Video: Trokdrywer keer ‘dronk’ motoris op N1: ‘Ek moes hom agternasit’

Zane Small (Foto: Facebook)

Zane Small (Foto: Facebook)

“Toe ek hom op die snelweg teen die verkeer sien jaag, het ek geweet hier kom gróót probleme of ʼn noodlottige ongeluk as ek nie dadelik ingryp nie.”

Só het Zane Small, ʼn Kaapse vragmotorbestuurder, vertel oor sy heldedaad, toe hy ʼn roekelose bestuurder in ʼn luukse sportmotor, wat op die N1 teen die verkeer in gejaag het, agterna gesit en tot stilstand gedwing het.

Die stad Kaapstad het Small, ʼn onafhanklike verspreider vir Golden Crust-bakkerye, Maandag vereer vir dié heldedaad.

Small het Donderdag ʼn potensieel noodlottige botsing op die N1 verhoed, toe hy omstreeks 23:15 ʼn roekelose bestuurder in ʼn luukse sportmotor, wat teen die verkeer in gejaag het, agterna gesit en tot stilstand gedwing het voordat die polisie op die toneel opgedaag het.

Hy het Woensdag aan Maroela Media vertel hy was op pad Kaapstad toe nadat hy vroeër die dag in die Paarl brood moes aflewer. “Ek was moeg ná ʼn lang dag en wou net by die huis kom, maar ek het vinnig wakker geskrik toe ek ʼn Jaguar op die N1, by Plattekloofheuwel, teen die verkeer in sien jaag. Ek het eers net vir hom ligte geflits en my toeter geblaas, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie,” sê hy.

Small sê hy het dadelik geweet daar kan “gróót probleme of ʼn noodlottige ongeluk” kom indien hy nie ingryp nie en daarom die bestuurder van die Jaguar agternagesit.

“Ek het gewag totdat dit veilig was om ʼn U-draai te maak en hom agternagesit. Eers het ek net bly ligte flits en toeter druk, maar toe sien ek hy gaan nie luister nie. Teen daardie tyd het hy reeds byna teen ʼn paar motors gebots. Dit was pure genade dat hy nog niemand getref het nie. Ek wou ʼn noodlottige ongeluk, waarin onskuldige mense kon sterf, keer.”

Small het in die verste baan teen die verkeer gery en sy ligte bly flits om aankomende motoriste te waarsku om uit te die pad te kom.

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

“Ek het 6 km ver agter hom aangery terwyl ek hom probeer stop het. Ek het drie keer daarin geslaag om voor hom in te druk, waarna hy teen my vasgery het, maar toe net weer óm my gery het,” het hy gesê.

Minstens 14 lede van die Kaapstadse metro-polisie het intussen ook probeer om die motoris se voertuig tot stilstand te bring, maar kon nie daarin slaag nie.

Small kon eindelik daarin slaag om die Jaguar net voor Koebergweg op die N1 tot stilstand te dwing toe die motoris eers teen die trok en toe teen die versperring gebots het.

“Die polisie was dadelik op die toneel. Ek het toe eers gehoor die polisie kon die jaagtog op kringtelevisiebeeldmateriaal sien en hulle het gedink ons jaag resies. Hulle het egter naderhand gesien ek probeer hom keer. Ek is net bly ek kon hom keer, want hy kon daardie aand die lewe van ʼn paar mense geneem het, bloot omdat hy dronk was en bestuur het.”

Volgens ʼn verklaring wat die Stad Kaapstad Maandag uitgereik het, is die motoris se alkoholvlak glo op die toneel gemeet en was dit minstens drie keer hoër as die aanvaarbare vlak op 0,69.

Small, wat saam met sy pa verspreidingswerk doen, sê sy ouers was aanvanklik nie ingenome met sy optrede nie. “Ek het hulle dadelik gebel nadat ons tot stilstand gekom het. Hulle het na die toneel gejaag omdat hulle baie bekommerd was. My pa het my eers uitgeskel en gesê ek kon self baie seergekry het, maar daarna het hy gesê hy is trots dat ek so dapper was.”

JP Smith, Kaapstad se burgermeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Maandag ʼn sertifikaat as erkenning aan Small oorhandig. “Ons vereer Small omdat dit maklik vir hom sou wees om die voorval te ignoreer, soos baie ander mense wanneer hulle misdaad raaksien. Dié man se onbaatsugtige aksie het egter heel moontlik die lewe van baie mense gespaar,” het Smith gesê.

