Video: Steenhuisen kap terug in akademiese storm

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA. Foto: Twitter

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het Dinsdag teruggeveg in die stryd oor sy beperkte akademiese kwalifikasies.

Steenhuisen het in ʼn parlementêre toespraak gesê dat hy nog nooit voorgegee het om oor enigiets anders as ʼn matriek te beskik nie en dat hy nog nooit geld gesteel het soos baie EFF-politici met grade nie.

Daar was drama in die parlement toe Steenhuisen en die EFF in kwaai bekgevegte oor die onderwerp betrokke geraak het. Die afgelope paar dae het die EFF-leierskap – spesifiek die onderleier, Floyd Shivambu (met ʼn meestersgraad in ekonomie), en die nasionale woordvoerder, dr. Mbuyiseni Ndlozi, vir Steenhuisen erg gespot omdat hy net matriek het.

Steenhuisen het in sy toespraak tereg uitgewys dat geen spesifieke akademiese kwalifikasie vereis word om ʼn parlementslid te wees nie, en dat hy weens die moeilike geldelike omstandighede waaruit hy kom, nie die geleentheid gehad het om eers te gaan studeer nie.

Die hele kwessie kom vanuit die DA self, met teenstanders in sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, wat in weerwraak op verskeie interne gevegte oor die afgelope paar jaar, nou redes soek om Steenhuisen nie te herkies as parlementslid nie.

Hulle meen die feit dat hy slegs matriek het, is ʼn stok om hom mee te slaan, en hulle slaan hom nou in ʼn geveg wat in die toekoms baie interessant kan ontvou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Morne ·

Hoekom steur jy jou daaraan John? Julius en kie het almal hulle grade by die Pallo Jordan Universiteit verwerf.

Oujongvrou ·

Word daar ooit ter enige tyd oor die land se probleme in daai parlement gepraat. Ons sit met n land wat brand en die parlementslede hou hulle besig met bekgevegte en slegse van mekaar. Niemand regeer hierdie land nie. Is n free for all en ons betaal hulle. Hulle kry astronomiese salarisse om elke dag parlement toe te gaan en mekaar met modder te gooi.

Tina ·

Floyd en Mbuyiseni. ‘n Graad is niks anders as ‘n stuk papier nie. So is lang punt skoene en duur pakke ook niks anders as klere nie. Wat by jou mond uitkom definieer jou as mens.

BJ Vorster ·

Ek stem een honderd persent saam – dit is baie akkuraat – spyker op die kop !
Dit is verskriklik om te sien waarmee die parlement en die howe nou besig gehou word – skokkend platvloers en absoluut geen respek!!

Elene ·

Is dit nie absoluut belaglik nie die EFF ontwrug die parlement gereeld. Dit is meestal al wat hulle doen. Wat maak hulle daar?

Pierre ·

Net nog ‘n bewys van die DA se onbekwaamheid om interne situasies inhuis te hanteer. Die DA is nou erger op die afdraande pad as ooit tevore omdat die leierskap nie hulle mense kan of wil beskerm teen die aanslae van binne en buite die politieke spektrum nie.
Interessant is dat John nog altyd by sy beginsels gestaan het en wat my aanbetref ‘n aanwins vir die DA was nie. Vandag kan jy 60 grade he, dit beteken niks as jy nie die “skills” of passie het om jou werk te verrig nie.
Sterkte aan John, ek ondersteun jou ten volle

Koos ·

Die eff het gesoek daar voor, hulle het begin om vir Steenhuysen te beledig. Was hoogtyd dat iemand hulle in die Bek ruk

Naomi Schulze ·

Kennis is nie wysheid nie! Mnr Steenhuisen het baie wysheid en wie sê in elk geval dat sy akademiese kennis agteruitstaan vir dié met die 20% slaagsyfer? Ek sien elke dag hoe mense doktersgrade kry vir dissertasies in Engels wat ‘n graad 3-leerling sal laat bloos

Marius ·

Jou woordeskap is puik John Steenhuisen nie een keer gese ee oo you know.Goed voorberei vir n man met matriek.Well done.

