Video: Viroloog antwoord vrae oor Covid-19-entstof

Foto ter illustrasie. (Foto: Hakan Nural/Unsplash)

“Jy kan nie Covid-19 kry van die entstof nie, en dié entstowwe kan ook glad nie met jou DNS peuter nie.”

Dit is van die antwoorde wat dr. Jean Maritz, ʼn kliniese viroloog verbonde aan PathCare, verskaf het op vrae oor die entstowwe wat tans in inentingsprogramme wêreldwyd teen die Covid-19-virus uitgerol word.

Maritz het Donderdag in ʼn regstreekse gesprek op Solidariteit se Facebook-blad meer duidelikheid verskaf op talle kwelvrae oor die entstowwe na dié organisasie oorval is met navrae oor die entstowwe en die veiligheid daarvan.

Hy het verduidelik die hooffunksie van ʼn entstof is om die liggaam teen ʼn virus te beskerm. “Dit oortuig die liggaam se selle om teenliggaampies teen ʼn virus te ontwikkel deur ʼn geheue van die virus op te bou, sodat dit die virus vinniger kan blok. Daar is tans sowat 300 vaksine-kandidate wat ondersoek word, en elke entstof het sy eie samestelling om Covid-19 te bestry.”

Kykers het veral vrae gehad oor die newe-effekte van die entstowwe. Daar was onlangs berigte oor mense wat oënskynlik erge allergiese en neurologiese reaksie teen die entstowwe getoon het na inentings.

“ʼn Mens word nie met ʼn lewende virus ingeënt nie en die newe-effekte wat mense toon, moet in konteks beskou word. ʼn Reaksie soos koors en effense lyfseer na die inenting is te wagte en ʼn bewys dat jou immuunstelsel besig is om sy werk te doen.”

Hy het bygevoeg dat ʼn allergiese reaksie teen inentings niks nuuts is nie. “Tydens die proewe van die AstraZeneca-entstof het twee mense erge allergiese reaksie getoon, maar hulle het ʼn geskiedenis van erge allergieë gehad.

“Ons moet onthou dat hoe meer dosisse daar van die entstowwe toegedien word, hoe meer verskillende reaksies sal ons sien. ʼn Mens moet dit egter altyd in konteks sien en vra of die entstof die oorsaak was en wat die pasiënte se gesondheidgeskiedenis behels.”

Covid-19-entstof is vinniger ontwikkel

Maritz erken die entstowwe is wel veel vinniger as gewoonlik ontwikkel, maar het bevestig dat dieselfde proses gevolg is om die Covid-19-entstof te toets as wat met enige ander entstof gevolg is.

“Die enigste verskil is dat van die fases van die proewe in parallel gevolg is, wat gehelp het om die tydsduur te verkort. Die enigste rede waarom dit gedoen is, is omdat hierdie so ʼn groot openbare gesondheidskrisis is.”

Hy glo verder dat mense met komorbiditeite nie skepties oor die entstof hoef te wees nie, omdat mense met van hierdie onderliggende siektes wel by die proewe ingesluit is. “Dit moet eerder opgeweeg word wat sal gebeur as so ʼn persoon glad nie die entstof ontvang nie.”

Op nog ʼn vraag oor of die entstowwe ook immuniteit teen die nuwe variante van die Covid-19-virus sal verskaf, het Maritz gesê daar was al verskeie nuwe variante van die virus en uit die aard van ʼn virus sal daar nog talle nuwe variante wees.

“Ons het ongelukkig tans niks beter as die huidige entstowwe wat ontwikkel is om ons te beskerm nie, en dit is nog steeds beter as geen entstof nie. Sonder ʼn entstof is die kanse ook skraal dat ons ooit ten volle ʼn soort kudde-immuniteit teen Covid-19 sal ontwikkel.”

Hy meen dit is belangrik dat elke persoon die voordele en nadele om die entstof te neem, vir hulself sal opweeg en ʼn persoonlike besluit daaroor sal neem.

“Wees net bewus daarvan dat daar risiko’s verbonde is aan albei kante van so ʼn besluit. Die Covid-19-entstof het neurologiese newe-effekte by sommige mense veroorsaak, maar die virus het ook selfs meer neurologiese newe-effekte veroorsaak by mense wat dit al opgedoen het.

