Video: Trane van vreugde toe dokter ná 113 dae in hospitaal sélf ontslaan word

Dr. Gareth du Plessis, sy vrou, Liandi, en hul kinders Liam en Kira-Lee. Gareth was 113 dae in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Altesame 113 dae in die hospitaal – waarvan 86 in die intensiewesorgeenheid, 74 aan ʼn ventilator gekoppel, asook veelvuldige bloedoortappings, nierdialise, longontsteking en Covid-19 – later het trane van blydskap Vrydag vryelik gevloei toe dr. Gareth du Plessis eindelik uit die Unitas-hospitaal ontslaan is.

Die 47-jarige Du Plessis, ʼn spinale chirurg van Mooikloof, is maande lank in dieselfde hospitaal behandel waar hý gewoonlik pasiënte versorg.

Du Plessis is aanvanklik met ʼn dermperforasie opgeneem, maar sy toestand het vinnig verswak. Sy suster, Elmaré Schutte, sê hy moes eindelik tien operasies ondergaan.

Dr. Gareth du Plessis is self ‘n dokter by die Unitas-hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Toe die bloedbanke se voorraad opgedroog het, het kollegas, familie en vriende bymekaargekom om nie net vir hom nie, maar ook aan ander pasiënte in nood bloed te skenk,” sê Schutte.

Du Plessis se vrou, dr. Liandi Freese, sy familie en personeel was deurentyd aan Du Plessis se sy tydens wat hulle “sy ongelooflike reis na herstel” noem. Du Plessis se ma, Maré (72), was self op haar dag ʼn intensiewesorgsuster in die neonatale eenheid by Unitas voor sy afgetree het.

Volgens Freese het haar man polineuropatie, oftewel algemene swakheid, ontwikkel omdat hy so lank bedlêend was.

Schutte sê haar broer se kollegas het nooit opgehou om sy lewe te probeer red nie. Nadat sy toestand in ʼn stadium kwaai agteruitgegaan het, het meer as duisend mense oornag ʼn gebedsketting gevorm om vir hom te bid. En die harde werk – en gebede – het vrugte afgewerp toe Du Plessis Vrydag eindelik ontslaan is.

Gareth, sy ma, Maré en suster, Elmaré Schutte. (Foto: Verskaf)

Hy sal nou minstens ses weke lank intensiewe terapie in ʼn rehabilitasiekliniek ontvang.

Volgens Freese was haar man “uiters nederig en diep geraak” toe almal, van portiere, dokters, terapeute, radiografiste tot verpleegsters en bestuurspanne by die hospitaal saamgedrom het om hul geliefde “Duppie” sterkte toe te wens op sy pad na herstel.

Freese sê Du Plessis is uiters gemotiveerd om ten volle te herstel en sy krag te herwin – nie net sodat hy weer kan begin werk nie, maar veral ook om tyd saam met sy familie en die egpaar se twee kinders, Liam (8) en sy sussie, Kira-Lee (10), deur te bring.

Du Plessis sal nou minstens ses weke lank intensiewe terapie in ʼn rehabilitasiekliniek ontvang. (Foto: Verskaf)

“Alle eer aan ons Hemelse Vader, sy genade en liefde is onbeskryflik groot,” sê Freese.

Du Plessis sal hopelik teen volgende jaar weer sy werk kan hervat.

Schutte sê mense van oor die wêreld het die familie genader nadat hulle van sy ongelooflike herstel te hore gekom het. “Hy is ʼn wonderwerk, ons kan dit nog steeds amper nie glo nie. Ons het nagte om vir hom gebid. Dít is ʼn getuienis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tiptol ·

Fantasties! Wat ‘n wonderlike video. Heeltemal teenoorgestelde van die afgelope paar dae in ons land. Almal saam bly en dankbaar.

Hendrik Marthinus ·

Tiptol
As n ou nie na Dai video n knop in die keel kry nie, weet ek nie of jy bloed in jou are het nie.
Wow die verpleegpersoneel en dokters verdien alle krediet, tesame met almal wat so aanhou bid het.
Yes so lekker om positiewe nuus te sien, na Dae se walglike optredes in ons land.
Sterkte Doc Hoop jy Kan vinnig weer self pasiente reg dokter.

Isabella ·

So bly hy sterk aan. Hy is n fantastiese DR, hy het my seun behandel toe hulle kanker op sy rugstring gekry het en selfs na hy oorhandig is aan die Onkoloog het hy altyd kom inloer om te sien of my seun en ons okay is.
Sal hom en sy geliefdes verseker in my gebede hou.

Karina ·

Dankie vir iets positief na al die negatiewe berigte. Sterkte en herstel verder spoedig.

Lee ·

Wonderlike nuus. Hierdie berig dra ‘n boodskp van hoop. Spoedige beterskap Dokter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.