Video: Vloedwater sleur woonwaens mee

Stormwater stroom deur die De Rust-woonwapark in Dinokeng. (Foto: De Rust Caravan Park/Facebook)

Die Dinokeng-natuurreservaat het Saterdag alle selfbestuur-roetes gesluit nadat swaar reën groot skade en verspoelde paaie veroorsaak het. Die roetes sal na gelang van die weer tot minstens Sondag gesluit bly.

Dramatiese video’s van die kitsvloede wys hoe verskeie woonwaens en voertuie by die De Rust-woonwapark deur vloedwater meegesleur word.

Gert du Preez, bestuurder van die oord, sê ʼn golf van water het Saterdag omstreeks 06:30 deur die woonwapark gespoel. “Dit was verskriklik,” sê hy.

Talle gaste was nog kwalik wakker toe die vloedwater chaos veroorsaak het.

Dinokeng Game Reserve . De Rust karavaanplek

Posted by Lynn Spamer de Jager on Saturday, February 5, 2022

Volgens Du Preez moes ʼn vrou uit die rivier gered word, terwyl nog ʼn besoeker suurstof moes ontvang. Daar is inderhaas vir gaste klere op Hammanskraal gaan koop sodat hulle ten minste iets kon aantrek.

Die meeste mense het reeds die perseel verlaat en Du Preez sê hulle hou die situasie fyn dop. Die damme, sytakke en spruite in die gebied was reeds stampvol en ná gister se reën het die situasie vererger.

“Ons is uit en veilig, maar die Pienaarsrivier styg steeds,” sê hy.

Pienaars river in flood.Low water bridge at Kwalata…

Posted by Ephraim Vermaak on Friday, February 4, 2022

ʼn Verwoede storm Vrydagaand in die gebied het groot ontwrigting, skade en kitsvloede op talle plekke veroorsaak.

Die Tshwane-metroraad is sedert vroegdag besig om reddings- en ontruimingspogings te koördineer en nooddienswerkers staan bont om inwoners wat in hul motors of huise vasgekeer is, te red. Talle bome is ontwortel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.