Video: Sterrekundiges krap kop oor meteoor

Die meteoor oor die Suidwes-Kaap. Foto: Twitter via @NathanKrumm

Astronome probeer nog agter die kap van die byl kom nadat ʼn meteoor Woensdagaand oor ʼn groot gebied van die Suidwes-Kaap gewaar is.

Sosiale media het gisteraand omstreeks 20:30 begin gons nadat ʼn helder lig, wat vinnig deur die lug getrek het, van Gansbaai aan die Overbergse kus tot in die Swartland gewaar is, waarna dit met ʼn harde knal ontplof het. Inwoners van die Overstrand het vertel van ʼn swaelreuk wat daarna in die lug gehang het.

Pierre de Villiers, voorsitter van Hermanus se Sterrekundesentrum en adjunkvoorsitter van die Sterrekundige Genootskap van Suider-Afrika (SGSA), het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê Tim Cooper van die SGSA het gevra mense wat die meteoor gesien het, moet die besonderhede met die genootskap op hul webwerf deel sodat hy die baan van die meteoor kan rekonstrueer.

De Villiers sê dis “te toevallig om te glo” twee meteore het die atmosfeer op min of meer dieselfde tyd oor die Suidwes-Kaap binnegekom. “Maar dis ʼn lang afstand – seker so 150 km soos die kraai vlieg – van Hermanus tot Malmesbury, waar beeldmateriaal met ʼn kringtelevisiekamera op ʼn plaas opgeneem is.”

Ons is taamlik seker wat ons gisteraand oor die Wes-Kaap gesien het, was inderdaad ʼn meteoor.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap sê sy ondersoek na die verskynsel duur voort. “Maar ons is taamlik seker wat ons gisteraand oor die Wes-Kaap gesien het, was inderdaad ʼn meteoor.

“Dit het blykbaar in die atmosfeer uitgebrand aangesien geen impak in hierdie stadium bevestig is nie. Ongelukkig is dit weens die klein grootte daarvan deur geen teleskoopwaarskuwingstelsel raakgesien nie.”

Die meteoor moes die aarde se atmosfeer teen ʼn taamlik lae invalshoek binnegekom het, meen De Villiers; daarom was dit so duidelik sigbaar en die slag so hard toe dit uitgebrand het. “Van die foto’s wat ek gesien het, het dit basies ontplof voor dit die grond getref het.”

Mense van die Overstrand tot in die Swartland het gerapporteer hul huise se vensters het gerammel toe die meteoor oortrek. De Villiers sê ʼn mens kan dus aflei dit moes baie laag oorgetrek het of groot gewees het.

Hy sê miljarde meteore sweef in die sonnestelsel rond. Net wanneer een teen ʼn betreklik lae invalshoek die aarde se atmosfeer binnekom, kan dit gesien en gehoor word.

Materiaal uit die ruimte in die vorm van klein klippies en stofdeeltjies sak elke liewe dag op die aarde neer.

Prof. Matie Hoffman, wat verbonde is aan die Naval Hill-planetarium in Bloemfontein en klasgee in fisika aan die Universiteit van die Vrystaat, sê materiaal uit die ruimte in die vorm van klein klippies en stofdeeltjies sak elke liewe dag op die aarde neer.

“Oor die algemeen is dit nie gevaarlik nie. Dis redelik seldsaam dat iets uit die ruimte skade veroorsaak aan lewende of nielewende dinge,” sê hy.

Beserings kom selde voor, maar elke dekade of wat word mense wel beseer wanneer die skok van ʼn meteoriet ruite laat bars en mense deur glasskerwe beseer word. “Nagenoeg een maal elke eeu is daar ʼn groter impak van ʼn meteoriet of selfs ʼn stuk van ʼn komeet, maar dikwels verbrokkel dit in die atmosfeer.”

