Sprinkaanplaag bedreig weiding

Bruinsprinkane op ’n plaas in Aggeneys tussen Pofadder en Springbok in die Noord-Kaap. (Foto: Verskaf / Departement van landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling)

Grootskaalse weiding in die Noord-Kaap is dalk in gedrang nadat ʼn bruinsprinkaanplaag na meer as 35 klein Noord-Kaapse dorpies uitgebrei het.

Mase Manopole, Noord-Kaapse LUR vir landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het grondeienaars in dié provinsie versoek om die departement se bruinsprinkaanbeheerders toegang tot hul plase te gee.

Die departement waarsku dat indien daar nie vinnig gespring word om die plaag onder beheer te kry nie, dit tot groot verliese aan weiding en plantegroei sal lei.

Pofadder, Hanover en De Aar is intussen deur die departement as brandpunte geïdentifiseer.

Maroela Media het aan die begin van November berig dat kenners ʼn reusesprinkaanplaag vir die Noord-Kaap voorspel aangesien die provinsie ʼn goeie reënseisoen gehad het.

Sprinkane is toe reeds wydverspreid in die gebiede van Upington, Gordonia-Wes, Pofadder-Wes, Springbok/Concordia, Marydale, Langklip/Cnydas, Bladgrond, Groblershoop, Niekerkshoop, Sutherland en Richmond opgemerk.

Manopole waarsku dat die swerm bruinsprinkane binne die volgende 20 tot 25 dae sal vlieg.

“As dit nie beheer word nie, sal meeste van die weiding en plantegroei verlore gaan.”

Sy sê onbewoonde of verwaarloosde plase is in dié stadium groot uitdagings, asook grondeienaars se onbeskikbaarheid of weiering om aan sprinkaanbeheerders toegang tot hul plase te gee.

“Dit hou ’n ernstige uitdaging in om die verspreiding van die swerm te beheer en skade te beperk.”

Boonop, sê Manopole, herstel die Noord-Kaap steeds van die impak van erge droogtetoestande wat die provinsie meer as ʼn dekade lank geteister het.

Sy sê voorts dat sommige boere ook versuim om sprinkaan-uitbrekings op hul plase aan te meld.

“Dit veroorsaak ʼn probleem omdat dit baie moeilik is om sprinkane te beheer as hulle eers volgroeid is en rondvlieg.

“Ons rig ʼn opregte versoek aan alle grondeienaars om saam met die departement te werk om verdere uitbrekings te beperk, ten einde voedselsekerheid in die provinsie te verseker.”

Manopole sê die beleid rakende die bestuur van die land se sprinkaanprobleem stel duidelik dat alle gebiede aan sprinkaanbeheermaatreëls onderworpe is, hoewel sekere gebiede, soos woonplekke, hiervan uitgesluit word.

“Ander doeltreffende beheermaatreëls sal egter op dié plekke toegepas moet word.”

Volgens die departement is 1 034 mense tot dusver opgelei om die plaag te beheer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Nes ANC….. verorber en vernietig alles wat voorkom!!!

Piet parys

Mase sê dit en dat van boere om haar onbevoegdheid weg te steek . Blameer weereens die boere . As sy haar werk erntig opvat en berigte maande gelede gelees het sou sy gesien het dat n sprinkaan plaag op pad is . NOG N BIETJIE SLUIMER NOG N BIETJIE SLAAP

Vlakboer

Grootste respek vir die manne en vroue wat die plaag bestry. Dis harde werk onder minder lekker omstandighede. Dis van voordag tot donker spuit. Sterkte mense en byt vas. Ek is seker Suid Afrika is dankbaar al besef hul nie die erns van die plaag en wat dit kan veroorsaak nie.

madels

Sjoe, dis erg :-(

Frank John

Maleagi 3:10-18