“Ek verstaan waar mense se kommer vandaan kom, maar ek wil beklemtoon hierdie is die beste beskerming wat ons het aanvullend tot sosiale distansiëring en maskers.

“As dit beteken ons moet jaarlikse inentings teen Covid-19 kry, is dit ʼn realistiese uitkoms. Dit sal soos die griepinspuiting wees, wat jaarliks verander omdat die griepvirus jaarliks muteer.”

‘Dit gaan nie net oor persoonlike beskerming’

Hy het ook bygevoeg dat dit nie net oor persoonlike beskerming teen Covid-19 gaan nie, maar dit ʼn mens die res van ʼn bevolking in ag moet neem wat nie die entstof kan kry nie. “Daar heers nog groot onsekerheid oor of swangervroue die entstof moet kry – daarvoor moet nog navorsing gedoen word – maar as jy die vaksine neem, help jy om beskerming aan hulle te bied.”

Maritz het verder gesê dit is nonsens dat daar ʼn mikroskyfie in enige entstof is wat gebruik kan word om mense na te spoor. “Miskien weet ek te min van tegnologie, maar so iets sal nie eers in ʼn spuit kan pas nie, wat nog die naald.”

Op Solidariteit se aanlyn meningspeiling oor die gebruik van die entstof was gebruikers Donderdagoggend nog verdeeld oor of hulle die entstof wel sal kry.

Een van die groot regsvrae wat tans ook nog oor dié entstowwe hang, is tot watter mate werkgewers of die staat die entstof kan verpligtend maak.

“Solidariteit meen dat geeneen verplig kan word om die entstof te neem nie. Ons is besig om ʼn regsopinie daaroor te skryf want dit is ʼn ingewikkelde saak,” het Morné Malan, Solidariteit se hoof van nuus en publisiteit, gesê.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit en AfriForum sleep dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, hof toe oor die regering se implementeringplan vir die entstof.

Dit gaan Suid-Afrika bykans R20 miljard kos om die land se inentingsprogram te befonds. Die Suid-Afrikaanse regering beskik tans nie oor die geld hiervoor nie en wil nou belastingbetalers die kostes laat dek.

Verder het die regering in 2020 sy voete gesleep om planne te maak vir die aankoop en verspreiding van die entstof, terwyl dit vir hom die reg toegeëien het om die enigste aankoper van entstowwe in Suid-Afrika te wees.

  • Kyk die volledige video oor die gesprek hier vir antwoorde op talle vrae oor die entstowwe teen die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

Phillip ·

En dis 666 wat gepaart gaan met dit ek is nie teen die middel nie maar 666 laat vir my self rooi ligte flits as daar n ander nommers was in die vermulle ja maar 666 aikona

Francois Le Cochon ·

Phillip – Daar is seker tienduisende plus mediese wetenskaplikes reg oor die wereld. Ek persoonlik ken nie een nie, maar ek sou dink hulle is almal opgevoede hoogs opgeleide persone, van onbesproke karakter, wat eties optree en hard werk om ‘n verskil te maak aan die mensdom en om te poog om vir almal op aarde ‘n gesonder lewe te verseker. Dan is daar ook diegene op aarde wat hul ophou met samesweringsteorie wat poog om hierdie wetenskaplikes te diskrediteer. Wat hierdie mense se werklike agenda is weet ek nie, maar ek glo hulle beslis nie. Ek sal voorstel dat jy na jou dokter gaan, en hom/haar vra om jou te help om ‘n keuse te maak om te besluit wie jy moet glo, die mediese wetenskaplikes, of diegene wat samesweringsteorie versprei.

4ntj13 ·

Ek stem saam Francois, dit het mode geword om nonsies te glo en die aanstuur-knoppie te druk in die geloof dat dit daarvan feite sal maak. In die VSA het byna 50% kiesers in November vir samesweerders gestem. Ek wonder hoe ons ons media ten minste, tot verantwoording kan roep. Hier hoort nie sulke antwoorde onderaan ʼn beskaafde artikel nie. Ek bly teleurgesteld in die aantal af duipies by jou goed-deurdinkte, en -ingeligte antwoord. Shame, mense!

Snowball ·

@ Francois Le Cochon, al die negatiewe duimpies is ‘n sprekende bewys dat wanneer jy ‘n dwaas reg help, hy jou sal haat daaroor, in teenstelling met ‘n wyse mens wat jou sal respekteer wanneer jy hom reg help.

adriaan isak ·

Daar is al heelwat mense dood na hul die entstof ontvang het.Tog word dit feit taamlik stil gehou.Wonder hoekom.