Hoffmann sê omdat die aarde so groot is, is die kanse skraal dat ʼn noemenswaardige meteoriet ʼn digbewoonde gebied sal tref, maar oor eeue heen kan groter ekologiese rampe voorkom wat met lewensverlies gepaard gaan. “ʼn Meteoriet kan byvoorbeeld in die see neerstort en ʼn tsoenami veroorsaak.”

Die Hoba-meteoriet is wat oorgebly het nadat die meteoor verbrokkel het.

Die Hoba-meteoriet wat die aarde miljoene jare gelede met ʼn geweldige slag sowat 20 km wes van die huidige dorp Grootfontein in die noorde van Namibië getref het, is die grootste bekende meteoriet. “Dis maar wat oorgebly het nadat die meteoor verbrokkel het,” sê Hoffman.

In dié geval was daar grootskaalse verwoesting weens hitte, stof en skokgolwe wat ʼn ramp sou veroorsaak het. Dit was ook die geval weens die bolied (uiters helder meteoor) wat die huidige Vredefort in die Noord-Vrystaat getref en die naasgrootste impakkrater op aarde veroorsaak het.

“Dit kon gepaardgegaan het met die direkte vernietiging van lewe vir honderde kilometers daaromheen,” sê Hoffman.

Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is ʼn meteoor, oftewel ʼn verskietende ster, “enigeen van ʼn ontelbare hoeveelheid klein partikels of brokkies materie in die sonnestelsel wat veral snags sigbaar word wanneer dit die aarde se atmosfeer teen ʼn hoë snelheid binnedring en [so] wrywing veroorsaak waardeur ʼn gloeiende ligstreep nagelaat word.”

ʼn Meteoriet is ʼn “meteoor wat die vernietigende uitwerking van atmosferiese kragte weerstaan en in een stuk of kleiner fragmente die aardoppervlakte bereik.” Die verskynsel Woensdagaand oor die Suidwes-Kaap is dus ʼn meteoor omdat dit ontplof het voor dit die grond kon bereik.

Hierdie kringtelevisie-beeldmateriaal is 20:15 op ‘n plaas naby Malmesbury in die Swartland geneem.

Meteorite explosion in atmosphere over Western Cape this evening

CCTV video recorded of a meteorite at 20h15 from a farm near Malmesbury. Sightings, a loud explosion, windows rattling were reported.

Posted by Hermanus Astronomy Centre on Wednesday, January 16, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Paul ·

Wat dan van die mense wat in die omgewing was en berig het hulle het ‘n slag gehoor? En dan is ek bekommerd as ons astronome beduie hulle probeer nog agter die kap van die byl kom. So bevestig die SA Nasionale Ruimteagentskap ewe eens dat hulle nog besig is met die ondersoek, maar dat hulle taamlik seker is dat dit ‘n meteoor was. Behoede ons as ons in gevaar moet wees van ‘n ruimteliggaam.

Gert ·

Ek is self deur die wind. In die tweede paragraaf sê hulle tog die mense het ‘n harde knal gehoor, maar verder ondertoe se die SA Nasionale Ruimteagentskap dat dit waarskynlik in die atmosfeer uitgebrand het. Nou hoe nou?

Veritas ·

Kwaaitjie ek stem heelhartig met jou saam. Die ouderdomsbepaling wat wetenskaplikes die wêreld instuur, is gebaseer op onbekende veranderlikes en kan geensins as maatstaf gebruik word nie. Dit is bloot ‘ n duimsuiery.

My Jinne! ·

En as ons nou vooraf gewaarsku was, wat sou ons doen? Weghol? Ek sou reken as die Vader wou hê ‘n meteoriet moet jou platval sal dit so gebeur my ou maat. Ons het ander baie groter worries in hierdie ou landjie van ons. Die kanse dat iemand jou met ‘n baksteen van ‘n oorbrug af peper is baie groter.

