Video: Vreemde vrou amper vort met kind in winkel

‘n Skermgreep uit ‘n video van die voorval.

Lees ook: Vrou vas wat glo kind in winkel gryp 

Die Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van mensehandel nadat ’n onbekende vrou glo byna die afgelope naweek sonder toestemming met ’n ma van Sasolburg se kleuter uit ’n winkel gestap het.

Die vrou het na bewering die driejarige seuntjie gevat en byna met hom uit die winkel gestap terwyl die ma vir haar inkopies betaal het. Toe die ma haar konfronteer, het die vrou doodluiters gesê: “Ek stap uit die winkel met jou kind”. Die vrou het toe begin lag en aangevoer dat sy bloot ’n grap met die ma gemaak het.

Dié ma, wat verkies om anoniem te bly, raai nou ouers aan om liefs nie hul kinders saam te neem winkel toe nie.

Sy het aan Maroela Media vertel dat sy Vrydag vroegaand enkele kruideniersware by ’n supermark in Sasolburg gaan koop het.

Volgens haar het sy drie vroue vroeër in die winkel agter haar opgemerk. Dieselfde vroue het later agter haar in die ry by die betaalpunt gestaan. Die vroue het verskeie kere met ’n winkeltrollie teen haar gestamp, maar sy het dit geïgnoreer. “My aandag was by my kind.”

Sy het haar kruideniersware by die betaalpunt uitgepak terwyl haar seuntjie op ’n reling langs haar by die betaalpunt gestaan en speel het.

“Ek het die vrou sien nader stap, maar niks vermoed nie. Ek het vir ’n oomblik afgekyk om my bankkaart uit my beursie te haal en toe ek weer sien, toe stap sy weg met my kind.

“Ek het regtig vir ’n oomblik gedink die vrou skeer die gek met my, maar toe sien ek sy stap al verder weg …”

Die ma vertel dat sy na die vrou gehardloop het en haar seuntjie by die vrou gegryp het. Sy het die vrou gekonfronteer en dié het bloot geantwoord: “Ek stap uit die winkel met jou kind,” voordat sy begin gelag het.

Die ma het haar kruideniersware gaan betaal en sy en die winkelbestuurder is toe na die sekuriteitswag sodat dié moes ondersoek instel. Die verdagte vrou het in dié stadium een kant teen ’n muur gestaan en gewag vir die ander twee vroue in die ry om te betaal.

“Die sekuriteitswag het haar gevra waarom sy my kind gevat het en sy het weer gelag en gesê dat sy gegrap het en net met hom wou rondloop om hom besig te hou.” Die sekuriteitswag het dit daar gelaat en die ma is huis toe met haar seuntjie.

Sy het later die voorval by die polisie aangemeld.

“Dit is scary om te dink waar my kind vandag kon wees as ek die vrou net ʼn paar sekondes later met hom sien wegstap het.”

Sy vermoed dat haar seuntjie weens sy ouderdom gelukkig nie verstaan het wat byna gebeur het nie en hy is nie getraumatiseer ná die voorval nie.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die provinsiale polisie, het die voorval Maandag aan Maroela Media bevestig.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

mymasekind ·

Daar is nie ‘n manier dat daardie vrou lewendig uit daai winkel sal stap nie!! ” Niemand in hegtenis geneem nie? Hoe is dit moontlik?!?!?!?

Jaco ·

Niemand in hegtenis geneem nie, want die slagoffer is “mos maar net wit”. As jy in 2021 wit is in dié anti-wit SA, pas jouself en jou familie dan BAIE GOED op, want daars geen geregtigheid vir wit mense meer nie.

virginia ·

Hoekom het die sekuriteit dit net daar gelaat?! Duidelik het hierdie vrou ander motief gehad. Dankbaar die seun is veilig.

Persheks Adri ·

Stupid grap om te maak! Wat gaan aan met die vrou? Nee hel man sy’s tatie in die kop

Misky ·

Heng, ek sou groot amok gemaak het en daai vrou sou nie op haar eie daar uit geloop het nie

Linx ·

As mens die video kyk lyk dit asof niemand voel dit is verkeerd nie,sy het daai seuntjie geruk van dai tralies af en geloop met hom,dt word as a casual ding beskou,oooooo die Here weet ek sou in die selle geslaap het.

