Video: Wat jou kind vóór die matriekvakansie moet weet

Hendri Myburgh gesels met Louis van Bergen, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind, op Die GROOT Ontbyt. (Skermskoot)

Die gevoel wanneer ʼn matrikulant uiteindelik die laaste vraestel van sy of haar skoolloopbaan geskryf het, is een van vreugde, verligting en vryheid.

Ongelukkig gaan dié gevoel en die feesviering wat volg dikwels gepaard met roekelose gedrag en verontagsaming van reëls. En dít is juis waarteen Louis van Bergen, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind, waarsku.

Geen skoolreëls beteken nie geen gevolge nie, het Van Bergen in ʼn onderhoud op die ontbytprogram, Die GROOT Ontbyt, gesê. “Indien jy die wet oortree wanneer jy met vakansie is, kan jy steeds vervolg word en met ʼn strafregtelike rekord opgesaal sit. En niemand wil hul volwasse lewe met ʼn misdaadrekord begin nie.”

Van Bergen sê om ʼn skoolverlater te wees, is geen verskoning vir wetlike oortredings nie – inteendeel, wetgewing by gewilde matriekvakansiebestemmings word gewoonlik nog strenger toegepas omdat jongelinge hulle dikwels in dié tyd aan oortredings skuldig maak.

Van Bergen raai ouers aan om met hul kinders ʼn gesprek aan te knoop oor moontlike oortredings voordat hulle met matriekvakansie vertrek. “Ouers moet waaksaam wees en met hul kinders gesels oor wat hulle mag doen en wat nie,” sê hy.

Een van dié aspekte wat matrikulante moet weet, is dat dit ʼn strafregtelike oortreding is om dronk op straat te wees of alkohol op straat te gebruik. “Moet ook nie onder die invloed van drank bestuur nie. Maak eerder van ʼn taxi gebruik of wys iemand aan wat nugter gaan bly om die aand te bestuur.”

Van Bergen wys uit dat om besope agter die stuurwiel in te klim baie ernstiger gevolge as net ʼn dronkbestuuraanklag tot gevolg kan hê. “Jy kan van strafbare manslag aangekla word indien jy ʼn ongeluk veroorsaak waarin iemand sterf.”

Hy waarsku ook teen seksuele aktiwiteite tydens matriekvakansie. “Skoolverlaters moet daarvan bewus wees dat seks met minderjariges ʼn oortreding is. Selfs al gee die ander persoon sy of haar toestemming, as hy of sy jonger as 16 jaar oud is, kan jy van statutêre verkragting aangekla word.”

Hy raai ouers ook aan om met hul kinders te praat oor dwelmgebruik en veral die gebruik van dagga. “Ons weet jy mag nou cannabis privaat gebruik, maar ook net ʼn bepaalde hoeveelheid. Bly maar weg van dwelms. Dit is ʼn tyd om fees te vier en tyd saam met jou vriende te geniet; moet dit nou nie bederf met só iets nie.”

Sibusiso Malaza, LUR vir onderwys in Mpumalanga, het verlede week skoolverlaters gewaarsku om hulle nie aan swak gedrag en wetlike oortredings skuldig te maak tydens hul matriekvakansie nie. “Ons doen ʼn beroep op ouers om saam met skole te werk om hierdie sogenaamde ‘pens down-partytjies’ te veroordeel en leerders in te lig oor die ernstige gevolge daarvan,” het Malaza gesê.

“Daar het voorheen al aaklige dinge gebeur juis weens hierdie partytjies. Dit is op grond daarvan dat ons leerders wil waarsku.”

Die SAPD het ook in ʼn verklaring matrikulante sterk afgeraai om hulle aan roekelose en onverantwoordelike gedrag skuldig te maak, veral wanneer hulle onder die invloed van alkohol is of deur vriende gedwing word om iets te doen.

Kyk gerus hier na die volledige onderhoud met Louis van Bergen. Die GROOT Ontbyt word elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks uitgesaai op GROOTfm 90.5 of DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Francois le Cochon ·

My raad, beproef alle dinge en behou die goeie. Moet nooit jou opvoeding vergeet nie. As jy nie goeie opvoeding gehad het nie, jammer vir jou. Soos hulle se^, breeding counts, en soort soek soort.

E.K. die eerste ·

In my dae was daar nie sulke goed. Jy het maar saam met jou ouers met vakansie gegaan (dis nou as jul Des weggegaan het) en dit was dit. Ekself het die Vrydag my laaste vak geskryf en die Maandag begin werk – niks vakansie gehad, maar was te bly ek het werk gekry so het ingespring!

Karl ·

En in jou dae, het blankes vinnig werk gekry, in n veilige land, die rand was sterk en die crime min, was bevoordeel agv velkleur. So ons kan nog vergelyk as jy wil? Geniet die party matrieks! ekt myne vrek baie geniet, have a jol! Gaan Groot!

E.K. die eerste ·

Ag toe Karl – blankes het in my dae NIE maklik werk gekry dis hoekom ek dadelik begin werk het omdat ek wel kon kry (EN deeltyds studeer en self betaal het) as om te gaan jol. Watookal.,,jy gee jouself weg met jou kommintaar

jakes ·

“Brannas het nie brieke nie” en dit geld vir seuns en meisies. Party van hierdie partytjies sal groot jollers laat bloos. Veral in Margate.

Jo ·

Dit is snaaks dat dronk op straat en drank gebruik op straat strafregterlik is. Hier in Kirkwood sien mens dit daagliks en niks word daaraan gedoen nie.

Karolis ·

Dit is glad nie nodig om met dagga en/of dwelms te eksperimenteer nie.
Los dit vir die wat nie sukses wil bereik nie.

Mickey ·

Ferdi stuur jy maar jou seuns verpligte weermag toe. Ek nie my kinders stuur nie. As jou kinders n goeie opvoeding gehad is is n vakansie saam vriende groot pret.

Leeu ·

Enjoy die Party julle!! Moenie dat hierdie lot suurknol afrikaners jul pret bederf nie, wil se hoe swak dié vakansie is, maar suip elke naweek brannas.

James ·

Nou kyk, laat ek julle mooi vertel, (as ‘n Suid-Kapenaar), dis nie net die skoolverlaters wat uitsien na hierdie tyd van die jaar nie. ‘n Kloooomp ouens uit die Oos-Kaap wat toenemend hier kom plak: sien ook uit – na die maklike teikens…..

Krismis vir Krims. Wag maar en kyk.

Manie ·

Drank misbruik het gekom saam met die SA. Gaan kyk maar hoe lyk Natal se strate in die kusdorpe Desemberwaar mense oop een bloot drank op straat misbruik. En die polisie sien glo niks raak. Wil nie die dronkes se fun spoil nie

ES ·

Matriekvakansies het ‘n onding geword. Toe ek matriekvakansie gaan hou het, het ons baie plekke besigtig, by ons woonstel gekuier en gedrink en seker gemaak ons is nie op straat laat in die aand nie – al was ons 10 sterk jong mans. Te veel kere raak jong mense dronk of betrokke met dinge wat hul nie by die huis sou doen nie. Dit is ‘n tyd vir feesvier – met perke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.