Video: Vrou wil ‘uit hospitaal stap’ ná ongeluk op dam

Heidi-Lene geniet sonlig vir die eerste keer in maande. Foto: Facebook.

Heidi-Lene Jonck (23), die vrou van Limpopo wat ernstige beserings in ʼn fratsongeluk op die Albasinidam oos van Louis Trichardt opgedoen het, sterk goed aan in ʼn rehabilitasiesentrum in Pretoria.

Elze-Marie du Preez, Jonck se suster, het aan Maroela Media vertel Jonck is 3 Junie by die Lynnmed Sub-Acute Hospital opgeneem en toon ongelooflike vordering.

“Hulle kon haar binne drie dae kry om te balanseer as sy sit. Al het sy tuis ook fisioterapie ontvang, is dit by die sentrum byvoorbeeld twee of drie keer ʼn dag, waar dit by die huis twee of drie keer ʼn week was,” het Du Preez gesê.

Sy sê Jonck kan nou al vir byna twee minute lank balanseer.

Maroela Media het vroeër berig Jonck is vir 33 dae in die waakeenheid van die Polokwane- provinsiale hospitaal behandel ná sy 11 Maart beseer is toe sy saam met vriende by die Albasinidam uitgespan het.

Jonck is deur ʼn boot op ʼn opblaasspeelding getrek toe die boot skerp gedraai en sy die agterkant van ʼn groot stilstaande boot getref het. Sy was vir ʼn ruk bewusteloos en sonder suurstof voor sy uit die water gebring is. Die femur van haar linkerbeen is gebreek en sy het kopbeserings opgedoen.

Du Preez vertel dat Jonck steeds voltydse versorging nodig het en afhanklik is van bedwas en die gebruik van doeke. “Ek dink gegewe waar ons vandaan kom, doen sy ongelooflik goed. Die intensiewe omgewing en gereelde behandeling maak ʼn groot verskil. Hulle werk baie hard daaraan om haar core-spiere te versterk. Sy doen vreeslik baie crunches.”

Sy vertel dat Jonck se dyspiere en achilles-sening verkort het as gevolg van die baie lê en dat dit vir haar pyn veroorsaak as sy sit en rondbeweeg. “Hulle het nou haar voete in spalke om dit weer ‘plat’ te maak. Sy was nou die dag vir die eerste keer in maande in ʼn rystoel buite en het die son op haar gesig gevoel. Sy kan nog nie vanuit ʼn lê-posisie self opstaan nie, maar kan al haarself met momentum omrol as sy op haar sy lê.”

Heidi-Lene balanseer terwyl sy sit. Foto: Facebook.

Jonck het tydens die behandeling al meer as 20 kg verloor. “Hulle wil hê dat sy nog so bietjie verloor en gebruik haar lekkernye as belonings vir haar harde werk en goeie samewerking. Sy spot nou die dag en sê vir my: ‘Weet jy hoe lank kou ek aan daai een koekie?’”

Wanneer Jonck praat, klink dit asof haar asemhaling sukkel. Oor dít sê du Preez dat dit amper erger klink as wat dit is. “Sy sukkel darem nie om asem te haal nie, dit is net as gevolg van die skade aan haar lugpyp weens die pyp wat vir so lank in haar keel was. Dit is nogal vir my opmerklik hoe sy nou met dieselfde ritme praat as waarmee die asemhalingsmasjien haar help asemhaal het. Haar korttermyngeheue is ook nog nie heeltemal reg nie. Sy kon gister toe ons haar besoek het byvoorbeeld nie onthou of sy reeds geëet het of nie.”

Jonck ontvang arbeids- en fisioterapie, asook fisieke versorging, voeding, verblyf, wondsorg vir die drukseer op haar hak en selfs wasgoeddienste by dié sentrum teen ʼn verlaagde onderhandelde prys van R1 500 per dag.

“Die sentrum het ons gekontak met hierdie wonderlike aanbod. Suster Nickey het met die dokters en terapeute onderhandel om ons tegemoet te kom met dié prys.”

In dié stadium hoop die gesin om Jonck vir ʼn minimum van vier maande in die rehabilitasiesentrum te kan behandel.

“Ons het nou genoeg geld vir een maand, maar dit gaan maar bietjie knap vir die volgende ruk. My man het reeds as voorsorgmaatreël ʼn tweede verband op ons huislening uitgeneem. Ons wil haar nie uithaal en al die opgeboude momentum van haar vordering verloor nie. Ek vertrou op die Here. Hy sou nie hierdie kind so ver gebring het net om haar nou te los nie. Vir die eerste drie weke in hoësorg kon hulle nie vir ons sê of sy dit gaan maak nie – God het ʼn plan met haar lewe, ek is oortuig daarvan.”

Enige persoon wat ʼn bydrae wil maak vir Jonck se pad van herstel kan die Facebook-blad Heidi-Lene Jonck, By Faith You Will Walk Again, wat die gesin begin het, vir verdere besonderhede besoek.

Die mooiste blom in Pretoria ????

Posted by Heidi-Lene Jonck, By Faith You Will Walk Again on Thursday, June 14, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tanzie ·

Ongelooflik hartseer. Mag die Here jou hartsbegeertes laat waar word.

PIKKEWYN ·

Dit is wonderlik om van haar vordering te lees!! Baie sterkte vir julle almal en ons glo, bid en vertrou dat sy die nodige finansiele steun sal kry sodat sy wel daar gaan uitloop en dank aan ons wonderlike God dat hy haar tot hier beskerm het en ook vir julle as familie wat haar so pragtig ondersteun en aangemoedig het tot nou. Dit is so kosbaar en sy is baie gelukkig om julle te kan he.
Ek glo saam met jou dat God ‘n plan met haar lewe het.

Nicolene ·

Jy praat wonderlik!!! Sterkte en ons bid vir jou volle genesing

Limpopo boer ·

Baie dankie Lynnmed en vinnige beterskap vir jou Heidi-Lene, ons dink aan jou.

Lana ·

Ons is baie dankbaar dat jy al so mooi herstel het!! Ons bid vir volkome genesing.
Wees sterk en vasberade.

Kaufman ·

Jy klink en lyk sommer baie goed, ek is baie bly oor jou mooi herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.