[Video] Vrou baklei terug teen rowers

Twee polisiekonstabels by die drie verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: Twitter via @Abramjee

Drie mans is in hegtenis geneem op grond van beeldmateriaal wat aan die lig gekom het en wys hoe ʼn vrou verbete aan haar handsak vasklou terwyl sy in Auckland Park in Johannesburg beroof word.

Die beeldmateriaal wat van veiligheidskameras af verkry is, is deur Yusuf Abramjee, kommunikasiedirekteur van Crime Stoppers International, op Twitter gedeel. Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe ʼn motor langs ʼn vrou wat langs die straat stap tot stilstand kom en twee mans uit die voertuig spring.

Die vrou laat val ʼn tweede sak wat sy in haar hand het en een van die boosdoeners gryp dit en gooi dit in die voertuig. Die tweede rower rig ʼn vuurwapen op haar en probeer haar handsak van haar skouer afgryp. Sy makker probeer om hom te help, maar die vrou klou egter verbete aan die handsak vas. Ten spyte van die rowers se pogings kan hulle nie die handsak uit haar greep loskry nie.

Naderhand blaas die rowers die aftog, spring in die voertuig en jaag weg.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê nadat die vrou ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het en die beeldmateriaal onder die polisie se aandag gebring is, is verskillende leidrade opgevolg. Drie verdagtes tussen die ouderdomme van 26 en 30 jaar is Maandagoggend in Brixton in hegtenis geneem.

Volgens Makhubele word die mans aangekla van gewapende roof, onwettige besit van ʼn vuurwapen en die besit van gesteelde goedere. Hy het gesê die vuurwapen wat vermoedelik tydens die rooftog gebruik is, is ʼn gaspistool.

Die mans sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Speedguard ·

Waneer ‘n voertuig langs jou stop draai onmiddelik om en loop of hardloop dan terug in die rigting van waar jy gekom het ,die bestuurder gewoonlik in jou onverwgse optrede plaas die voertuig in tru rat en begin terugstoot terwyl die ander nog uit die motor iut strompel en die deure hulle dan omstamp agv die agteruit beweging, hou die voeruig die hele tyd dop en beweeg altyd in die teenoorgestelde riging as die voertuig terwyl jy so hard as moontlik skree ! Baie dapper meisie maar kon jy sien sy was op haar passopens!

Johann ·

Ja, dit is inderdaar wel gedaan vir die dame, MAAR, is die inhoud van daardie handsak haar lewe werd? Daardie items kan vervang word, maar haar lewe nie. Hulle kon haar geskiet het, of met n mes gesteek het om daardie handsak te kry (want ons almal weet hulle maak dood vir selfs R5 deesdae). Ek is net dankbaar dit het nie daardie roete geloop nie.

HPV ·

Johann, dit maak nie saak wat in die handsak was nie, sy was bereid om te veg vir haar eiendom.
Ons het meer sulke mense nodig.

Leahim ·

Ek stem saam baklei terug die vrou is n voorbeeld vir baie mans veral die wat altyd te bang is om te lewe.

Jean ·

Johann ek is seker jy is reg, jou handsak is nie jou lewe werd nie maar jy moet tog onthou in haar handsak is haar HUIS se sleutels, miskien ook haar kar se sleutels of AL geld wat sy oorhet vir die maand om haar huur/kos mee te koop. Nee dis nie jou lewe werd nie, maar jy kan ook nie sonder geld jou huur betaal of wat jy jou geldjies ookal voor nodig het nie. Nie almal het ‘n groot hoeveelheid geld in hulle bankrekeninge nie , en as hulle jou huis se sleutels het, hoe vervang jy die slotte met niks? Jou ID is in die handsak, jou bankkaarte, dis baie maklik om te se jou handsak is nie jou lewe werd nie, SOMS is dit al wat jy het!!

Dankie dankie ·

Dankie Yusuf vir die deel van die video. Kort meer sulke Polisie beamptes en hulpmiddels. Aan die Super girl, great, ek is bly jy het so lig afgekom, dat hul nie geskiet het nie. Jy is sooo dapper, wens mens kan jou beloon!

T ·

;n ander kar het daar verby gery en net mooi niks gedoen nie … sad

Speedguard ·

Die probleem is, as jy nie in die wetstoepassings beroep is nie , word die helper gewoonlik die vark in die verhaal, het dit ondervind, ek neem niemand kwalik wat nie inmeng nie, dit klink slapgat maar wat jy besluit om te doen in ‘n paar sekondes, is daar ‘n advokaat wat jare vat om hom self voor te bery om jou as helper soos ‘n hond te laat voel en maak hy jou nog die bedieer ook !!

Baas ·

Hulle kry mos swaar….hulle het nie kos op die tafel nie……ek wil ook begin swaar kry…dan kan ek darm ook n GTI bekostig

Verbasie ·

Verbaas die boosdoeners het haar nie seerder gemaak en geweldadiger hanteer nie. Vieslike goed is die wereld vol…. Hoop maar reg en geregtigheid sal geskied. Miskien kan Maroela bietjie tred hou met hierdie saak en weer berig in die toekoms in terme van hulle verhore ens.

Jysreg ·

… en die berig sou weer geeindig het met “Nog niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie”.

Lione ·

Ek’s seker jy stop ook om mense langs die pad te help. Nee wat, daai kar het die regte ding gedoen om verby te hou. Sou jy stop na dat jy duidelik die vuurwapen kan sien? Ek glo nie.

Ek se maar net ·

As die vrou wit was is ek 100% seker hulle sou haar skiet. Sê maar net.

Grant ·

“Crime pays” – kyk na die kar wat hulle ry. Wat egter skokkend is dat sy opstaan, haarself afstof en net aangaan…..amper asof dit maar die verloop van ‘n gewone dag is – is dit regtig wat “lewe” is in SA? Welgedaan SAPS.

Adriaan ·

Ek sien daar is nie n klag van poging tot moord teen die slagoffer gelê nie …

Rofie ·

Neewat dit sal net weer ‘roof’ wees, hulle is boosdoeners, of kwaaddoeners, glad nie kriminele of diewe wat haar probeer vermoor het nie.

AP ·

T… sou jy so braaf gewees om uit te klim en iets te doen, dalk het die persoon in die ander voertuig ‘n noodnommer geskakel, het jy gesien die persoon het ‘n rewolwer in sy hand gehad en dit in haar nek gedruk, dit het ook gelyk of hulle haar in die kar wou laai, eks baie dankbaar dat sy so lig daarvan afgekom het, dit moes erg gewees het

Laurika ·

Ag nee wat vir my hartseerste is, is dat die arme vrou so bang was en so geskrik het dat sy haarself nat gemaak het. Kyk in die begin van die video is haar broek nog lig blou. Nader aan die einde wanneer hulle haar begin rond sleep, los sy ‘n nat kol op die teer en jy kan sien dat haar broek onder nat is. Dit is die hoogtepunt van vrees. Arme vrou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.