[Video] ‘Vaalrivier-monster’ uitgevis

Bernard van der Westhuizen se Seabreacher.

Bernard van der Westhuizen se Seabreacher.

ʼn Oënskynlike “moordvis” wat Maandag in die Vaalrivier opgemerk en deur ooggetuies as ʼn “vreemde watergedierte” of “reuse-krokodil” geïdentifiseer is, het groot opslae gemaak.

Dié “moordvis” is egter ʼn Seabreacher-boot en ʼn speelding van die selferkende adrenalienvraat, Bernard van der Westhuizen, ʼn sakeman en inwoner van Vanderbijlpark in Gauteng.

“Ek dink ek is 45 jaar oud, ek het ophou tel toe ek 21 geword het,” het Van der Westhuizen Woensdag tergend aan Maroela Media gesê nadat daar vasgestel is dat sy boot die “monster” is wat Maandag in die Vaalrivier naby Stonehaven, die gewilde oord, opgemerk is.

“Ek ry miskien ʼn monsterboot, maar is nie self ʼn monster nie,” skerts hy.

Van der Westhuizen is die eienaar van Seabreacher South Africa, ʼn onderneming wat dié unieke toertjiebote van die VSA na lande in Suider Afrika invoer.

Die bote kom in die vorm van verskeie seegediertes, van witdoodshaaie tot dolfyne, en is beskikbaar in drie verskillende modelle wat almal kan duik, spring en drie as-draaie maak. Die duurste boot, die Z-model, kan egter ook 360 grade vaatjierolle doen.

Van der Westhuizen, wat in die Edge of the Vaal-landgoed op die oewer van die Vaalrivier oorkant Stonehaven woon, het Maandag sy Seabreacher Z-model Killerwhale vir sy derde rit in die rivier geneem sedert hy dit in November ontvang het.

“Met die baie reën wat die afgelope tyd geval het was die water baie vuil en daar was baie stompe en opdrifsels in die rivier, so ek wou nie baie gaan ry het nie.”

Hy het Maandagmiddag oudergewoonte die boot van sy landgoed af geloods en toertjies gedoen. Mense aan die oorkant van die rivier het die moordvis, met letsels en tande, gesien, maar kon nie presies uitmaak wat dit was nie. Van hulle het plasings op sosiale media gemaak en ook die plaaslike gemeenskapskoerant, Vaalweekblad, in kennis gestel. Kort nadat nuus van die “gedierte” gebreek is, is daar vasgestel dat die “monster” Van der Westhuizen se speelding was.

Bernard van der Westhuizen saam sy vorige model.

Bernard van der Westhuizen saam sy vorige model.

“Die mense op die landgoed is al gewoond aan my boot. Ek het nie gedink dit sal soveel opslae maak onder mense wat dit nie ken nie. Ek het voorheen ʼn X-model gehad wat soos ʼn witdoodshaai lyk waarmee ek altesaam sowat 80 uur gery het. Ek het dit egter in 2015 aan ʼn kliënt in Mauritius verkoop nadat hy dit op die televisieprogram SA Pawn Stars gesien het.”

Hy verduidelik ʼn mens moet ʼn standaard skipperlisensie hê en dat die bote as semi-duikboot-vaartuie geklassifiseer is. Die boot word meestal met die loods se voete beheer. Van der Westhuizen lei die loodse self op en sê ʼn mens kan na sowat ʼn uur en ʼn half se opleiding self op ʼn nooiensvaart gaan.

“Die boot het plek vir twee mense, so die loods kan ʼn passasier op ʼn onvergeetlike rit neem. Mense vra my altyd of ʼn mens visse onder die water kan sien. ʼn Mens beweeg so vinnig daar is nie tyd om visse te sien nie. Mense wat visse wil sien moet eerder ʼn vistenk kry,” skerts hy.

