Video: Sweet, bloed en blase is troutrek-wenresep

(Foto: Verskaf)

Báie sweet, bloed en blase. Dít is wat Laerskool Buffeljagsrivier vanjaar gehelp het om skoonskip by die Suid-Afrikaanse junior toutrek-kampioenskap te maak.

Dié laerskool op Swellendam het vanjaar met byna ál die goue medaljes by die kampioenskap weggestap. Die kampioenskap het van 14 tot 16 Maart in Kimberley plaasgevind. Voorwaar ʼn merkwaardige prestasie vir ʼn skool met net 150 leerders.

“Werk maak sterk” is ongetwyfeld ʼn gepaste uitdrukking om dié 24 leerders se deursettingsvermoë tydens hul voorbereiding en deelname te beskryf. Ongeveer 1 500 leerders van laerskole reg oor die land het in verskillende gewigsklasse deelgeneem. Buffeljagsrivier se span het egter ver bo die res uitgeblink, “omdat opgee doodeenvoudig nie deel van ons woordeskat is nie”.

Só sê Braam van Vuuren, hoof van Laerskool Buffeljagsrivier, wat saam met Edward Fritz en De Villiers Swart die toutrek-span sedert Oktober verlede jaar vir dié uitmergelende uitdaging voorberei het.

(Foto: Verskaf)

Hulle het elke week agt uur lank omtrent bloed gesweet tydens oefensessies en moes ook vir ses maande ʼn spesiale dieet volg om aan die gewigsvereistes van die kampioenskappe te voldoen.

Van Vuuren het aan Maroela Media vertel hy het altyd gedink 400 m hekkies is een van die moeilikste items op die sportveld, totdat hy verlede jaar by toutrek betrokke geraak het. Hy sê hy besef nou dat geen sportsoort ʼn persoon se krag en uihouvermoë soos toutrek beproef nie.

(Foto: Verskaf)

“As ʼn sportman in murg en been kan ek vandag vir jou met alle eerlikheid sê daar is nie ʼn sportspoort   waaraan kinders soveel ure spandeer nie. Hulle hande raak vol blase en later eelte, hulle hande bloei, dit is ʼn ongelooflike kompeterende sport en regtig rof.

“Maar om te sien hoe hierdie leerlinge se harde werk vrugte afwerp, was ʼn merkwaardige belewenis,” sê Van Vuuren trots.

(Foto: Verskaf)

Altesame 18 seuns en ses dogters van Laerskool Buffeljagsrivier het aan die kampioenskap deelgeneem.

Van Vuuren sê daar was net een item waaraan die laerskool nie kon deelneem nie: Die item waar slegs dogters in die span moet wees.

“Dit was die enigste goue medalje wat ons nie kon wen nie. Ons het net ses dogters in ons toutrekspan gehad en ʼn volledige span bestaan uit agt leerders.”

“As ons net nog so twee of drie dogters gehad het wat saam met ons kampioenskappe toe kon gaan, dan sou ons beslis daardie item ook gewen het – want die dogters wat wel daar was, is fenomenaal.”

Volgens Van Vuuren het van die leerlinge in vyf gewigsklasse goue medaljes verower.

Inge van Wyk, Zané Kotze, Nielen de Jager en De Wet van Heerden het aan die 280 kg-, 320 kg-, 360 kg, 400 kg én 440 kg-gewigsklasse deelgeneem en met ʼn goue medalje vir elk van daai items weggestap.

(Foto: Verskaf)

“Dit was baie warm in Kimberley, so dit was ongelooflik straf. Dit was krampe en seer hande – hulle het nét met die een item klaargemaak en dan na die ander item gehardloop om daar ook deel te neem. Hulle was die Vrydag en Saterdag van 08:00 tot 18:30 op die veld besig.”

Van Vuuren sê die uitstappie na Kimberley het die span meer as R50 000 gekos.

“Maar met al die borge van ondernemings in die gebied en die onbaatsugtige ondersteuning van ouers het dit deelnemers maar net R400 gekos om aan die kampioenskappe deel te neem. Ons het van die geld aangewend vir verversings en ʼn lekker uitstappie na Kimberley se groot gat toe.”

Van Vuuren sê Fritz, sy mede-afrigter, is veral die meester van toutrekkery en dat hy baie by dié onderwyser moes leer.

“Ek is regtig bevoorreg. Talle skole en individue staan tou om by hom te leer. Sy afrigting is van onskatbare waarde vir leerlinge wat verder in toutrek wil gaan.

“Hy het klomp geheime tegnieke. Toutrek is ʼn ongelooflike tegniese sport, dit is selfs meer tegnies as krieket en gholf,” sê hy.

(Foto: Verskaf)

“Net soos krieket en gholf kan die manier hoe jy jou arms buig of jou elmboog gebruik ʼn enorme verskil maak.

Hy meen sy span is innoverend en doen dinge so ʼn bietjie anders.

“Ons het ʼn fyn voorspelling wat die ander deelnemers nog nie kon optel nie en ek dink dit is hoekom dit so goed gaan met ons in hierdie sport.”

Dié Afrikaanse skooltjie is 128 jaar oud, maar rekords in die onderwysdepartement se besit dui aan dat formele onderrig reeds voor dit by die skool plaasgevind het.

“Ons is nie ʼn skool nie, ons is ʼn groot familie. Die kinders hier weet nog hoe om net kind te wees en ek dink dit vorm deel van ons wenresep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.