Video: Talle pylsterte in getypoel vasgekeer

Skermskoot uit die video.

ʼn Groot aantal pylsterte was Maandag in ʼn getypoel in Strand, Kaapstad, vasgekeer nadat hulle moontlik van roofdiere gevlug het.

Die Two Oceans-akwarium-onderwysstigting het beeldmateriaal van die tientalle arendpylsterte op sosiale media gedeel.

In die video kan gesien word hoe dié diere in die poel rondswem, maar nie in staat is om te ontsnap nie.

Die stigting het die volgende dag ʼn span kenners saam met owerhede van die Stad Kaapstad na die getypoel gestuur om ondersoek in te stel.

“Toe die kenners op die toneel aankom, was dit hoogwater en daar was aansienlik minder pylsterte as wat op die video gesien kan word,” lui die plasing op sosiale media.

“Dit is moontlik dat die pylsterte die getye gebruik het om die poel binne te kom en weer te ontsnap.”

Volgens die stigting gaan pylsterte dikwels na getypoele op soek na kos, maar aangesien dié groep pylsterte meestal jongelinge was en dus makliker deur roofdiere geteiken word, is dit moontlik dat hulle in die poel weggekruip het.

Volgens die akwarium is die meeste pylstertspesies nie gevaarlik vir mense nie. Hoewel hulle ʼn angel het, word mense dikwels heel toevallig beseer, soos wanneer hulle per ongeluk op ʼn pylstert trap wat onder die sand begrawe is.

“Ons is bly dat die situasie vinnig onder beheer gebring is, maar die stigting sal voortgaan om die poel te monitor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.