Piet ·

Praat jy nou van die bejaardes in die skandinawiese land wat reeds met een been in die graf gestaan het?

Vlooitjie ·

En dis okay dat hul dood gaan skielik na entstof net omdat hul alreeds volgens jou met een been in die graf staan? As al die geleerdes so slim is oor die wonderlike entstof sou mens dink hul sou bietjie meer bedag gewees het juis om dit vir ou mense wat reeds verswakte immuniteit het te gee in die eerste plek. Lekker proeflopie gewees.

Piet ·

Hulle was ALMAL op sterwe, net ‘n kwessie van tyd. Hulle moes dit nie gekry het nie want in die geval blyk dit asof die entstof hul dood kon verhaas het (nie veroorsaak het nie). Dat hulle wel reeds met een voet in die graf was en nie meer kon herstel van hullle siektetoestande nie is egter ook ‘n feit.

4ntj13 ·

Ag, ekskuus! Ek dink Piet is al net soos ek UITERS GEFRUSTREERD deur die aantal fopnuusverspreiders wat nie geleer het om wetenskaplike artikels te lees nie. Hy het éintlik bedoel die Here was reeds op pad om hulle te kom haal toe die uiters bekommerde dokters gedink het die entstog sal Hom wegjaag! Dóm dokters nog steeds, nè? Ai!

Adam Adriaan ·

Wat van die 23 mense wat gesterf het in Europa nadat hulle die entstof ontvang het?

Piet ·

Reeds met een been in die graf gewees. Wat van die miljoene wat al die entstof ontvang het en nog lewe, nou praat jy van ‘n paar uitsonderings? Sommige mense sal omkap as jy vir hulle ‘n glas coke gee.

4ntj13 ·

Daar het báie meer mense in Europa gesterf. Verskriklik baie van hulle weens Covid, wat ente sal stop. Die “vlaag” in Noorweë was omdat hulle baie siek oumense by die navorsing betrek het. Dis ook wat die skrywer van jou eerste antwoord wel raak gelees het.

4ntj13 ·

Net 23?????!!!!!!
Ek dog daar sterf duisende per dag aan Covid?
Die wérklike nuus-media is propvol van verduidelikings oor die sg entstof-sterftes, wat almal aangedring het moet orals sigbaar wees. Ek hoop u kry kans om dit ook gelees te kry!

Daleen ·

Verpligtend? NEE. Ek dink dis elke persoon se keuse of jy die inenting wil doen aldan nie. Miskien as dinge meer deursigtig was en meer inligting bekend was sou daar minder teenkanting gewees het maar op die stadium is daar meer vrae as antwoorde en daarom meer nee’s as ja’s. Weereens ons onbevoegde regering se skuld. Ek het baie bekende oorsese pastoor gehoor se dat as die inenting nie op sy regterhand of voorkop gedoen word nie dan sal hy dit doen – ja my gevoel ook maar is nog steeds huiwerig.

4ntj13 ·

Geen navorsing was al ooit só deursigtig gedoen in die mensdom se geskiedenis nie. Dit nadat ons uit ʼn kultuur kom waar gewone mense skrikgemaak sou word deur feite van hierdie aard. Dit bly absoluut noodsaaklik dat >90% van die bevolking geënt word op die pandemie te stop. Goeie dokters probeer namens gewone mense hul vinger op WERKLIKE gevare hou, en media leer na 6 Januarie om strenger op te tree teen fopnuus. Ek kies ente, selfs aanvanklik Chinese amper-ente, bo Covid. Maar ek sal nie omgee as ontkenners so gou moontlik, elke 6 maande, Covid sal kry ter wille van die res van die wêreld, en daartydens hulself in ʼn kamp sal isoleer van kwesbare mense nie. Daardie keuse gun ek u enige tyd!

Pieter ·

Volgens inligting verskaf gee die entstof net beskerming teen Covid-19 vir hoogstens 5 maande, dan is jy weer op jou eie. Verder is die toetsentstowwe se beskerming hoer as die entstowwe waar die massas mee gaan ingespuit word. Bill Gates is by die entstowwe betrokke, hy weet van DNS mutasies en inplantasies. Kan nie verstaan hoekom die Ivermektien behandeling en Remdesivir meer aandag kry nie.

