Studentebetogings: 21 UV-studente vas

Foto: Argief

Foto: Argief

Altesaam 21 betogende studente en kontrakwerkers van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Donderdagaand agter tralies geslaap nadat hulle vir onder meer openbare geweld op die kampus in Bloemfontein in hegtenis geneem is.

Kons. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê ʼn groep betogende studente en werkers het omstreeks 16:30 naby die hoofhek van die universiteit begin saamdrom om terugvoer van die universiteitsbestuur te kry oor talle eise wat die betogers gerig het.

Die groep studente wat vandeesweek bedrywighede by die kampus tot stilstand gebring het, het Woensdag in ʼn memorandum onder meer geëis dat prof. Jonathan Jansen onmiddellik as rektor en visekanselier moet bedank.

Die groep het verder geëis dat die “transformasie- en dekoloniseringproses” op die kampus bespoedig word, dat die standbeeld van oudpres. MT Steyn verwyder word en dat die geboue op die kampus hernoem word na swart struggle-helde. Daar word ook geëis dat 70% van koshuisinwoners swart moet wees en dat studente se sosio-ekonomiese status die hoofoorweging moet wees in die plasing van studente in koshuise.

“Die groep was nie tevrede met die terugvoer oor hul eise van die kampusbestuur nie,” het Nkabi gesê. “Hulle het ʼn staande hofbevel verontagsaam en toegang tot die kampus bekom en begin om die standbeeld van oudpres. MT Steyn en ander eiendom te beskadig. Die polisie moes ʼn skokgranaat gebruik om die groep in bedwang te bring.”

Sy het gesê 21 betogers is weens openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en minagting van ʼn hofbevel in hegtenis geneem. Hulle verskyn Vrydag in die landdroshof.

Maroela Media het vroeër berig die groep, onder leiding van die studenteraad se president, Lindokuhle Ntuli, het gesê hulle deel in die stryd van die kontrakwerkers wat ook vandeesweek op kampus teen die uitbesteding van dienste betoog het. “Die geveg van die werkers en die studente is natuurlik geïntegreer. Studente kan hulle nie distansieer van die werkers se geveg nie,” het die groep in die memorandum gesê.

Die groep betogers het vroeër die week erge skade op die Kovsies-kampus aangerig, dermate dat die kampus vir die res van die week moes sluit. Eiendom is beskadig, vensters is gebreek, vullisblikke is omgegooi en die standbeeld van CR Swart is afgebreek. Hulle het ook amok tydens ʼn Varsitybeker-wedstryd gemaak.

Deel van die groep se eise is egter dat geen stappe gedoen word teen enige student of werker wat aan die betogings deelgeneem het nie. “Die Shimla-park-voorval moet onafhanklik ondersoek word en alle studente wat betogers aangerand het, moet aan die pen ry,” het die groep gesê.

Jansen het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie gesê hy is teleurgesteld dat sommige werkers en “ʼn klein groepie gelei deur die SR-president” besluit het om te betoog aangesien die universiteit al sedert verlede jaar onderhandelinge voer om aan die twee groepe se eise te voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gerrit van Wyk ·

#LindokhuleNtuliMoetVal.
Hy is die angel in die vlees en die opstoker.
Geen vrede sal heers voor hy nie agter tralies sit nie of gekors word as SRC.

Anesta ·

Hulle het die Mafikeng universiteit se SRC geskors en ‘n interdik teen hom gekry, nogsteeds het hy op kampus gekom en hulle het dit afgebrand… wat dink jy gaan gebeur as hulle hierdie arrogante mannetjie skors… Hulle wil die universiteite afbrand, hulle doel is om die land onregeerbaar te maak, hulle begin by die universiteite, volgende brand hulle die parlement… Dan sommer Eskom, hoekom nie…

Gideon Roos ·

Kom ons wees eerlik, dis nie as of die afbrand van Eskom veel verskil aan ons krag toestand gaan maak nie.

D ·

Lekker. Jy breek af, maar soek dafelik kwytskelding vir jou dade. Gaan studeer in China en kyk of hulle jounonsens sal opvreet.

Izzy ·

Stem saam met Gerrig….LindokhuleNtuleMoet VAL.

Hulle eis dat geen stappe geneem word teen studente wat afbrand, skade berokken, studie-tyd ontwrig, mense aanrand ens ens ens nie…..Waar dit so erg was dat die buurtwag van die studente moes kom ontruim uit hulle koshuise omdat studente bang was……..

MAAAAAR…..hulle eis dat daar opgetree word teen die boere-seuns wat opgestaan het by die Shimla-park wat betogers ‘aangerand’ het???????

‘This can ONLY happen in Africa’.

D ·

Lekker. Jy breek af maar vra dadelik kwytskelding vir jou dade. Gaan studeer in China en kyk of hulle jou nonsens gaan opvreet.

Anoniem ·

Hulle gaan loskom…om net weer te verniel…Kyk gerus die houding in enige plek/werksplek/restaurante……Wonder wat sal gebeur as ons net eenvoudig vir n week al ons besighede sluit of wegbly van werk geen diens lewer aan hulle……dalk moet ons dit begin doen…..oog vir n oog……………tand vir n tand

Sê maar net ·

Die SR voorsittertjie swot Regte. Interessant! Ek reken dat daar alreeds erens ‘n regsgeleerde in die Rosestad is wat kyk of daar nie miskien aanklagte van haatspraak teen die waarde heertjie gelê kan word nie, na aanleiding van sy sosiale media uitsprake. As hy skuldig bevind kan word, is die meneer se regsloopbaan ook op die langebaan geskuif. Maar die land het straatveers ook nodig, nie net professionele oproermakers nie.

Die studente en die UV raad is al klaar besig om te probeer om die rakker te skors deur middel van ‘n mosie van wantroue deur die studente, vir sy aanhitsing tot rassegeweld en sy haatspraak op sosiale media. Soos die Smorenberg knapie op Stellenbosch gesê het, Google lieg nie, wat jy soek sal jy kry en jou elektroniese verlede word nie uitgevee nie. Sy kollegas in die SR stem ook nie met hom saam nie, maar hy het verklarings op amptelike UV-SR briefhoofde uitgereik asof almal met sy radikale rassisme saamstem. Hy is by elke oproertjie die voordanser en aanhitser, selfs by die C R Swart- en M T Steyn gevalle was hy daar. Hy kla die SAP neem nie wit studente in hegtenis nie, maar daar is nie enige wit studente op die kampus nie. Net hy en sy mede-belhamels wat daar rond hang en afbreek, of te wel de-koloniseer. Dis ongelukkig die tipe mens wat leiding neem by die tipe aktiwiteite.

pop ·

Elke standbeeld van ons wat so verniel word, moet ons maar een van hulle sn dieselfde aan doen. Mens mag mos maar, want ek sien nie dat enigeen iets oorkom vir vandalisme nie.

Veritas ·

Die kinders kry te veel prominensie in die media en dit is hoekom hulle nie ophou aanjaag nie. Ignoreer die niksnutte en hulle sal ophou.

Annalie ·

Dis verregaande dat duisende studente, ongeag kleur, se studies ontwrig moet word deur ‘n paar stout kinders wat nie hul sin kry nie. Toegewings gaan nie help nie-more eis hulle net nog ander belaglikhede!

Annalie ·

Dis belaglik dat duisende studente, ongeag hul kleur, ontwrig moet word deur ‘n paar stout kinders wat nie hul sin kry nie. As daar aan eise toegegee word, gaan hulle more net meer belaglikhede eis!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.