Interstellar ·

Dit is baie interessant. Dankie vir die artikel. Wat is ‘n verskietende stêr dan? Ons ou planeetjie is maar bitter klein in vergelyking met die oneindige kosmos waar oneindig meer as triljoene ander planete en sterrestelsels is en die oneindigheid van die kosmos in ondenkbaar want daar is nie einde nie. Lewe in ander sonnestelsels wat ontelbare ligjare van die sonnestelsel is waaarin ons onsself bevind is dus nie vergesog nie. Ek lees elders dat China die eerste katoensaad op die Maan ontkiem het. Dit kan verrreikende gevolge inhou vir die wêreld soos ons dit ken op die aarde binne die sonnestelsel waarin ons onsself bevind maar nutteloos wees vir die triljoene ander sonnestelsels daar buite in die kosmos.

Stoffel ·

‘n Verskietende ster is niks anders as ‘n meteoor nie.

Oom Jaap ·

Fiela, volgens die berig lyk dit nie asof daar impak was nie, en dit is dus ‘n meteoor.
Hubblesite.org gee die volgende definisie:
“A meteor is the flash of light that we see in the night sky when a small chunk of interplanetary debris burns up as it passes through our atmosphere. … If any part of a meteoroid survives the fall through the atmosphere and lands on Earth, it is called a meteorite”

Andre Stander ·

Harde knal, swael reuk – ek dink een van die wolk gode het dalk n glipsie gehad…

WCG ·

Ag nee, Morné!
Dit was nie ń ‘meteoor’ nie. Die regte afrikaanse woord is meteoriet.

PaulV ·

Ag nee, WCG!
Dit WAS ‘n meteoor; lees die tweedelaaste paragraaf.

Gideon ·

Meteoor = as dit in die lug is , Meteoriet as hy op die grond le. Die knal / slag wat die mense gehoor het is die klank wat die meteoor maak as hy deur die klankgrens breek , soos in Rusland verlede jaar.

Morné van Rooyen ·

Dagsê WCG,
Soos ons in die berig geskryf het, het die meteoor nie die aarde getref nie, maar in die lug ontplof. ’n Meteoor word eers ’n meteoriet wanneer dit op die grond val.
Groetnis,
Morné

Chris ·

Aha, baie dankie Morné ook van my, dit spaar my om te Google. Het dit baie interessant gevind.

De Villiers ·

Ek wonder teen watse spoed tref ‘n meteoor die Aarde se atmosfeer?

Alex ·

Ek en my seun het ook “iets” woensdag aand by die Stellenbosch vliegveld gesien. Dit was tussen 20h00 en 20h10. Ek het ongelukkig nie die tyd dopgehou nie. Dit het gelyk soos iets wat wit warm is en het baie naby aan die grond uitgebrand. Ek het na die tyd gedink – gelukkig het dit nie die veld aan die brand gesteek nie. Ek wonder of dit dalk ‘n fragment van dieselfde voorval kon wees?

ZAR ·

Ons was gelukkig om dit te sien en ons bly in mpumalanga. Dit was ‘n paar sekondes sigbaar en ons kon duidelik sien hoe dit in twee verander en verdwyn. Dit was so 8uur nm. Pragtig.

Manie Brynard ·

Ek betwyfel die aanname dat die meteoor uitgebrand het. Hoe kan iets wat uitgebrand het ontplof?

Kallie Grafie ·

In 1974 het my ma se neef, `n uitgebrande myner, in die verkeershof in Potchefstroom ontplof. Al wat van hom oorgebly het, was `n stukke van een been.

Helena ·

Ek het na 20h00 ñ lig gesien en gedink dit is weerlig, maar ek besef nou ons het reën of swaar weer gehad nie. Kon dit die Meteoor gewees het? Rustenburg

Dellie ·

….die aarde miljoene jare gelde….rêrig? Die aarde is maar 6 000 jaar oud!

John ·

Rerig? Sê jou Bybel so? Die mensdom gaan ten gronde agv a gebrek aan kennis.

Jef ·

Dellie nou wanneer het jy uit die lug geval
Daar is n gedeelte van n skelet van n mensagtige gevind wat 50000 jaar oud is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.