Van der Westhuizen se moordvis kan ʼn spoed van sowat 85 km/h bo die water haal en sowat 45 km/h onder die water met ʼn diepte van tussen een en twee meter. “Dit hang van die boot se spoed af hoe diep en lank dit onder die water bly. Dit bly egter nie onder die water soos ʼn duikboot nie: Dit is meer soos ʼn duikbeweging. Dit hang ook van sigbaarheid af hoe lank ʼn mens onder die water bly. In die rivierwater bly ʼn mens nie te lank onderwater nie omdat die sigbaarheid swak is, maar in plekke soos Mauritius waar die water helderblou is, kan ʼn mens langer onder die water speel.”

Hy sê hoe langer ʼn mens met die bote ry en daarmee speel, hoe beter leer jy om dit te beheer en hoe meer toertjies kan jy uitvoer.

Mense wat die toertjiebote wil aanskaf sal geduldig moet wees. Afhangende van die model en die vorm wat dit moet aanneem kan dit van agt tot tien maande duur om dit aan te skaf, aangesien elke boot volgens die kliënt se behoeftes gemaak word.

Daarby sal hierdie interessante speelding jou nagenoeg R1,6 miljoen uit die sak jaag.

Seabreacher Informational Video

To learn more visit us at:www.seabreacher.comor join us on Instagram or Snapchat @theseabreacher

Posted by Innespace Seabreacher, the ultimate diving machine on Wednesday, December 7, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jem ·

Eish sommige mense was in n vreeslike toestand oor daardie Vaal riviere monster. Ek vind hierdie article baie snaaks.

Danie Biermann ·

Sjoe dit lyk na ‘n lekker speelding daardie. Enigste probleem is dat jy my nie daar in die water sal kry nie. Dis nou al maande lank dat rou riool oorstroom tussen Roodstuine en die Mark langs Boy Louw Weg. Dit loop in die afvoer kanaal tot in die Vaal Rivier daar waar die R59 oor die Vaal Rivier gaan na Sasolburg toe. Boonop werk Sebokeng se riool werke ook nie en rou riool einding bietjie laer af in die Vaal Rivier. So ‘n mens kan dalk iets optel in daardie deel van die rivier.

Rede ·

Ja-nee Danie, dis waarom my skoonseun sy motorboot verkoop het. Hy en sy broer was lief vir waterski maar die worse wat saam met jou in die water is was nie so aangenaam.

Juliana ·

‘n MONSTER!!! Regtig??
Kani glo daar is mense wat nog in monsters glo nie!!! Hulle het nie dalk die tand muis en vader krismis ook daar gewaar nie???

Joe ·

Nie regtig nie Juliana, dit was ‘n grap, hulle praat van ‘n watervaartuig…………?

Adriaan le Roux ·

Lekker man…hahaha…maar wat van die berigte oor die radio dat daar wel n krokedil van 1m gevang is in die Vaalrivier? Dan het daar iets positiefs uit die storie gekom

steve ·

Dit was nou die beste advertensie wat Ek nog ooit gesien het… N monster wat soos n motorboot Klink… Yeah right… 1.6 mil vir n ding wat Amper wonder water Kan gaan… Is ok Dankie…

johannes ·

Dem, krismis is klaar verby. Stem saam ons damme is te vuil om rerig die ding te benut, maar ek kan myself sien speel in die see waar dit nog skonerig is

Magda ·

Lekker speel met jou monster. Dit nogal goed gewerk het Des in Durban se see.

Mariette ·

Baie slim bemarking ..Die is gereel om opslae te maak haha.Baie baie slim ..

Juliana ·

Aarde Joe, lyk jy weet nie wanneer iemand sarkasties is of ernstig nie.
Lees weer my kommentaar.
Dan lees jy ook die eerste paragraaf van die berig.
Om enige twyfel uit te wis….ek is sarkasties in my 1ste opmerking.

Dink Net ·

Miskien kan hierdie water vaartuig nogals baie handig kom, om mense te soek wat verdrink het, soos bv. die vrou in Capitalpark. Dit sal beslis ‘n baie goeie hulpbron wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.