
Die beamptes het die motoris glo gedreig en aangerand nadat hy nie omkoopgeld wou betaal nie. Foto: Skermskoot
Vier verkeersbeamptes van Mpumalanga is voorlopig geskors nadat hulle glo omkoopgeld uit ʼn motoris probeer kry het.
Pat Ngomane, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het geen nadere besonderhede in ʼn persverklaring oor die vier se skorsing bekendgemaak nie, maar verwys daarna as “ʼn konfrontasie met ʼn sekere motoris verlede Donderdag terwyl die beamptes aan diens was”.
Hulle is geskors hangende ʼn interne ondersoek na die voorval wat by Badplaas plaasgevind het. Die betrokke motoris het ʼn video-opname van die voorval gemaak en dit op Facebook gedeel, waar dit die afgelope week amper 1 miljoen keer besigtig en derduisende kere gedeel is.
Lindelani Shezi skryf by die video hy was op pad van Ermelo na Nelspruit toe verkeersbeamptes hom voorgekeer, sy rybewys gevra en die motor nagegaan het. Hulle het toe glo onverwags gesê hy het gejaag en sal met R1 500 beboet word.
Ek het geweier om die omkoopgeld te betaal.
“Toe is ek gevra of ek regtig die R1 500 boete wil hê en of ek geld by my het,” skryf Shezi. “Ek het geweier om die omkoopgeld te betaal. Ek het die beampte gevra om my op die kamera die bewys te gee dat ek gejaag het, maar hy kon nie.
“Dis toe dat ek gevoel het ek word in Mpumalanga met my KZN-geregistreerde voertuig om die bos gelei.”
Shezi vertel hy het besluit om die gebeure op te neem. “Ek is gedreig, aangerand en die verkeersbeampte het geweier om my rybewys terug te gee of die boete uit te reik. Toe ek vir hulle sê ek sal ʼn klagte indien by die naaste polisiestasie (op Badplaas), het hulle selfs vir my gesê waar dit is. Hulle het hul naamplaatjies weggesteek.”
Hy beweer die polisiebeampte in die aanklagkantoor het geweier om sake van aanranding, poging tot omkopery en diefstal oop te maak. “Die verkeersbeamptes het toe opgedaag en in die aanklagkantoor ingegaan. Toe het hulle uitgekom en na hul voertuig gegaan, waarna die een my rybewys teruggegee het.”
Die verkeersbeamptes het hom glo in die polisiekantoor probeer dreig.
Volgens hom het die verkeersbeamptes hom in die polisiekantoor probeer dreig, “maar ek het geweier om my te laat intimideer”.
Shezi is ontsteld oor die voorval. “Ná 24 jaar van vryheid verdien geen Suid-Afrikaner om so verneder te word nie. Ons moet weier om omkoopgeld te betaal. En ons mag nie swak dienslewering van polisiebeamptes aanvaar nie.”
Hy meen die polisieman wat geweier het om sy klagte aan te hoor, het hom aan regsverydeling skuldig gemaak. “Hy is ʼn medepligtige omdat hy die verkeersbeamptes teen die gevolge van hul optrede probeer beskerm het.”
Kom ons vat hande om korrupsie te keer.
Shezi skryf hy het die video gedeel ter wille van mense wat nie hul stem teen onreg kan dik maak nie omdat hulle te swak, kwesbaar en weerloos is. “Kom ons vat hande om korrupsie te keer. Genoeg is genoeg.”
Ngomane sê die beamptes sal tydens die ondersoek ʼn regverdige kans kry om hul kant van die saak te stel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
21 Kommentare
Mooi so. Ek hoop alle burgers wil so optree, dan alleen sal ons die korrupsie en vrot appels oorwin. Laat dit nie gaan oor ras maar ordentlikheid dan kan ons van SA ‘n beter plek maak.
Baie goed van die man om die spul te ontbloot. Mooi meneer. Hoop die 3 kry summiere ontslag sonder vergoeding. Swak optrede van persoon in gesagsposisie.
Nee wat – kom ons kyk hoe die een gaan verdwyn.
Wat wou , ek stem saam met jou , laaste sien van die blikkantien .
Shezi, jy is ‘n voorbeeld. Mag dié soos jy, al hoe meer na vore kom om die regte ding te doen. ‘Corruption must Fall’