Video: Ure se reddingspoging om walvis te red

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Reddingspan van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die Suid-Afrikaanse Walvisbevrydingsnetwerk (SAWBN), moes die afgelope naweek sewe ure lank spook om ʼn jong boggelrugwalvis te bevry wat in visnette verstrengel geraak het.

Die NSRI het in ʼn verklaring gesê die SAWBN is omstreeks 15:30 Saterdagmiddag ingelig van die walvis, wat sowat 500 m vanaf Kaappunt gesien is. Die jong walvis van 8,5 m lank was in veelvuldige nette verstrengel wat op die seebodem vasgeanker word om kreef te vang.

Mike Meyer, die hoof van die SAWBN, het gesê die nette was om die walvis se vinne en stert gedraai en hy was as’t ware aan die seebodem vasgeanker. Hoewel die walvis weens die nette nie baie kon beweeg nie, het hy telkens onder die water ingeduik wanneer die reddingspan probeer het om die nette los te sny. Dit het dit byna onmoontlik gemaak om die toue los te sny.

Teen 19:00 was dit donker en moes die reddingspoging weens veiligheidsredes opgeskort word. Omliggende bote is egter van die walvis se ligging in kennis gestel om te verhoed dat hulle deur die nag in die gebied in beweeg en die walvis dalk beseer.

Sondag met sonsopkoms het die reddingspan weer teruggekeer om die walvis los te sny, maar die walvis het steeds aangehou om die reddingspan te ontduik. Omstreeks 10:00 is Gary Nel, ʼn seekatpermithouer en eienaar van ʼn groot visserboot, se hulp ingeroep. Nel se vissersboot is gebruik om die toue vanaf ʼn afstand te lig en die SAWBN-bemanning kon die nette lossny en die walvis bevry.

Die walvis was skynbaar ongedeerd en het vinnig die see in verdwyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E.K. ·

DANKIE NSRI! Ons is trots daarop om hul gereeld te ondersteun – hul doen fantastiese werk en red sovele en so min mense dink daaraan om geld aan hulle te skenk.

m ·

So word alles uitgeroei. Wat van die arme ander seediere wat nie gered word nie. Die mens is besig om alles te vernietig.

Delia ·

Baie dankie ook aan Gary Nel wat sy vissersboot gebruik het om die walvis te bevry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.