Video: Trane loop toe Tatjana podium bestyg

’n Oomblik waarop die hele wêreld kan trots wees. Tatjana Schoenmaker het die goue medalje in die 200 m-borsslagitem in ’n nuwe rekordtyd gewen. Foto: Twitter.

In 1996 was daar Penny Heyns in Atlanta. In 2021 het ons vir Tatjana Schoenmaker in Tokio.

Die 24-jarige Suid-Afrikaanse swemmer het vanoggend die wêreldrekord in die 200 m-borsslagitem tot 2:18.95 verbeter om die goue medalje los te swem. Sodoende het sy die rekord van Denemarke se Rikke Pedersen (wat sy in 2013 opgestel het) met 0,17 sekondes verbeter.

Schoenmaker was in ’n titaniese stryd met die VSA se Lilly King gewikkel, maar sy het genoeg petrol in die tenk oorgehad om in die laaste paar meter van die resies na ’n hoër rat oor te skakel.

Sodoende het sy bewys dat ’n sportprofesie nie altyd ’n werklikheid word nie. King het vóór die Spele voorspel dat die VSA ’n uitstekende kans staan om ’n goue medalje in elke liewe swemitem te wen.

Schoenmaker spog met haar goue medalje. Foto: Anton Geyser/SASPA.

“Dit is ’n onwerklike gevoel,” het Schoenmaker vanoggend in ’n impromptu-onderhoud met Martin Bester van Jacaranda FM gesê.

Volgens Suid-Afrika se goue meisie het sy ná haar heldedade in die voorafgaande kwalifiserende rondes nie te waffers gevoel nie. En met “waffers” word hier bedoel nie soos iemand wat toe vinniger as 2:19.00 geswem het nie.

“Let go and let God, is waaraan ek gedink het,” het Schoenmaker erken.

Kaylene Corbett het weer eens ’n persoonlike beste tyd geswem – 2:20.06 beteken dat sy die eindstryd in die vyfde plek afgesluit het.

Kaylene Corbett, Annie Lazor en Lilly King wens vir Schoenmaker geluk. Foto: Odd Andersen/AFP.

“Ek sou bly gewees het om net in die Olimpiese eindronde te swem, maar om vir Kaylene saam met my hier te hê, maak dinge net soveel meer spesiaal.”

Op haar beurt is Corbett ongelooflik trots op haar spanmaat se merkwaardige prestasie.

“Om vyfde by die Olimpiese Spele te wees, is vir my ’n reuseprestasie. Maar om eerstehands te ervaar hoe my spanmaat die wêreldrekord verbeter, is ’n belewenis. Sy is ’n ongelooflike swemmer en vriendin,” het Corbett gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tanniepetoors ·

Pragtige, wonderlike prestasie. Ons almal hier om my is só beïndruk en trots vandag. Baie geluk Tatjana.

Excalibur ·

Ek KAN, Ek WIL, Ek GAAN, EK SAL … WELGEDAAN … DANKIE HERE!!

Nederig, Stil, Trots, Vriendelik & Mooi = Suid Afrika se eie Sport Heldin! Baie Baie Geluk Meisie, Jy verdien dit oor en oor… ons eie “Blou Marlyn” of moet ek liefs se “Blouwater Diamant”!

Bonita ·

Ongelooflike mooi spangees tussen julle twee. Baie geluk met julle prestasies!

Stofpoepertjie ·

Die maak my dag, my maand en jaar n bietjie beter. Fantasties!

piet ·

Baie mooi albei dames. Beide het 2-keer hul persoonlike beste tye verbeter in hierdie item. Jammer Tatjana kon nie die 100m ook wen nie, ek dink as sy terugdink, sal sy dalk spyt wees daaroor veral nadat sy ook die Spele rekord gebreek het in die uitdun in daardie item. Ek wonder hoekom die Amerikaanse tiener nie in hierdie item deelgeneem het nie, vreemd.

Elinette ·

Ek kry hoendervleis, hier waar ek nou agter my rekenaarskerm sit. Dis ‘n werklike, wonderlike “feel good moment”.

Nie Verbaas ·

ANC sal seker CIA Kolisi vereer vir haar uitstekende vertonings.

Esme ·

Tatjana, baie, baie geluk! Ons is so trots op jou en ons prys ons Hemelse Vader vir jou uitmuntende prestasie.
Ek is verheug om te hoor dat Action SA jou geluk gewens het, maar wees verseker, die hele land is baie, baie trots op jou!

Sarel ·

Ek merk die mense wat die Olimpiese Atlete so gekritiseer het is stil….Mooi en geluk aan almal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.