Video: Vyf SA’ners doen aansoek om op Mars te bly

Foto: Youtube

Uit die 35 000 aansoeke wat reeds ontvang is vir die Mars One-projek, waarmee beoog word om die eerste menslike kolonie op die Rooi Planeet te vestig, was slegs vyf van Suid-Afrika.

Om aansoek te doen moet jy op die webwerf www.mars-one.com ʼn video-aansoek indien oor hoekom jy Mars toe wil gaan en hoekom jy gekies moet word. Die projek wat in Nederland begin is, het ten doel om teen 2023 die eerste menslike kolonie op Mars te begin. Daar moet egter in ag geneem word dat dit ʼn eenrigting-reis is en daar geen terugkeer is vir die Marsbewoners nie. Die eerste groep van vier aardbewoners sal in September 2022 na Mars vertrek en sal tussen sewe en agt maande later op die Rooi Planeet aankom. Hierna sal daar elke twee jaar vier aardbewoners na Mars gestuur word. Mars-One sê op sy webtuiste hy is ʼn “nie-vir-wins-organisasie” en dat die tog na Mars deur ʼn TV-werklikheidsreeks befonds sal word. “Mars-One is van voorneme om hierdie dekade-lange poging te finansier deur die betrokkenheid van die hele wêreld as die gehoor van ‘n interaktiewe, televisie-uitsending wat elke aspek van hierdie missie, van die keuring van die ruimtevaarders en hul voorbereiding vir hul tog en hulle lewens op die Rooi Planeet sal dek .”

Hoe die keuringsproses werk

Die aansoeke is op 22 April 2013 geopen en die aansoeke sluit op 31 Augustus 2013. Na die periode sal die Mars-One kenners besluit wie na die volgende ronde deurdring. In die volgende ronde sal die kandidate deur ʼn uitgebreide keuringsproses moet gaan waartydens daar onder meer na hul gesondheid gekyk sal word. Die Mars-One kenner sal hierna besluit wie vorder na die volgende ronde. In ronde drie sal die kandidate verskillende uitdagings moet oorkom wat op televisie uitgesaai sal word. Die gehoor sal een wenner per land kies en die Mars-One kenners sal bykomende kandidate kies om na die volgende ronde deur te dring. Kandidate wat na die vierde ronde deurdring sal aan ʼn internasionale geleentheid deelneem wat regoor die wêreld uitgesaai sal word. ʼn Totaal van 24-40 kandidate sal na die afloop van die ronde gekies word en deur Mars-One aangestel word en met opleiding begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gawie Botha ·

,,,,,,,,,Ek glo nie dat hierdie persone op Robbeneiland sal kan oorleef in afsondering,wat nog van Mars!,waarvan wil hulle lewe,,”Bullybeaf en biscuits?”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.