Video: Swaar reën lei tot kitsoorstromings in Bloem

Oorstromings buite die Windmill Casino. (Foto: Chris van Heerden/ Facebook)

Die suide van Bloemfontein het Woensdag onder hewige reënbuie deurgeloop wat plek-plek tot kitsoorstromings gelei het.

Hoewel foto’s en video’s van oorspoelde strate in Bloemfontein en water wat soos riviere deur tuine loop wyd op sosiale media gedeel word, blyk dit dat dié swaar reënval en oorstromings net in ʼn gedeelte van dié Vrystaatse stad voorgekom het.

Die Checkers in Fleurdal asook die Windmill Casino het volgens inligting op sosiale media veral onder swaar reën gebuk gegaan.

Volgens Storm Report SA is die Checkers-inkopiesentrum in Fleurdal beskadig tydens die stortvloed. Maroela Media verneem dat dié winkel Woensdagmiddag ontruim is toe die dak begin lek het.

Storm Report bevestig verder dat die Bloemspruit dreig om te oorspoel ná die reën.

Volgens Sipho Towa, woordvoerder van die Vrystaatse nooddienste, is nooddienste Woensdag omstreeks 16:00 ontbied na twee ongelukstonele wat veroorsaak is deur die swaar reënval. Dié botsings het onderskeidelik in Dr. Belcherlaan naby die Pelonomi-hospitaal en Memoriumweg in die stad plaasgevind.

“Albei was gelukkig nie ernstige botsings nie en die beseerdes het ligte beserings opgedoen,” sê Towa.

Oorstromings buite die Windmill Casino. (Foto: Chris van Heerden/ Facebook)

Volgens Towa is die situasie tans onder beheer en nooddienste staan gereed vir enige noodgevalle wat deur die reën veroorsaak kan word.

Elanie Heynecke, ’n voorspeller by die Suid Afrikaanse Weerdiens, sê reënbuie en donderbuie kan tot Saterdag in die Rosestad verwag word waarna die weer sal begin opklaar en temperature geleidelik sal styg.

Hoewel sommige dele van die Rosestad onder hewige reënval deurgeloop het, het ander plekke aansienlik minder reënval gekry. Johan Pottas, ’n inwoner van Universitas, het aan Reënval SA gesê daar het 30 mm reën binne 30 minute in dié buurt geval.

Bloemfontein Courant berig 65 mm reën het in Fichardtpark geval, terwyl daar maar 2 mm reën in by Wild Olive Estate in die noorde van die stad gemeet is.

Weens die wisselvalligheid van die reënval in die verskillende gebiede in Bloemfontein is dit vir die Suid-Afrikaanse Weerdiens moeilik om te bepaal presiese hoeveel reën in die stad geval het. Heynecke sê daar het na raming ’n gemiddeld van 19 mm reën oor die stad geval.

“Dit beteken natuurlik nie dat daar nie in sommige gebiede baie meer reën geval het nie. Dit is net ’n gemiddelde skatting van die reën oor die hele stad,” het sy verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

IK ·

Verstopte stormwaterpype help natuurlik die oorstromings aan want jaarlikse skoonmaak word nie gedoen want dit is onderhoud wat ‘n vloekwoord is.
Die verskil in reënval in die gebiede laat my dink aan die twee boere wat met plant-/ploegtyd by die grensdraad tussen hulle gestaan en gesels het. Die weer was aan die opsteek en reën was aan die kom. Droogweg sê die een vir die ander: ‘Ek dink jy moet maar deur die draad kruip na my kant want jy gaan aan jou kant sopnat reën . . . ‘

DeVill ·

Dit is mos hoe dit moet reën in Bloemfontein!

Ek onthou van my eerste jaar dae af dat Bloemfontein oorstroom as dit hard reën.
Ek onthou ook hoe dit vir ‘n week aan een gereën het.
Dit was vir baie lank weg en nou, nou is dit weer terug!
Ek is so bly vir die reën, maar jammer vir die wat skade gekry het.

…al die reën het die riool pyp by my huis verstop en my hele erf agter is vol ander mense se riool agv hiervan.
Ek net bly my karre is ok!

KAKtus ·

Nou watter kant van die stad bly die gelowiges, die wat baie reen gekry het of die wat bietjie reen gekry het. ?

cor ·

Die stormwater dreinering word mos landswyd deur skoonmakers gebruik om die straat vullis in te vee. So word die kleintjies se gebruikte pampers ook daar in weg gegooi. Geen wonder die strate oorstroom nie.

Maljan ·

Stormwaterslote en afvoerpype wat (nes oral in SA ) nie skoongemaak of instand gehou word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.