[Video] Trane vloei toe reeksverkragter gevonnis word

Mzikayise Mkavu in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Die hooggeregshof in Port Elizabeth was Donderdag volgepak waar Mzikayise Mkavu, ʼn 27-jarige reeksverkragter, tot effektief 228 jaar tronkstraf gevonnis is.

Mkavu is vroeër vandeesweek skuldig bevind toe hy skuld op 36 aanklagte teen hom erken het. Die reeks aanklagte het ingesluit 17 aanklagte van verkragting, agt aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, een aanklag van poging tot moord, twee van aanranding, drie van poging tot roof en vyf van roof met verswarende omstandighede.

Daar was 14 klaers in die saak en nege verkragtingslagoffers het tydens die verhoor getuig. Die hofsaal was volgepak en al die vroue wat deur Mkavu verkrag is, het die hofverrigtinge bygewoon om te kyk hoe hul aanvaller tronk toe gestuur word.

Die hof was volgepak tydens die vonnisverrigtinge. Foto: Raahil Sain/ANA

Die aanklagte teen Mkavu spruit uit voorvalle in Kwanobuhle naby Uitenhage wat tussen Julie 2008 en Januarie 2016 plaasgevind het toe Mkavu ʼn reeks vroue in die Oos-Kaapse nedersetting geteiken het. Mkavu het gewoonlik laat in die aand op sy slagoffers toegeslaan wanneer hulle alleen was. Baie van die slagoffers het nie die identiteit van hul aanvaller geken totdat hy verlede jaar in hegtenis geneem is nie.

Regter Mandela Makaula het in die uitspraak gesê dit was tydens die hofverrigtinge duidelik dat pyn en smart oor die gesigte van Mkavu se slagoffers geskryf staan. Van die vroue het littekens op hul gesigte waar Mkavu hulle gewelddadig met gebreekte bottels aangerand het.

Mkavu se DNS het hom met die verkragtings verbind. In een van die brutaalste aanvalle het een van die slagoffers haar oog verloor en moet sy nou ʼn glasoog dra. Sy moet ook antidepressante gebruik en worstel met emosies van woede. Volgens haar is een van die ergste aspekte dat sy verneder voel wanneer haar driejarige kind haar vra wat met haar fout is.

Mzikayise Mkavu in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

“Dít is ʼn klassieke voorbeeld van ʼn reeksverkragter, ʼn hartelose persoon wie se optrede barbaars is. Hy put genot daaruit om sy slagoffers te verkrag, te beseer en te laat bloei,” het Makaula gesê. “Vroue in hierdie land is geregtig daarop dat hul regte beskerm word. Hulle is geregtig daarop om in die strate te loop, inkopies te doen en vermaak te geniet sonder dat vrees en angs die gehalte van hul lewe beïnvloed.”

ʼn Ander verkragtingslagoffer het tydens die hofverrigtinge getuig dat sy sedert die voorval agterdogtig is oor elke man wat sy sien.

Mkavu is tot 228 jaar tronkstraf gevonnis en ʼn bykomende 13 lewenslange vonnisse opgelê. Ná die vonnisuitspraak gelewer is, het die vroue mekaar omhels en trane van verligting omdat geregtigheid geskied het, het oor hul gesigte gestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gevolgtrekking ·

So hy was agttien toe sy ,goed’ hom begin pla het. Ook dit behoort verwyder te word by ALLE verkragters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.