Video: Vreugde oor Wes-Kaapse rivier wat vloei

‘n Skermskoot uit die video geneem deur Kowie Stofberg.

ʼn Video van die Jan du Toitsrivier wat weer begin vloei het nadat die Wes-Kaap die afgelope paar dae broodnodige reënval ontvang het, het verheugde sosialemediagebruikers gaande.

Die Jan du Toitsrivier is in die Waaihoekgebied naby Worcester geleë. Die video is geneem deur Kowie Stofberg van die plaas Orleans en is sedert dit Donderdag op Facebook geplaas is al meer as 11 000 keer op die sosialemediaplatform gedeel.

Selfs Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het die video op haar amptelike Twitter-profiel gedeel en gesê dit is waarlik iets om te aanskou. “Gaan asseblief steeds voort om water te bespaar. Dit sal jare neem vir ons damme om te herstel,” het Zille by die twiet gemaan.

Honderde mense het op Facebook by die video kommentaar gelewer en gejubel oor die welkome reënval. “Dit is die mooiste gesig en ons is dankbaar vir elke druppel wat val en die riviere voed,” het een sosialemediagebruiker geskryf. “Dit laat ʼn mens darem so klein voel wanneer jy kan sien hoe God sy genade uitstort,” het ʼn ander een opgemerk.

Nog ʼn gebruiker het dit as “die beste video van die jaar” bestempel, terwyl talle ander hul vreugde uitspreek het oor die reën.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) is reënval Donderdag op talle plekke in die Wes-Kaap aangeteken. Dit het gewissel van 41 mm by Robbeneiland tot net 2 mm by Kaap Agulhas. In die Kaapstadse sakesentrum is 30 mm aangeteken, 26 mm in die Strand, 24 mm by die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag in Kaapstad, 30 mm in Grabouw, 23 mm in Jonkershoek, 12 mm in Hermanus, 27 mm in Kirstenbosch, 13 mm by Kaappunt en 5 mm by Struisbaai.

Ondanks die reënval is streng waterbeperkings steeds in die provinsie van krag en word Kaapstadse inwoners versoek om waterverbruik te verminder tot 50 l per persoon per dag om Dag Zero te vermy.

Jan Du Toits'rivier begin vloei.Dis by Goudini Weg.15km vanaf Worcester. Rigting Wolseley.So dankbaar vir die goeie reën. Wyndruiwe wêreld!Video geneem deur buurman Kowie Stofberg van die plaas Orleans.

Posted by Heléne Le Roux on Thursday, April 26, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Daan ·

Oe God is getrou. Eer en lofprysing aan God want sy goedertierenheid het geen einde.

Anoniem ·

Ek het vandag tussen worcester en ceres gery, en dan gaan jy twee keer oor hom, die eerste loop was donderdag droog en vandag ook, die tweede loop het donderdag lekker gekabbel maar was vandag weer droog. Ek is spyt ek verlaat nou die area, sou graag wou sien of hy weer loop

Oom Kalahari ·

Opregte Gebed en Geloof tot God laat wonderwerke nog gebeur. Mag hierdie droe gebiede met meer water Geseen word en ons gebede gaan uit na hierdie gebiede wat swaarkry met water beperkinge. Einde Junie gaan hul nog breed lag en hul water ten volle geniet. Alle seeninge vir die Kaap, Karoo en Noord Kaap.

Gert van Oudtshoorn ·

Alle eer kom toe aan God ons Vader,Hy sal voorsien,want hy het ons lief,dank Hom daarvoor en bly glo dat nog reen sal kom.

Elaine ·

Here, net U kan ‘n kurkdroog rivier weer laat vloei! Prys U Naam!

LB S ·

Dit is so verblydend om te sien dat MM se lesers nog meestal Christene is, altans, diè wat kommentare plaas. Gaan kyk op Netwerk24 en julle sal geskok wees om te vind dat seker 80% van die kommentators vir jou wil vertel dit is alles ‘n fabel en selfs God bespot.

Lerato ·

Die frase; ” Self Helen Zille” laat mens glimlaggend wonder hoekom die skrywer/s dit juis só gestel het

Veronica ·

Dankie Here Jesus, dat U die trane van U volk raak gesien het en ons gebede verhoor het. Loof U lieflike naam! Ons aanbid U! I is Wonderbaar, Koning en Redder! Haleluja !.Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.