Video: Wees albino-olifant tuis in nuwe trop

Khanyisa die albino-olifantkalf. (Foto: HERD)

’n Albino-olifantkalf wat in Januarie verlede jaar uit ’n draadstrik gered is, is nou tuis in ’n nuwe trop by HERD, die Hoedspruit-olifant-en-ontwikkelingsentrum.

Ná maande se rehabilitasie en ondersteuning van mense, ander olifante en selfs ’n skaap, het die Jabulani-trop dié wees olifantkalf, wat nou Khanyisa heet, as hul eie aanvaar.

Khanyisa was vier maande oud toe sy in die draadstrik van ’n stroper in ’n reservaat naby die Krugerwildtuin beland het.

Adine Roode, stigter van HERD, by Khanyisa. (Foto: HERD)

Volgens Adine Roode, HERD se stigter, het sy vir dae aaneen desperaat probeer om haarself te bevry.

In die proses het Khanyisa ernstige beserings en snywonde aan die agterkant van haar ore en aan haar nek, bek en wange opgedoen. Sy het ook ’n stuk van haar oor verloor.

“Haar trop was nêrens in sig nie.

“Sy was ontwater en haar oë was toegeswel van die drukking wat die draadstrik om haar nek veroorsaak het. Sy het natuurlik ook geweldige emosionele trauma ervaar.

“Dat sy so lank alleen oorleef het, is ’n wonderwerk,” sê Roode.

Khanyisa is aanvanklik na die Care for Wild Rhino Sanctuary in Mpumalanga geneem en kort daarna na HERD oorgeplaas waar sy sedertdien van krag tot krag gegaan het.

“Dit was aanvanklik moeilik om haar te voer weens die wonde aan haar bek, maar die span het dit vinnig bemeester sonder te veel ongemak vir Khanyisa.

“Haar wonde het intussen mooi genees en sy het slegs ligte wondletstels oor. Haar band met haar nuwe trop het ook baie verdiep.”

Khanyisa saam met haar nuwe trop. (Foto: HERD)

Roode sê dat Khanyisa steeds gedurende die nag melk deur bottelvoeding ontvang en dus nog nie heeltyds by die Jabulani-trop inskakel nie. Sy bring sowat 12 uur per dag saam met hulle deur.

“Haar geleidelike integrasie in die trop vorder goed en is baie suksesvol. Hulle het haar as hul eie aanvaar en Lundi, een van die ouer olifante, het haar rol as Khanyisa se ma ingeneem.”

Benewens haar trop het Khanyisa ook ’n spesiale band met Lammie, ʼn skaap, gevorm.

Khanyisa en Lammie op ’n uitstappie. (Foto: HERD)

Lammie is al meer as ses jaar deel van die HERD-familie en het in haar lewe al talle bande met olifante én renosters gesmee.

“Khanyisa was aanvanklik ’n bietjie jaloers as Lammie aandag kry, maar hulle het vinnig ’n hegte band gevorm en is nou groot vriende.”

Hoewel Roode die jong olifant se herstel aan die toewyding van die HERD-span en wildveeartse betrokke by haar versorging toeskryf, sê sy dat Khanyisa self ’n regte vegter is met ’n baie positiewe gees.

“Selfs in moeilike tye het Khanyisa volhard en deurgedruk.”

Haar naam beteken “lig” en “sonskyn” – en volgens Roode is Khanyisa werklik ’n ligstraal in die HERD-familie se lewe.

Khanyisa se naam beteken “lig” en “sonskyn”. (Foto: HERD)

Dit is natuurlik ook simbolies van haar ligte vel, wat verskeie gesondheidsuitdagings vir Khanyisa inhou. Die albinisme verhoog haar sigbaarheid in die natuur en maak haar gevolglik meer kwesbaar vir roofdiere.

Roode sê voorts dat olifante wat in draadstrikke gevang word dikwels lewenslange wonde –  fisiek en emosioneel – met hulle saamdra en dat baie olifante dikwels nie so ’n voorval oorleef nie.

“Infeksie, septisemie, skade aan organe, hongersnood, ontwatering, eensaamheid en pyn is maar net ’n paar van die gevolge wat dié wrede daad op olifante kan hê.”

Maroela Media het vroeër oor die olifantkalf Fenya berig wat vroeër vanjaar ná byna twee maande uit ’n draadstrik naby Phalaborwa gered en by HERD hervestig is. Sy was egter nie so gelukkig soos Khanyisa nie en is ’n paar weke later dood weens die ernstige beserings wat sy tydens die voorval opgedoen het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tiptol ·

Mooiste ding. Só bly jy is veilig en het weer ‘n familie.

Karina ·

Dankie vir HERD wat die olifante beskerm en help. Dit doen ‘n mens se hart goed om ‘n mooi storie te lees.

Danie ·

Fantastiese foto van Adine Roode saam met die kleintjie.
Die land en wereld het meer sulke mense nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.