Video: Versterking ontbied vir brand by Jhb-gebou

Die gebou het Donderdagoggend (6 September 2018) weer vlamgevat. Foto: Twitter via @CoJPublicSafety

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Donderdag versterking ontbied van brandbestryders van die Stad Ekurhuleni, Stad Tshwane en die OR Tambo Internasionale Lughawe om te help om ʼn brand in ʼn gebou in die Johannesburgse sakesentrum te blus.

Die brand, waarin drie brandbestryders gesterf en agt ander beseer is, woed alreeds sedert Woensdagoggend. Brandbestryders kon die vlamme teen Woensdagaand onder bedwang bring, maar dit het Donderdag in die vroeë oggendure weer opgevlam.

Dié gebou in Pixley ka Isaka Semestraat (voorheen Sauerstraat) huisves die departement van gesondheid, die departement van menslike nedersettings en die Bank van Lisbon.

Mashaba was Donderdagoggend op die toneel en het ʼn beroep op die publiek gedoen om die gebied te vermy aangesien puin van die brand deur die lug trek. Ondanks dié versoek het talle mense in die gebied saamgedrom om te kyk hoe brandbestryders teen die vlamme baklei.

Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het aan Maroela Media gesê die brand woed steeds op die tiende verdieping, maar brandbestryders gebruik skuim om te verhoed dat die brand verder versprei. Dit brand ook tussen die 23ste en 16de verdieping. “Die wind het nou van rigting verander, so die vlamme is nou aan die ander kant van die gebou. Die brand is egter nie buite beheer nie en brandbestryders werk hard om die vlamme geblus te kry,” het sy gesê.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, op die toneel (6 September 2018). Foto: Twitter via
@HermanMashaba

Intussen het die Stad Johannesburg gesê indien die brand buite beheer raak, sal omliggende geboue ontruim word ter wille van die publiek se veiligheid.

Mashaba het Donderdagoggend gesê dit is noodsaaklik dat geboue in die Johannesburgse sakesentrum nagegaan word om te verseker dat hulle aan die nodige veiligheidsregulasies voldoen. Dit kom nadat dit aan die lig gekom het dat die gebou wat tans aan die brand is tydens ʼn onlangse ondersoek slegs aan 21% van veiligheidsregulasies voldoen het. “Hierdie ongelukkige omstandighede kon vermy geword het. Nakoming en veiligheidsbehoeftes moet geprioritiseer word,” het Mashaba gesê.

Die burgemeester het vroeër gesê die name van die oorledenes word weerhou totdat al hul naasbestaandes in kennis gestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ettienne ·

Nou wonder ek maar net oor die opleiding en kwalifikasies van die brandbestryders van Johannesburg. 3 dood en 8 beseer……

Johanna ·

Die geboue in Jhb CBD val uitmekaar. Meestal nie geskik vir bewoning nie.

Darius Els ·

Snaakse “feite” wat ongemerk verby gaan :
a. In JHB en PTA is daar Bank van Lisbon geboue,beset deur meestal regering (35 jare al).
b. In PTA beset die weermag die gebou,al meer as 3 dekades .
c.Albei geboue is 18 vloere.
d .In PTA het weermag ook Hallmark ,Nedbankgebou,Poynten geboue en Zanza besit.
Het ons ok soos “andere( Palistynse Terroriste)”,weermag tussen geqine buegers weggesteek?
Ek is onkundig en soek oplossing.

Paul ·

Jip, ek sien elders hulle sê die brand is ‘n ongeluk wat gewag het om te gebeur. Daar is nie aan verslae oor die gebou aandag gegee nie, dan het Johannesburg te min brandweerwaens.

Jacques ·

Stem saam ek dink nie ons Brandweer manne se opleiding is op standaard nie.

Speedguard ·

Stem saam Jacques, die mense word nie meer intern opgelei nie, hulle word privaat “opgelei” en word dan aangestel op sigware van hul “sertifikate”, ek se nie al die opleidings sentrums is nie op standaard nie maar indien jy instaat is om enige iets deesdae te kan “KOOP” en daar geld ter sprake is ,is alles moontlik. Maar my siening! Neem bv die sekuriteits sektor en die lisensie afdelings in ag !!

ne ·

As dit nou mynwerkers was wat dood is het almal begin om veiligheid te ondersoek. Nou is dit ‘n regeringsgebou. Wat gebeur nou? Kyk net hoe onveilig dit is, deur die regering.
Vee eers voor julle eie deur, dan kyk julle na ander.

Alida ·

Instandhouding. Na 25 jaar verstaan hulle nie die konsep van voortdurende inspeksies nie. Daar is werk geskep vir mense sonder opleiding. Verpleging, onderwys en so kan mens aangaan. Werkskep is mos al wat tel

LB S ·

Moes daar nou eers so tragedie kom voordat hulle wakker skrik????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.