Video: Van optelbok tot troetelbok; híér is Bibi nou tuis

Bibi, ’n duiker, is nou ‘n troetelbok. (Foto: Verskaf)

Wanneer Bibi, ʼn duiker, voor die yskas staan en blêr, weet haar huismense al te goed om gou die deur oop te maak sodat sy aan haar gunstelingslaai kan begin knibbel.

Want hier op hierdie werf buite Sasolburg in die Vrystaat, is dié optelbok nou baas van die plaas.

Was dit egter nie vir Louise (63) en Bertus van der Westhuizen (65) se seun, Armand (35), nie, sou Bibi se lewe dalk nie so rooskleurig uitgedraai het nie.

Louise verduidelik dat daar in Oktober vanjaar erge veldbrande in die omgewing was. Op 10 Oktober het Armand, wat saam met sy gesin op ʼn buurplaas woon, ʼn draai met sy motorfiets gery om seker te maak hul beeste is veilig. In die veld het hy ʼn verdwaalde duikertjie aangetref. Sy kon nie veel ouer as twee dae gewees het nie, en was dit nie vir haar ore nie, sou Armand dalk bo-oor haar gery het.

“Ek vermoed die ma het dalk met die veldbrande gevlug en Bibi agterweë gelaat,” het Louise Donderdag aan Maroela Media gesê.

Bibi drink nog twee keer ‘n dag bottel. (Foto: Verskaf)

 

Bibi saam met haar hondemaatjie, Rusty. (Foto: Verskaf)

“So het Armand haar opgetel en huis toe gebring. Sy was baie ontwater omdat sy toe al geruime tyd nie melkies of enigiets ingekry het nie. Armand het haar sommer so by sy hemp ingedruk.

“Hy het my wel eers gebel en gesê: ‘Ma sal nooit raai wat bring ek huis toe nie’. Ek het gesê, ‘oh-oh, wat is dit nou?’ Al wat ek kon dink is dat dit ʼn hasie is. Toe hy by die huis kom en die ou gesiggie by sy hemp uitloer, het dit amper soos ʼn hasie gelyk, want jy sien net hierdie vreeslike ore.

“Toe hy haar uittel, het ek gesien dis ʼn klein bokkie.”

Bibi kort nadat sy in die veld gevind is. (Foto: Verskaf)

Louise het Bibi een kyk gegee en besef hulle sal onmiddellik moet ingryp. Sy het ʼn ander boer gebel wat al met klein bokkies gewerk het, sodat sy die regte melkformule vir die bokkie, wat hulle Bibi gedoop het, kon voorberei.

“Ek het melk aangemaak en haar met ʼn bottel begin voer. Sy het met so 20 ml elke uur begin, wat ek mettertyd vermeerder het.

“Ek het haar tot saam met my werk toe geneem want ek kon haar nie alleen los nie. So het ek haar bedags by die werk versorg en in die aand verder by die huis,” het Louise vertel.

Bibi lê graag op die bank. (Foto: Verskaf)

Dié reëling kon Louise egter nie lank volhou nie omdat Bibi in die kar begin rondspring het.

Vir die eerste vier weke moes Louise deur die nag opstaan om Bibi te voer, en daarna het sy so vier bottels per dag gedrink.

Nou drink Bibi twee vol bottels elke dag: een soggens en een saans. Sy drink ook nie meer beesmelk nie, maar dieselfde poeiermelk as waarmee kalfies gewoonlik gevoer word.

“Sy eet ook slaaiblare – dis natuurlik haar gunsteling. Ons gee ook vir haar gerasperde wortel, gerasperde appel, komkommer en murgpampoentjies. Verder wei sy hier op die gras.”

Louise sê die besluit om Bibi te hou en as troetelbokkie groot te maak, was maklik.

Die egpaar het reeds baie ander duikers en steenbokke wat vry op die plaas rondbeweeg en soms tot reg by die huis stap.

Maar anders as dié bokke slaap Bibi al te lekker op haar bed langs Rusty, ʼn negejarige Jack Russel-hond, in Louise en Bertus se kamer. Dié twee het intussen groot maats geword en lê graag op een matras lekker knus teenmekaar.

Bibi knibbel graag aan slaaiblare in die yskas. (Foto: Verskaf)

Bibi kyk ook saam met haar ounooi TV en kruip soms langs haar op die bank in, veral as sy ʼn kombers sien.

Bedags bly Bibi saam met die plaasskilpad in ʼn kamp.

Wanneer sy laatmiddag hoor hoe Louise die honde kosgee, bons sy egter uit haar kamp om vir die aand huiswaarts te keer.

“Sy weet dit is dán haar botteltyd.”

Louise sê Bibi kom ook al hoe meer nader as haar huismense haar op die naam roep; sy het selfs ʼn halsband met ʼn klokkie om haar nek.

“Ek kan die huis nie indink sonder haar nie. ʼn Mens soek haar altyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Toffie ·

Dis ‘n pragtige storie, ek kan dink Bibi bring baie vreugde en plesier in jul huishouding.

Jakkals75 ·

Oulike storie! Weetie wat my 7 maande oue Jack Russel seuntjie met so ‘n klein bokkie sal maak nie… Dankie, goeie nuus is altyd die beste nuus.

Rooi rissie ·

Dis te pragtig. Baie oulike storie. Dankie vir haar mens ouers wat so mooi na haar kyk en so lief is vir haar deur om haar so lekker te bederf. Dankie vir die mooi storie Maroela media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.