ʼn Groep taxibestuurders het Donderdagoggend moles gemaak in Kaapstad en verkeer ure lank vertraag. Die optrede was deel van ʼn staking wat verband hou met die skut van taxi’s.
Die stakings word deur die taxiverenigings Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) en Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta) gelei. Hoewel die nodige toestemming vir die staking verkry is, het die taxi’s glo afgewyk van die beplande roete, wat hewige verkeersprobleme in en om die stad veroorsaak het.
Taxi-eienaars is ontevrede dat hul voertuie geskut word en hulle dan aan “onbillike vereistes” onderwerp word om dit terug te kry.
Die groep het vroegoggend die N2 na Kaapstad versper en het teen tyd van publikasie reeds die middestad betree. Volgens JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, was daar berigte van intimidasie en aanvalle op voertuie deur taxibestuurders.

Die stad se dienste probeer tans die omvang van die skade te bepaal wat vanoggend aangerig is (Foto: Verskaf)
“Wetstoepassingsdienste vestig al hul aandag op paaie in en om die middestad waar erge verkeersprobleme ervaar word,” het Smith gesê.
Smith sê Cata en Codeta het die nodige goedkeuring van die Stad Kaapstad verkry vir die optog, maar volgens hom was die goedgekeurde roete egter vanaf Hanoverstraat na die provinsiale wetgewer in Waalstraat.

Taxi-eienaars is ontevrede dat hul voertuie geskut word en hulle dan aan “onbillike vereistes” onderwerp word om dit terug te kry (Foto: Verskaf)
“Die ontwrigting van verkeer wat deur die groep veroorsaak word, is ongeregverdig en kan nie geduld word nie.”
Die stad se dienste probeer tans die omvang van die skade te bepaal wat vanoggend aangerig is.
Lede van die gemeenskap word aangeraai om enige noodgevalle by die stad se openbare noodkommunikasiesentrum aan te meld deur 021 480 7700 te skakel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
21 Kommentare
Kon hul nie eerder staak, omdat die brandstof prys te hoog is nie.
Ha ha ha – die taxis regeer SA….. Grootste grap van die jaar. Staak en kry jou sin, met die skedonke..
Die eindproduk van die ANC en Mbalula se onvermoë om op te tree teen die wetteloses en hulle unies. Julle “ja en amen” mos met alles. Self die lat gepluk en julle beter wakker skrik Mbalula, hulle is te veel vir jou en Cele om te hanteer
Ek hoop regtig die leiers begin om nou minder toe te gee aan almal se eise en by hulle standpunt te bly. Hulle weet die leiers gaan sag raak as hulle goed begin breek en brand en dit is hoekom hulle dit doen. Skud nog meer taxi’s en moenie toegee nie. Hulle moet eens en vir altyd besef hulle kan nie altyd hulle sin kry nie.
Sluit toe en konviskeer die taxi’s. Haal die goed van die pad af en stel ordentlike busdieste daar vir pendelaars. Die Taxi eienaars gehoorsaam in elk geval nie padverkeersreëls og padverkeerstekens nie.
Die Taxi’s is in elkgeval ‘n doodskis op wiele, stel die pendelaars se lewens in gevaar asook mede padverbruikers.