Video: Talle loop glo deur onder slinkse ‘handsakdiewe’

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Drie vermeende diewe wat op ʼn beeldmateriaal vasgevang is waar hulle ʼn handsak reg langs ʼn niksvermoedende restaurantganger steel, het vermoedelik talle ander slagoffers in die verlede geteiken.

Die beeldmateriaal is sedert die voorval op 29 November by Roco Mamas in die Centurion Lifestyle-sentrum plaasgevind het, wyd op sosiale media gedeel. In die video kan gesien word hoe twee vroue die restaurant binnekom en skynbaar doodluiters met hul rûe na die slagoffer staan, voordat een van die vroue blitsvinnig vir die man voor haar die handsak aangee en hulle ongesiens weer uitstap.

Die eienaar van die handsak, Arielle Pieterse, het ná die voorval op sosiale media gesê dit gaan nie oor haar geld of waardevolle items wat gesteel is nie, maar eerder oor die onvervangbare sentimentele goed wat in die handsak was. Pieterse se pa, Genis Pieterse, het later die beeldmateriaal en drie foto’s van die vermeende diewe op sosiale media gedeel en mense gevra om op die uitkyk te wees vir die verdagtes.

Genis se inskrywing is meer as 5 600 keer gedeel en tientalle sosialemediagebruikers het beweer dat hulle ook deur die mense op die foto’s besteel is. Een persoon beweer die drie het haar selfoon in Makro in Silver Lakes gesteel, terwyl ʼn ander beweer haar selfoon is by dieselfde Roco Mamas deur dieselfde drie verdagtes gesteel.

Nog ʼn persoon sê die “diewe” is al jare lank in Brooklyn Mall bedrywig, ʼn volgende sê hulle het in ʼn gimnasium in Eldoraigne ook ʼn selfoon probeer steel en nog een sê die drie het haar selfoon in ʼn winkel in die Cradlestone-sentrum gesteel.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn saak van diefstal ondersoek word, maar het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Sy kon nie bevestig of die drie verdagtes met enige ander misdade verbind word nie. “Ek is bewus van die beeldmateriaal van die voorval, maar totdat iemand in hegtenis geneem is, kan ek nie oor die ondersoek kommentaar lewer nie,” het Huma gesê.

Intussen het Roco Mamas op Twitter gesê sedert die voorval het die restaurant seker gemaak dat alle personeellede op hul hoede is vir enige verdagte optrede. Hulle het ook gesê hulle werk saam met die owerhede om te probeer om die kliënt se besittings op te spoor.

Kyk hier na die beeldmateriaal van die voorval:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Se maar net ·

Regtig! Wie sit in hierdie dae nog hulle handsak agter hulle so oop en bloot neer?

Koos1 ·

Wou ek ook mos weet.
Seker 80% van alle misdaad gevalle kan voorkom of verminder word as mense meer paraad is. Ja ek weet daar gaan mense wees wat se dis my goed, hulle moet dit uitlos, maar mense, ons bly in Afrika. Begin soos ‘n krimineel dink, om jou eiendom veilig te hou.

Alida ·

Niks in SA is normaal nie foxie. Dit is n slagveld en n steel kontrei. Moet geen handsak vat nie druk jou kaart of kontant by jou onderklere in. Dit klink bizar maar hoe anders moet ons maak in n barbaarse land soos SA.

C Simpson ·

Hulle is dekselse kriminele. Kry hulle ook in die hof en ons toi toi buite

Penellope Jones ·

Slinks en steelslim verby!
Dink beter en k slimmer as hulle!
Moenie jou handsak agter jou neersit, of oor die stoel se rugleuning hak, of langs jou op die vloer sit nie.
Mens sien dit oral!

Ancara ·

Niemand sal my vang sonder my handsak nie.As ek en my man gaan uit eet is my handsak soos goud en dit is ook hoe ek dit oppas.Soos goud.

fred ·

Daars geen rede om die onskuldige slagoffers ENIGE skuld te gee nie. Die varke in die verhaal is die gewetenlose skurke! Ek wou baie graag nog iets gesê het ivm hierdie voorval, maar sal dan heel moontlik ook my Kersseisoen agter tralies moet deurbring soos die doodskis 2!

Waarheid ·

Wag maar wil nié eers dink wat wag vir sommige op oordeelsdag…die dag SAL kom vir elkeen ongeag jou taal kleur of geloof. Halleluja.

Trudy Erasmus ·

Daar is ook drie persone – nie ver van daar – by Foodlovers Centurion bedrywig. Hulle het my skoonsuster se sak gegryp. Ek wonder of dit nie ‘n sindikaat is wat daar bedrywig is nie.

E ·

In die nuwe SA is die broeksak of die slingervel jou beste opsie.

Anoniem ·

Waarheid – my oorlede ma het altyd gese “GOD SLAAP NIE”

Anoniem ·

Daardie 2 “shebeen queens” moes “inside info” gehad het oor die handsak wat langs die vrou gelê het, want hulle kon dit nie sien vanwaar hulle die gebou binnegekom het nie. Hulle het presies geweet waarheen om te gaan. Die man wat die handsak ontvang het was moontlik die “spotter”. Kyk ook hoe werk die 2de kelner in groen uniform saam met hulle.

