Video: Taxidrywer vas ná voorval met moersleutel

‘n Skermgreep uit die video.

’n Taxibestuurder is in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n motoris se voorruit met ’n moersleutel in Annlin noord van Pretoria stukkend geslaan het.

Ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die taxibestuurder is Sondag op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in hegtenis geneem ná die voorval wat Vrydag op die hoek van Lavenderweg en Boragelaan plaasgevind het.

’n Video van die voorval word sedertdien wyd op sosiale media versprei.

Volgens Van Dyk was die taxi in ’n botsing op dié hoek betrokke. In die video kan gesien word hoe ’n man ʼn motorruit met ʼn moersleutel stukkend slaan. Die man begin dan wegstap voor hy omdraai en die motor se enjinkap probeer slaan. ’n Vrou probeer keer, waarna die man omdraai en terugloop na die taxi.

Dit is in die stadium nog nie duidelik of die ander motor in die botsing betrokke was en of die motoris net op die toneel stilgehou het nie.

Volgens Van Dyk is dit ook nog nie duidelik wat tot die uitbarsting aanleiding gegee het nie hoewel padwoede in dié stadium vermoed word.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Scalla ·

Arogante taxi drywers wat maak net wat hulle wil, mag daar n voorbeeld van hom gemaak word.

Oumie7 ·

Dit is jammer dat n persoon wat elke dag honderde mense vervoer in n padwoede aanval betrokke sal raak.

Corne123 ·

mooi man hoop hy gaan biedjie sit al probleem is sy regspan gaan nou aanvoer hy geteister en seker ook weer die rasis kaar trek sal intresand wees om te sien wat hier gebruik hou ons op hoogte maroela

Adele ·

Die ou het dit nie net die een keer gedoen nie. Ek is van die area en weet van een soortgelyke voorval waarin hy betrokke was. Sou nice gewees het as hulle hom dieselfde behandeling as die doodskis twee kon gee, maar nie moontlik in SA nie.

Leonie ·

Daar sal soos gewoonlik niks van kom nie. Taxi bestuurders besit mos die pad. In Kempton is dit veel erger. Maak sommer hulle eie bane en die Polisie en Metropolisie los hulle. Word seker gebribe….

Wondermaarnet ·

Kom kyk hoe lyk Parow in die Wes-Kaap. Taxis regeer die pad en maak soos hul wil. Nie eers die verkeersbeamptes doen iets nie en ry net verby.

Michael ·

Ek is bly die polisie het opgetree en nou hoop ek net dat geregtigheid sal seëvier en die aanvaller sy straf gaan kry.

Pieter J ·

Hierdie is nie net padwoede nie maar ook arrogansie. Taxidrywers is so arrogant dat daar nie woorde is om dit te beskryf nie. Hulle dink hulle is bo die wet verhewe en kan doen net wat en waar hulle wil. Ek sien daagliks voorbeelde hiervan.

Leon ·

Onthou net, taxi bestuurders is bokant die wet. Dit is baie selde dat hulle vervolg word. Die wet is baie simpatiek want hulle is sogenaamde agtergeblewenis.

Thea ·

Die pad behoort mos net aan taxis. Hulle is ongelooflik arrogant en maak net wat hulle wil sonder om vervolg te word. Ek hoop hier kom iets van.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.