Boerkind ·

Vra ek ook – dit is goedkoop, werk besonder effektief en is in tabletvorm beskikbaar EN word op groot skaal in bv. Indië gebruik….

Piet ·

So effektief dat Indie se Covid sterftegevalle een van die hoogstes te wereld is en hulle nou ook besig is met die grootste inentingsprogram te wereld, ne?

4ntj13 ·

En Indië het deur daardie gebruik Covid daar uitgewis?
Medici erken die ivermektien-navorsing. Te min pille word tans wêreldwyd vervaardig vir huidige vraag daarna, en dokters sal vervolg word as hulle diere se medisyne vir jou voorskryf.
Entstowwe is veilig, soos polio ons al geleer het, en báie effektiewer (en veiliger) as permanente ivermektien gebruik.

Hennie ·

As die entstof newe effekte en risiko nie ‘n 100/1 minder as die siekte is nie wat help die entstof, die Sterfte syfer can covid is minder as 1% van almal wat dit kry, nie almal sal dit kry nie, en vir mense sonder enige ander kwale is dit nader aan 0.01%
Die entstof gaan aan almal gegee word, en die risiko is hoër as die virus, so jy gaan met meer sterftes sit, dit maak niks sin nie

Piet ·

Hoe bedoel jy die risiko is hoer as jy die entstof neem? Mens kry nie die virus omdat jy die entstof geneem het nie en ernstige newe-effekte is so skaars soos hoendertande? As jy die entstof neem, is jy ten minste vir ‘n tyd immuun en kan ook nie iemand anders aansteek nie. Die wereldgemiddeld vir sterftes agv van Covid is oor die 2%

Vlooitjie ·

Kry dan maar vir jou die entstof Piet en los die mense wat nie gemaklik daarmee is nie

Piet ·

Dis jou goeie reg maar daar behoort nagevolge te wees vir diegene wat nie wil deelneem aan die program nie. As jy dan wel Covid kry, vergeet maar van hulp van die staat of jou mediese skema, jy’t mos besluit om jou eie risiko te loop.

4ntj13 ·

Dit stel ons egter weer bloot as daar sulke mense bly, buite voorgestelde ontkenner Covid-kampe geïsoleer van die res en van die kwesbares. Entstof is veilig, mense! Baie veiliger en minder “newe-effekte” as selfs ligte Covid. Dís wat in media buite fopnuus staan, en wat etiese, beskaafde dokters kliphard probeer om vir die mensdom te vertel. Ivermektien is soos Panado vir griep. Dit help ook! Dit keer nie die uitsondering dat hy jou sleg vang en doodmaak nie.

Friedrich ·

Dit is ‘n klug, daar is tablette wat werk teen Covid-19, wat baie goedkoop is, maar dit sê niemand nie!?!?

Francois Le Cochon ·

Ek gebruik al sedert April verlede jaar “Old Spice After Shave”, en het nog nie Covid opgedoen nie. Friedrich, jy moet dit ook gebruik. Ek beveel dit sterk aan.

Strandloper ·

Mmmm dalk goedkoper om alcohol as disinfectant te koop, after shave bestaan basies uit alcohol. Doen self navorsing oor HOCI, daar is jou antwoord en gemoeds rus.

Charles ·

Friedrich jy is reg, maar dit is te goedkoop, die entstof makers sal onmiddelik bankrot wees. Die entstof is so gou ontwikkel, dit was ook net twee maande lank op vrywilligers getoets, gewone entstof word eers vir jare op diere getoets, so newe effekte sal so deur die jare hul opwagting maak. Terloops moenie jouself steur aan die snedige opmerkings nie.

Piet ·

Ek drink al die afgelope 5jaar koeksoda en word net nie siek nie. LOL

Lourens CFG ·

Die heel eerste berig van die entstof, geskryf deur ‘n viroloog wat daar betrokke was, noem hy dat dit ‘n stukkie van jou DNS “ontkoppel”, en dan die gemanupileerde entstof daar inlas. Hy het nogal met sketse verduidelik.
Nou wil hierdie viroloog ons anders oortuig?
Nee dankie, met Bill Gates en daardie ander miljarders daarby betrokke, kan hulle dit maar in die drein afgooi, ek stel glad nie belang nie, al kry ek die virus, ek is in my Vader se hande.