Vroutjie ·

Waar moet mens jou handsak neersit as jy ‘n bietjie kuier? VASKLOU in jou hande die hele tyd? Wel dan kan jy nie eet nie. Ek het my handsak eenkeer teen my voete neergesit onder die stoel en hulle het hom uitgetrek onder my en my beursie uitgehaal en die handsak weer teruggeskuif, so as jy nie ‘n handsak dra nie, moenie ander mense probeer kritiseer nie, dis seker weer ‘n man.

Pieter du Preez ·

Dieselfde het met my vrou gebeur by Craw Daddy in Jeanlaan Centurion ‘n ruk gelede. Ons wag nounog vir die video vanaf die bestuur van Craw Daddy. Hulle het geen hulp gegee. Die geval was dit ook twee vroue wat teen my vrou se stoel gestamp het en net daarna was die handsak gesteel. Wees versigtig mense

sarie van heerden ·

Nie een van die kommentare gelewer bied enige bruikbare “hulp” behalwe om te vertel hoe sleg die krimminele is nie. My raad is dat jy kyk wie sit naby jou of daar is meer as 2 of 3 liggame wat nie soos jy lyk of is nie, vat jou goed en loop erens anders heen.

Tippie ·

Hierdie twee diewe het geloop, nie gesit nie, so as jy sit en iets bestel het en ‘n handsak dief kom vat ongemerk jou handsak op jou stoel langs jou, wanneer presies moes jy opgestaan en geloop het? Beslis ook nie helpful tip van jou kant af nie. Dalk moet mens maar sonder ‘n handsak gaan en jou geld in jou onderklere wegsteek.

neelsie ·

Waarom moet vrouens altyd die hele huishouding saamsleep in n handsak???
Ons het n skouersak gekoop en net die nodigste gaan saam.
Jammer vir die mode-bewustes, julle is n teiken.

Sarie ·

Omdat jou kind nie vir jou ‘n Valoid vra as hy naar is of ‘n Panado as sy kop seer is nie. Omdat jou kind nie vir jou ‘n wetwipe vra as hy gemors het nie. Omdat jou kind nie vir jou ‘n geldjie vra om ‘n balletjie uit die masjien te gaan haal nie, omdat jou kind nie vir jou ‘n tissue vra as sy neus loop nie. VERSTAAN JY NOU HOEKOM ONS ALLES SAAMDRA?

Liza ·

Stem saam Sarie! Ek het ‘n hele apteek in my handsak! Ek is verlore daar sonder!

Jane ·

Wat vir my skokkend is, is kyk hoe NETJIES is die twee vrouens aangetrek, goeie juweliersware aan, goed aangetrek, goed versorgd, en wragtie waar hulle sien dit gepas om iemand wat niksvermoedens sit en ietsie drink en eet se handsak te steel nie. Maar ek moet ook se dit is opmerklik hoe hulle spesifiek na die plek beweeg waar die handsak lê, hoekom het hulle nie eers gesit en iets gedrink om rond te kyk nie? Die mense wat my beursie gesteel het, het agter ons gesit met haar stoel teen my stoel se rugleuning .. ook twee vrouens, netjies aangetrek, hulle het ‘n koeldrank sit en drink, en ons het iets geeet, toe ons klaar geeet het en ek my beursie wou uithaal om te betaal, is my beursie weg. Romans Lynnwood. Niemand het ‘n saak met jou of met kameras nie, die waiter het gese hy het die twee vrouens gesien uitloop, verder niks nie. Jy kry GEEN hulp van die restaurant bestuurders of eienaars nie, hulle is nie eers bereid om vir jou die opname te wys nie, so ja . mens moet maar klou aan jou handsak of jou handsak in die kar los, en die geld gaan uithaal as jy wil betaal.

Willie E ·

Ja nee….hoekom is ek nie verbaas oor wat my vermoede was voor ek die video gekyk het nie. Ek is geensins verbaas nie…my vermoede was 100% korrek…

wilma ·

Ek probeer om sover moontlik altyd ‘n handsak met ‘n redelike lang skouerband te gebruik. Wanneer ek plaasneem, draai ek die skouerband een of twee keer om my enkel en rus dan my voete op die handsak.

amelia ·

Met my ook gebeur Shoprite Lyttelton ook 2 vroue en man probeer om beursie uit handsak te vat met die gestamp an jou maar gelukkig ek agter gekom Hy het toe my beursie op grond laat val Die 3 toe daar uit by Shoprite As jy n gestamp voel weet maar hul probeer jou besteeel

LOL ·

Ek wil graag nog eendag my handsak so neersit, met die doel dat hulle dit moet steel……. Want binne in sal ek ‘n slang wil insit, hul sal nie weer ‘n handsak steel nie.

Marisa ·

Mense wees op jul hoede want oor Kersfees is dit 20 keer erger!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.