Ben ·

Ek verstaan nie,Zuma het dan die land regeer met geen tersiere kwalifikasie nie.

Anoniem ·

Eerlikheid, morele integriteit en hardwerkendheid is van meer waarde as ‘n graad.

Hoe op aarde kan Floyd Shivambu met sy meestersgraad in ekonomie nie insien op watter ekonomiese ramp die Onteiening Sonder Vergoeding afstuur nie? Dit laat my wonder oor die kwaliteit van sy graad.

Vergelyk ook John Steenhuizen wat weens finansiële omstandighede nie kon gaan studeer nie, teenoor Floyd wat ‘n meestersgraad het. Wie is die voorheen benadeelde?

Anoniem ·

Weet nie waaroor al die bohaai van n graad nie. Baie van die anc se mense het nie eens matriek nie maar hulle is in bestuurs poste en hoekom n grad he as die man heel bekwaam is in wat hy doen agnee Malema en kie weet dat jy jou kwalifikasies kan koop so wat is nuut niks. Ons moet nou ook net rustig raak en terug sit want tussen die anc,da,eff en blf is hulle besig om mekaar te verwoes. Lekker man lekker vlek almal se korrupsie oop.

Jerry ·

Vanaf die dag wat Unisa se EFF meeloper akademici grade lings en regs begin toeken het aan die EFF het vrae oor die geldigheid daarvan ontstaan. By die EFF bestaan daar geen grense en daarom ook geen standaarde. Onder die huidige korrupte omstandighede moet die EFF maar eerder stilbly oor kwalifikasies voordat iemand uitspring en bewys dat hulle eintlik net bywoning sertifikate moes ontvang. Dit is n feit dat regstellende aksie (dit beteken voorheen benadeeldes word bevoordeel) reeds nesgeskop het in alle sfere van die samelewing en universiteite en akademici is reeds aktief hierby betrokke. Die EFF kwalifikasies beteken minder as Steenhuisen se matriek kwalifikasie en kursusse wat hy eerlik en hardwerkend deurloop en bekom het.

alida ·

Mens het nie graad nodig om slim te wees of gesonde verstand te he nie. Ek het al mense ontmoet met grade wat geen sinvolle gesprek kan voer of enigiets weet wat in die wereld aangaan nie. Hoeveel van ons sogenaamde ministers het hoegenaamd nagraadse kwalifikasies? Mr Ramaphosa het darem ‘n LLB wat ek van weet maar die res is net daar.

ZAR ·

Baie dankie vir hierdie berig, ek sal baie eerder wil sien hoe die eff in die bek geruk word as om heeltyd hul kant van die storie te sien.
Ek bevraagteken al ons land se toekenning van grade vir ‘n baie lang tyd.

ANDRE ·

Hulle het grade soos Mugabe se vrou een het…maar tog laat die graad ouens hul tog inloop en rond ly deur n Leier met std 5…Malema moet net besef n graad is papier wat jy kry deur te leer uit n boek…ondervinding beteken meer as enige graad….en common sense kry jy van gn graad af nie

Al ·

Wie sou ooit kon raai dat hy slegs matriek het? Ek was verbaas, want hy hanteer netelige kwessies met intellek.
Anders as die rooi narre met hul sinnelose geraas – meestersgraad in ekonomie nogal – en juis alles doen om die ekonomie in sy kanon te blaas met anargistiese en intimiderende en destruktiewe gedrag.

Gerhard ·

Bill Gates het ook nie ‘n graad nie, maar hy is meer bevoeg as al die lede en kiesers van die EFF saam.

Willem Grobler ·

Van die grootste dwase wat ek ooit gesien het had doktorsgrade en nou met die EFF se gegradueerde kohorte ook die grootste narre.

Jerry ·

Uit n strategiese oogpunt maak dit sin dat daar EFF en ANC lede in die DA geplant is. Dit maak ook sin dat hulle sal begin druk uitoefen met vuilspel om die topposte te bekom. Teen die tyd wat die DA tot verhaal gaan kom sal hulle van bo tot onder reeds verrot het. Die EFF se strategie is juis om meeloper akademici te gebruik om grade toe te ken aan lede wat geoormerk word vir strategiese topposte en vanwaar hulle deur ondermyning en ontwrigting die land onregeerbaar kan maak ten einde EFF ideologie te vestig.

