[Video] Vier Afrikaans op Erfenisdag

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

“Erfenisdag is meer as net nasionale braaidag. Dit is ook ʼn dag waarop Afrikaans as taalerfenis gevier kan word,” sê Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV. “Suid-Afrikaners is lief vir ʼn vleisie op die kole, maar braai is net een van ons gedeelde erfenisse. ʼn Ander erfenis is ons tale, en Afrikaans is een van die tale in Suid-Afrika met ʼn besonderse geskiedenis.”

Afrikaans vier vanjaar 90 jaar as ʼn amptelike taal, maar Brits wys daarop dat Afrikaans eintlik baie ouer is – sommige akademici reken dit kan selfs ouer as 350 jaar wees! Sy verduidelik hoekom dit so belangrik is dat Afrikaans erken word as ʼn amptelike taal. “ ʼn Taal is soos ʼn plant wat water, kunsmis en lig nodig het. Vir ʼn ou taal soos Grieks om millennia te kon oorleef, het dit sprekers (water), letterkunde (kunsmis) en erkenning (lig) nodig gehad. As ons die plant water gee, sal dit vir ʼn wyle oorleef; as ons dit plantkos gee, sal dit blom, maar dit sal nie oorleef sonder lig nie. Tale het daarom amptelike erkenning broodnodig.”

Sy het benadruk dat tale nie in isolasie gebruik word nie. “Kom ons brei bietjie uit op die plantmetafoor. ʼn Tuin met een soort plant is nie so mooi soos ʼn tuin met ʼn verskeidenheid plante nie, en ons kort hierdie bonte verskeidenheid van inheemse tale om die Suid-Afrikaanse tuin mooier te maak. Hierdie tale beïnvloed mekaar ook onderling. As ons na die voorbeeld van Grieks se invloed op Afrikaans en Engels kyk, sal Engelssprekendes en andertaliges wat glad nie Afrikaans ken nie, maklik die betekenisse van woorde soos dinamies, filosofie, fotografie, teater en priester kan aflei. Hoewel hierdie woorde oorspronklik uit Grieks kom, is dit bekend in baie ander tale.”

Brits verduidelik dat kontak tussen tale partykeer lei tot die ontstaan van nuwe tale, en dat Afrikaans juis op hierdie manier ontstaan het. “Tale is ʼn bietjie soos mense – hulle het families. As Afrikaans en Engels mense was, dan was hulle sibbe! Wie van ons ken nie die voorbeeld van ‘my pen is in my hand’ nie? Dit kan in Afrikaans en Engels gelees word, en die woordorde, spelling en betekenis is in albei tale presies dieselfde. Afrikaans en Engels is albei lede van die Germaanse taalfamilie, wat die ooreenkoms verklaar. Nederlands is die ander familielid, en het in 1652 saam met Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom. Hierdie Kaapse Nederlands is nie in isolasie gepraat nie, maar het in kontak met verskillende tale gekom, en so het Afrikaans ontstaan. Kyk maar na die taalwortels van woorde soos dagga, kierie, abba (Khoi-Khoi), piesang, blatjang, baie (Maleisies), mielies, kraal (Portugees), aikôna, makietie en indaba (Afrikatale).”

“Afrikaans is meer as net ʼn taal. Dis ʼn taal met ʼn fassinerende geskiedenis, en nie net die taal van net een spesifieke groep of ras nie. Afrikaans het inderdaad vele gesigte. Kom ons deel ons ryke taalerfenis met mekaar en wys ander Suid-Afrikaners hoe vriendelik Afrikaans is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae