Video: Uitgewery se Afrikaanse e-boeke nou wêreldwyd beskikbaar

Kyk gerus na die oulike video onderaan die berig wat NB-Uitgewers op YouTube gelaai het. In Maart vanjaar het NB-Uitgewers meer as 750 Afrikaanse e-boeke op aanlynwinkels versprei. Dit sluit in topverkoper-titels deur Deon Meyer, Marita van der Vyver, Anchien Troskie, Dana Snyman, Ena Murray en vele ander vooraanstaande Afrikaanse skrywers. Die maatskappy loods vandeesweek ’n opwindende bemarkingsveldtog waarin bekende skrywers deelneem – op televisie, aanlyn en in die drukmedia – om sy Afrikaanse e-boeke te bemark.

“Die gemak en spoed waarmee ’n mens e-boeke aflaai – daardie onmiddellike bevrediging – bly elke keer ’n verrassing en ’n reuseplesier!” sê Eloise Wessels, Uitvoerende Hoof van NB-Uitgewers.

“’n Hele nuwe era in die Afrikaanse boekebedryf het aangebreek. Lesers kan hul leeslus nou behoorlik versadig met honderde e-boeke wêreldwyd beskikbaar in Afrikaans. Nooit weer is ’n boek nié beskikbaar nie,” sê Nèlleke de Jager, NB-Uitgewers se digitale uitgewer.

Die e-boeke is beskikbaar by Leserskring, Kobo, Kalahari én Amazon se Kindle Store en kan op enige e-boekleser, tablet, rekenaar of slimfoon gelees word. NB-Uitgewers se volle katalogus van e-boeke word nou deur Amazon versprei en is dus wêreldwyd op alle platforms beskikaar. Die verwagting is dat e-boekverkope sterk sal toeneem.

Vir pendelaars is daar nog beter nuus: Vir die eerste keer ooit is dertien van NB-Uitgewers se blistverkopers nou as digitale luisterboeke beskikbaar op Audible.com, voorgelees deur van die land se beste stemkunstenaars in Afrikaans. ’n Luisteraar kan dus met min moeite ’n boek aflaai op ’n iPod, iPad of slimfoon of selfs ’n gewone rekenaar en daarna luister, waar sy ook al is – in die motor , op ’n bus of trein of in die lang tou by die bank. Die luisterboeke is slegs op Audible.com verkrygbaar en sluit ook kinderboeke in.

“Dis opwindende tye vir boekliefhebbers in Afrikaans, ter plaatse en internasionaal,” sê De Jager van dié digitale omwentelinge.

Die uitgewery se skrywers is ook opgewonde om hul boeke in digitale formaat te sien. Deon Meyer, Anchien Troskie, Wilna Adriaanse en Dana Snyman het hul lyf onlangs akteurs gehou en speel in NB-Uitgewers se TV-advertensie. Die skrywers meen die e-boekformaat hou verskeie voordele in.

“’n Hele boekwinkel in die palm van my hand. Genoeg leesstof vir enige reis, maar die tas is nie swaarder nie. Hoe kan mens nie mal wees oor e-boeke nie?” sê Deon Meyer, wie se jongste roman, Kobra, later vanjaar sal verskyn.

Karin Brynard, skrywer van Onse Vaders, sê sy is “moewies opgewonde” dat Afrikaanse e-boeke nou so vrylik beskikbaar is. “Nou kan ek al my gunsteling-Afrikaanse skrywers met my saamdra op ’n enkele e-leser. En beter nog: my familie oorsee kan lekker saamlees – sonder dat ek ’n klein fortuin aan versendingskoste kwytraak.”

Anchien Troskie/Elbie Lötter sê e-boekleser verskaf haar groot plesier: “Ek verlekker my keer op keer daaraan dat ek tans 157 boeke oral met my kan saamdra, en dit in een hand!” Troskie se aangrypende roman Dis ek, Anna is as e-boek én luisterboek beskikbaar.

Wilna Adriaanse sê: “Met e-boeke is goeie leesstof altyd byderhand – ongeag hoe lank die reis waarop jy is, of hoe klein die dorp waar jy jou bevind.” Haar liefdesverhaal Rebecca is nou ook as luisterboek beskikbaar.

Danksy die verspreiding van e-boeklesers en tablet-toestelle raak e-boeke al meer gewild. Tradisionele uitgewers kan e-boeke nie meer ignoreer nie as hulle aan hul lesersmark, wat al meer ‘mobiel’ word, se behoeftes wil voorsien. In Amerika is $1.5 miljard se e-boeke verkoop in 2012 (amper ’n kwart van die boekemark), aldus die APA (Amerikaanse Uitgewersvereniging). In die Verenigde Koninkryk die afgelope jaar kan meer as 12% van boekverkope aan e-boeke toegeskryf word, volgens die VK se Uitgewersvereniging.

“Die Suid-Afrikaanse boekemark is ’n paar jaar agter dié van die VSA en Brittanje, maar die sterk e-boekverkope in hierdie lande is ’n goeie aanduiding van wat in SA sal gebeur,” meen De Jager. “Daar is immers reeds meer as 780 000 tablette in die land.” By die afgelope Londense Boekebeurs is daar gespekuleer dat Suid-Afrika die twaalfde grootste e-boekmark ter wêreld het.

NB-Uitgewers se e-boeke sal terselfdertyd as die papierboek-eweknie op virtuele winkelrakke verskyn. Die e-boeke word tans teen dieselfde prys as die papierweergawes verkoop.

Digitale boeke het ’n transformerende effek op die boekebedryf. Genres soos erotiese fiksie, jeugliteratuur en fantasie-literatuur het ’n massiewe hupstoot gekry. Én nuwe genres word geskep wat nuwe vryheid én geleenthede aan uitgewers verskaf. NB-Uitgewers werk aan verskeie digitale projekte: Die Tafelberg Kort-reeks (digitale mini-boeke oor aktuele kwessies wat onder die Tafelberg-druknaam uitgegee word) is in November 2012 bekendgestel.

NB-Uitgewers se Afrikaanse e-boeke kan gekoop word by:
• Leserskring: www.eboeke.leserskring.com
• Amazon: www.amazon.com
• Kalahari: www.kalahari.com
• Kobo: www.kobo.com

Uitgesoekte luisterboeke by:
• Audible: www.audible.com

Hoeveel top-skrywers kan jy in ’n motor prop? Kyk dié skreeusnaakse televisie-advertensie waarmee NB-Uitgewers sy e-boeke-bemarkingsveldtog sal afskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.