Sê net ·

John het die beste graad wat ‘n mens moet hê vir die werk: – ‘n Ruggraat

Boer ·

Wie sou ooit kon dink dat ons land in so ‘n situasie sou beland? Die blindes regeer nou oor diegene met twee oë. Soos die Bybel sê: “Wee die dag wanneer slaaf koning word”.

Die DA het ook maar verval tot die vlak van die intellektueel benadeeldes. Ek verneem die DA is nou ook ten gunste van onteiening sonder vergoeding. Wat ‘n tragiese tyd in ons geskiedenis.

DeVill ·

Jy kon al lankal ‘n Graad gekry het John, maar vir een of ander rede het jy dit nooit goed gedink om jou vaardighede te bevestig nie.

Sonder enige formele vorm van opleiding of onderig is dit moeilik om erens te kom as jy nie bekend is of ”n paar hoë koppe ken nie. Dit laat te veel geleentheid vir nepotisme toe.

Ek het ook nie dadelik na skool gaan studeer nie, maar ek het altyd geweet dat ek ‘n Graad moet kry.
My graad bevestig tans my vaardighede! Wat bevestig joune, net jou ondervinding?

jakes ·

Die verwerwing van n graad beteken nie veel in SA nie. Baie grade wat in SA verwerf is word in elk geval nie deur eerste wereldlande erken nie. Ek is n sakeman wat 45 jaar my eie besigheid bedryf en ek het menigmaal kamtige slim mense met grade afgekeur om vir my te werk, bloot omdat hulle glad nie die mas sou opkom nie. Boonop het die vereistes om wel n graad te behaal sodanig verslap dat dit deesdae moeiliker is om te druip as om te slaag. As n graad in die nuwe SA nog enige waarde het wil ek weet hoekom onbekwaamheid op senior en bestuursvlak van maatskappye in SA die rede is hoekom ons land se ekonomie in so n benarde toestand is? Van hierdie sogenaamde slim janne met grade kannie eers n behoorlke en insigewende gesprek voer en dit laat my wonder waar en hoe hulle graad gevang het?

lorita ·

John Steenhuien is met graad 1 alleen lag lag nog slimmer as hul almal saam

Nee wat ·

Maak nie saak wié ons is of wát ons posisie in die lewe is nie, integriteit, karakter, wysheid en ondervinding staan onder alle lewensomstandighede heel bo aan die lys van bekwaamheid en betroubaarheid. Dis presies waarvolgens mense jou sal ken en onthou. Al het ek ook wátter kwalifikasies op papier, as mense my sien parlementsittings ontwrig, winkels plunder of universiteite beskadig, weet hulle mos mooi wie ek is onder my gegradueerde klere. Wat beteken daardie hoë kwalifikasies dan vir die samelewing? Skaapsklere kan tog nie van my nie ‘n skaap maak nie. Mense sal my beslis nie respekteer of vertrou nie. Aan die ander kant, as mense wysheid uit my mond hoor en bestendige integriteit in my lewe ervaar, ongeag die rits kwalifikasies (of die gebrek daaraan) in my kas, sal my karakter helder soos daglig wees en mense sal duidelik weet of hulle my kan navolg of nie. Ten spyte van watter kwalifikasies ookal kan mens jou eie naam weggooi met een enkele dwase besluit of met een sin van dwase woorde. Ja, kwalifikasies is belangrik, maar wysheid en integriteit is goud. Daar is mense sonder matriek of skoolopleiding wat uitstaande leiers in hulle gemeenskappe is en was. Sommige daarvan was Dawid, skaapwagter wat koning van sy volk geword het, en ‘n paar vissermanne wat deur Jesus Christus gekies is om die evangelie wêreldwyd te versprei. Die gees of Gees wat ons beheer sê alles.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.