GL ·

Ontvoering en spesifiek “kinder-roof” is ‘n Skedule 1 oortreding, sover ek weet. Die video wys duidelik dat daar redelike gronde is om te vermoed dat sy haar aan hierdie misdryf skuldig gemaak het aangesien sy sonder die ma se medewete met die kind by die winkel uitgestap het.

Enige persoon daar wat die insident gesien gebeur het kon dus ‘n burgerlike arrestasie (citizen’s arrest) uitgevoer het. Lees gerus na oor die moet en moenies van burgerlike arrestasies.

Kattebol ·

Daai vrou sou sooooooo spyt gewees het as sy dit met my kind gewaag het……..

Riaan ·

Die akteur Jim Caviezel het ‘n nuwe fliek gemaak oor die lewe van Tim Ballard – Operation Underground Railroad. Dit is die moeite werd om miskien ‘n bietjie te gaan oplees oor die kinder smokkel netwerke. Die onderhoud tussen Tim Ballard en Candace Owens op youtube is ook interessant. Dankie tog vir manne wat opstaan teen die euwil.

sopbeen ·

My vraag is net kan daar nie ‘n klag teen die sekuriteits man gemaak word omdat dit onverantwoordelik was van sy kant af om die vrou te laat gaan het. Dit is nie sy keuse of die vrou se gedrag aanvaarbaar of onaanvaarbaar was nie. Nou het hy ‘n moontlikke kinder dief los gelaat. Die feit bly staan sy het die kind gevat en net dit alleen is reeds ontvoering of sy nou daarin geslaag het of nie.

JohanR ·

Vrou of nie ek sou haar net daar geklap het! Wees versigtig mamma en pappas. Kinders word ook gebruik vir moetie deur sangomas soos om ‘n pizza te bestel, bestel jy ‘n kind. Jammer die video is duidelik….die kind is gegryp.

Madz ·

Dit wat ek WIL kwytraak is nie sosiale media taal nie…..!!!

Corne123 ·

Nee wat daai tyd is praat verby sy sal iets sien wat sy nooit sal vergeet nie

Vanessa ·

Die manier hoe die kind gevat word deur die vrou dui daarop dat sy ander planne gehad het. Sy gryp die kind vinnig van die reëling terwyl die ma betaal vir haar goed en met haar rug na die kind toe staan, dan steek sy die kind vir ‘n ruk voor haar weg voordat sy hom oor haar skouer gooi.

Dis skokkend dat sy nie ondervra word nie, sy lag dit af en sê dis net ‘n grap. Dis hoekom dit so gaan in die land. Alles is net ‘n grap. Jy vat nie aan ander mense se kinders nie. Gelukkig was die mamma oplettend anders weet ek nie of sy ooit weer haar kind sou sien nie. Dis skokkend!!!!!!!

antieke antie ·

Watse sekurity het daai winkel en dit moet verpligtend wees om die polisie in te roep en n saak maak en die oortreders on hegtenis gehou word

Gert ·

Nee kyk die bloed sal loop. Daai tyd praat jy nie. En as dit as grap bedoel was gaan sy baie sukkel om te lag as ‘n vreemde mens sy of haar kind teen haar beskerm

Daleen ·

Dis hoekom ek my kleinseun vandat hy so 2 jaar oud is leer as ek jou handjie nie kan vashou – dan is jou handjie in ouma se broeksak (maar DIT gebeur baie min) – so ek voel hom te alle tye – maar ek verkies om hom in trollie reg voor my te he. Maar ja die ene sou vir ‘n lang tyd nie kon lag as ek haar beetgekry het nie! Ouers asseblief pas julle kinders met julle lewens op my bloed stol as ek by restaurante sien hoe ouers kuier en nie oplet waar hulle kinders is nie. DIT KAN MET JOU KIND GEBEUR

Marissa ·

Ek is sommer nou rooi onder die kraag. Ek het 3 meisiekinders 9, 6 en 10 maande. Pft…ek klap haar uit daai fur pantoffels van haar uit!

KB ·

Telkens die laaste sinnetjie:
“Niemand is nog in hegtenis geneem nie”.
Dit raak effe irriterend (waar lê die fout?)

Kirst ·

As ek om een of ander rede moet wegkyk van my kind af in ‘n winkel sit ek altyd ‘n hand op hulle skouer sodat ek kan voel hulle is daar. Mens moet ongelukkig so wees vanwee sulke mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.