Video: Waterkanon, skokgranate buite Hoërskool Brackenfell

Die polisie verjaag betogers naby die Hoërskool Brackenfell met ‘n waterkanon. (Foto: Rob Hutchinson/Twitter)

Chaos het vroegoggend reeds buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad uitgebreek nadat honderde lede van die EFF weer daarheen opgeruk het om teen beweerde rassisme te betoog.

Die Stad Kaapstad het vroeër toestemming gegee dat betogers buite die skool kan saamtrek.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ook ʼn dringende interdik teen die betoging van die hand gewys, met regter Siraj Desai wat die EFF se verbintenis dat daar geen geweld of ontwrigting sal wees nie, aanvaar het.

Talle inwoners van die omgewing het vanoggend ook, ondanks herhaalde oproepe om weg te bly, na die buurt opgeruk. Sommige inwoners was bekommerd dat huise en eiendom tydens die betoging beskadig kan word.

Die polisie het ʼn kort ruk gelede ʼn waterkanon en skokgranate ingespan om die groot skare weg van die skool te keer.

Dít nadat die polisie Donderdag bevestig het dat hy enige bedreiging wat moontlik weens die protesoptrede kan ontstaan, sal kan bedwing. Die stad het gister ook ʼn dringende vergadering met die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe gehou oor kommer dat die EFF se protesoptrede met geweld en intimidasie gepaard kan gaan.

ʼn Herrie het losgebars ná ʼn private funksie van matriekleerders by die skool wat net deur wit leerders bygewoon is.

Die skool het intussen die versekering gegee dat hy kwessies rakende inklusiwiteit daadwerklik pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ek wil net iets weet, lande soos Frankryk, betoog oor naweke. Hoekom betoog die spul hier net in die week!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.