Video: ‘Tornado’ in Velddrif raar, maar waar

Die waterspuier het Saterdag omstreeks 17:00 vir Velddrif getref (Foto: Verskaf)

Die inwoners van Velddrif krap kop oor ʼn waterspuier, ʼn soort tornado, wat dié Weskusdorp Saterdagmiddag getref het. Die voorval het Saterdag skade aan verskeie huise en motors aangerig.

ʼn Waterspuier word deur die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) gedefinieer as ʼn relatiewe klein, roterende draaikolk – wat nes ʼn tornado lyk, maar oor watermassas vorm.

Volgens Johan Moolman, DA-raadslid op Velddrif, is die waterspuier ʼn “rare weerverskynsel”, maar is dit nie die eerste keer dat dit hierdie dorp tref nie. Daar is jare gelede ook só verskynsel in Port Owen in Velddrif aangemeld.

Volgens Moolman het die waterspuier omstreeks 17:00 in Bokkomlaan, reg langs die Bergrivier, toegeslaan. Dit het later in Voortrekkerstraat se rigting beweeg en verdere skade aangerig.

“Twee woonstelle en ʼn huis in onderskeidelik Bokkom- en Voortrekkerlaan se dakke is afgeruk. Grensmure is omgewaai en bome is ontwortel, wat skade aan motors en infrastruktuur aangerig het,” het Moolman bevestig.

Soos die waterspuier meer na die binneland beweeg het, het dit in intensiteit afgeneem, sê Moolman.

Video’s en foto’s van die waterspuier is wyd op sosiale media versprei.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ondersoek die moontlikheid van ʼn waterspuier en sal later in die week ʼn verslag daaroor uitreik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miena ·

Waterspuier… dis nou die 1e keer in my lewe dat ek daardie woord hoor. ek het regtig nie geweet daar bestaan so n woord nie. Dankie vir my woord-les vir vandag.

Cherokee ·

‘n Eerste keer vir my ook Miena. Ek is nuuskiering oor wat in die water swem kort voor die kamera. Dit wat die wit streep golfies maak.

Miena ·

haha Ek ook Cherokee. As n slang-vanger was dit nogal my 1e gedagte “oe oe kyk n slang” en toe is dit nie. Dink dis maar of n stok of dalk weerkaatsing op die water…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.