Kringtelevisiebeeldmateriaal, wat dié voorval vasgevang het, is sedertdien deur Stad Kaapstad beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Johann ·

Well Done Zane! Geweet daars nog mense soos jy! Hoop almal is nie in die Kaap nie? En ook die Polisie wat jou nie wil toesluit vir jou effort nie…hoop nie almal van hulle is ook in die Kaap nie! Nou hoop ek net Jaguar se geld of polities korektheid hou hom/haar uit die tronk nie!

carin ·

Ek kan nie glo wat ek sien nie, ! Die jongman was baie braaf.

Scalla ·

Knap gedaan, ek hoop jy het die bestuurder n paar warm klappe gegee om nugter te word.

Jan ·

Die trokdrywer is net so onverskillig as die Jaguar en het amper self ‘n helse ongeluk veroorsaak. Ek hoop die polisie vind hulle altwee skuldig aan roekelose bestuur.

Paul ·

Sjoe, wat ‘n belaglike opmerking om te maak!

Die trokdrywer het sy bes gedoen om die gevaar vir ander bestuurders sigbaar te maak. Sonder hom sou daar feitlik ongetwyfeld ‘n groot ongeluk gewees het. Die bestuurders op die pad kan maar net bly wees dat dit Zane Small in die trok was en nie ene “Jan” wat hier kommentaar lewer nie!

Net ‘n korreksie vir Maroela Media – ‘n Jaguar S-Type is nie ‘n sportmotor nie.

C ·

Jy is ‘n regte here gewees Zane, maar ja, jy besef seker dat jy jou eie lewe op die spel gesit het, ek kan verstaan dat jou Pa eers baie kwaad vir jou was maar tog ook baie trots. Baie dankie vir jou onbaatsigtige helde daad wat jy verrig het.

Stan ·

Dit op nuus gesien en gedink die trokdrywer was dalk ‘n groter risiko gewees!

maatji ·

Ag kom nou mense. Sien die goeie wat die jongman probeer doen het. Daar kon iets lelik gebeur het maar daar het nie deur God se genade.

maatji ·

Jinne mense wees bly die jong man het selfs sy lewe gewaag om ander te help

Johan ·

Hy moes seker gedoen het wat Stan en Jan sou gedoen het-Net kommentaar lewer, en kla en, en, en. Teminste het hy iets gedoen. Miskien nie die beste manier nie, maar wel iets gedoen. Wat het julle al gedoen?

zahn ·

Tot mense soos Jan se familie of vriende in so ‘n situasie seerkry of betrokke is in ‘n ongeluk. Dan sal hulle seker weer kla niemand het iets gedoen nie.
Zane, jy verdien ‘n Bells. Ek salueer jou.

Zahn

Stormrider ·

Sjoe kerels, dis ‘n verskriklike dapper, maar aan die anderkant dom daad. Ons weet nie watter tipe vragmotor dit is nie, maar ‘n vragmotor op hoog spoed, nogal teen aankomende verkeer, kon ‘n grusame botsing veroorsaak het. Dit sou dalk meer raadsaam wees om die verkeerspolisie te kontak, maar self aan die regte kant van die pad te bly gedurende die agtervolging. Nietemin, ons ken nie die omstandighede of verkeerskondisies nie, en ons is die Vader dankbaar dat daar nie beserings of sterftes was nie, die bedoeling was edel en mooi.

Paul ·

So hy moes maar net gelos het dat die ou self met baie minder sigbaarheid, ‘n ongeluk veroorsaak?
Daar is ‘n video van die gebeure. Kyk dit. Ons weet watter soort vragmotor dit was en wat die verkeersomstandighede was. Dis op die video…

Landi Slatter ·

Dagsê Gerhard

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Andre ·

Meeste mense (Selfs wat komentaar lewer) sal dit eerder ignoreer.

Dit kon my vrou en dogtertjie se lewe wees wat jy gered het. Kan nie vir almal praat nie, maar ek se vir jou dankie.
“Courage is not the absence of fear, but the willingness to overcome it…”

Denise ·

Jan het jy die video gekyk ? Ek dink jy is nou regtig belaglik om so iets te se die man het sy lewe gewaag asseblief hou jou dom kommentaar vir jouself!!! Nie almal kan so kop hou nie en na n lang dag se werk hy het nie nodig gehad om dit te doen nie hy was braaf wat baie van ons nie is nie!!!!

E.K. - ek sê net! ·

Dankie vir ‘n held wat heel moontlik ‘n paar sterftes verhoed het. Dis wel gevaarlik wat hy gedoen het maar dankie datjy kop gehou en dit wel gedoen het.

w botha ·

Waarom plaas julle video’s in formate wat ons nie kan oop maak op slimfone en tablette nie ?!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.