Barend ·

Jou temperatuur word op jou voorkop of gewrig geneem. Word al klaar voorberei

Piet ·

Dis reg dat mense self besluit of hul die entstof wil neem MAAR ek dink daar moet nagevolge wees as jy dit nie wil neem nie. As jy dan wel Covid kry en ernstig siek word, kan jy nie verwag dat die staat of die mediese skema vir jou moet sorg nie. So bly maar in jou bed dan en hoop die griepie gaan verby. Die hospitaalbeddens gaan beskikbaar wees vir diegene wat wel by die program ingeval het. En as dit duidelik word dat jy mense aangesteek het weens jou halstarrigheid, moet jy maar vewag dat hulle jou gaan hof te sleep vir skadevergoeding.

Fritz ·

So veronderstel ek het covid onder lede en ek stap in n winkel rond, eet in n restaurant, staan iewers in n lang ry om my bestuurslisensie te hernu, ens. Hoe gaan jy BO ALLE REDELIKE TWYFEL (dis die bewyslas vir n kriminele saak) bewys dat ek iemand anders aangesteek het?
En geen antwoord nie………

Piet ·

Daar gaan wel gevalle wees waar jy jou saak op ‘n oorwig van waarskynlikheid (die bewysmaatstaf in ‘n siviele saak, wat dit sal wees, kan bewys). So terloops – die bewysmaatstaf vir ‘n strafsaak is bo redelike twyfel nie bo alle redelike twyfel nie.

Persheks Adri ·

Tsek met die entstof! My lyf my keuse en niemand maar niemand sal my of my gesin ent nie. Dis my grondwetlike reg om te weier

Oomniklaassevriend ·

Koste van inenting van die bevolking R20 miljard. Koste van effektiewe medikasie soos ivermektien of hypochloroquine R50 miljoen. Een of ander oud president het seker weer somme gemaak of die omkoopgeld vir entstowwe is baie.

Irma ·

Daar word in hierdie artikel genoem dat die enstof in sekere gevalle “neurologiese newe-effekte” veroorsaak het. Van watter neurologiese newe-effekte word hier gepraat. Kan die dokter meer spesifiek wees.

Frank ·

Ja, en NET SOVEEL wereld bekende viroloë sê bly weg van hierdie eksperimentele entstowwe. Daar was net eenvoudig nie genoeg TYD om dit deeglik en voldoende te toets en te ontwikkel nie (veral vir menslike gebruik). Byt ook nie aan die 85% herstelkoers nie. Op gesonde mense sonder onderliggende kwale is dit diep in die 90%!!!

john ·

Hy kan nie met jou DNA peuter nie dis waar maar dit is gerig op die RNA ( doen jou eie navorsing oor die verskil) en weetenskapplikes kan nie waarborg dat dit geen effek het nie. Ek het dit bespreek met n Prof In genetica. Dit kan lei tot auto imune diseases wat baaie later te voorskyn kan kom en wat nie omkeer baar is nie. Die prof het n vidio uitgebring op die internet waar hy geen meening gegee het om dit te vat of nie te vat maar net verduidlik hoe presies die vaccine werk. Die vidio was letterlik minder dan 24 uure op die web toe is dit spoor loos verwyder. So wat steek hulle weg hoekom mag ons nie weet hoe presies werk die vacine . Hierdie vaccine is totaal verskillend as die wat ons vroer gekry het vir polio en smallpocks. Maar mense neem maar jou eie besluit maar ek neem dit nie

Charles ·

Jy is doodreg, het ook soortgelyke videos deur bekroonde medici gesien.

Miskruier ·

Waarom se die brief van my mediese fonds die vaccine sal my dalk nie teen die virus kan beskerm nie?waarom dan spuit wil ek weet.

Boksombende ·

Lang storie kort: Daar was nie tyd vir grootskaalse proewe met die entstof nie, so dit is wat nou besig is om te gebeur. Ek stem, mens moet self besluit waar jy staan en wat jy gaan doen. Soos ons onlangs gesien het, die entstof is nie die enigste medisyne beskikbaar wat met COVID kan help nie. Of alternatiewe beskikbaar sal wees hang seker af wie se sakke in die regering die meeste gaan baat.

donsie ·

sal graag wil weet of mense met kanker die entstof kan kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.