Video: Wetstoepassers deur perlemoenstropers verjaag

Vermeende perlemoenstropers verlaat die strand nadat lede van die polisie hulle voorgekeer het. (Foto: Skermgreep/Facebook)

Tientalle vermeende perlemoenstropers het Donderdag op wetstoepassers by Pearly Beach langs die Overbergse kus toegesak, toe owerhede die stropers probeer vastrek het.

ʼn Ooggetuie van die voorval, wat uit vrees vir intimidasie nie geïdentifiseer wil word nie, het vertel dat ʼn klein groepie vermeende perlemoenstropers naby die ou hawe en langs Castle Beach deur wetstoepassers verras en in die see vasgekeer is.

“Dit was duidelik dat die ongeveer 15 wetstoepassers die stropers sou vastrek sodra hulle die water met hul buit verlaat. Daar moes van hul meelopers op die uitkyk gewees het, want toe die stropers na die strand kom, het drie bakkies vol van hul ondersteuners op die toneel aangejaag gekom. Hulle was met klippe, stokke en pangas gewapen en het die wetstoepassers verhinder om teen die stropers op te tree. Gelukkig is geen perlemoen gebuit nie,” het die bron aan Maroela Media gesê.

Volgens die bron het talle skote geklap en is een van die beweerde stropers wel deur owerhede gevang. Sy makkers kon egter daarin slaag om hom te bevry en hy is saam met die res van die oortreders vort.

“Perlemoenstropery het nou heeltemal handuit geruk. Gister se voorval was iets wat al lank gevrees word en het net weer bevestig dat daar eenvoudig net geen wil is om die misdaad te keer nie,” sê Leo van Dijk, sekretaris van die gemeenskapsdrukgroep Community Against Abalone Poaching (CAAP).

Van Dijk meen dit is die gevolg van ʼn voortslepende tekort aan mannekrag, infrastruktuur en die politieke wil om hierdie misdaad te keer.

Hy sê die SAPD se vorige ombudsman in die Wes-Kaap, Johan Brand, het meer as twee jaar gelede al in sy verslag oor die bevoegdheid van die SAPD in die Overberg gemeld dat hulle onbevoeg is om die situasie te beheer. “Daarom moet hulp van buite gekry word.”

Hy sê as daar dan werklik ʼn tekort aan hulpbronne is, moet daar mos ander planne gemaak en strategieë gevolg word om die misdaad hok te slaan.

ʼn Lid van die plaaslike wetstoepassingsowerhede wat ook anoniem wil bly, is nie oortuig dat die stryd teen perlemoenstropers gewen kan word nie.

“Ons het eenvoudig nie die mannekrag nie. As ons nie hulp van die provinsiale en nasionale owerhede kry nie, kan ons maar net op klein skaal probeer om stropers vas te trek. Op ons eie sal ons dit nooit gestop kan kry nie – daar is eenvoudig nie genoeg voete op grondvlak nie. Sommige van ons werk dag en nag, maar ons kan nie sonder hulp [oor die weg kom] nie.

“Afgesien daarvan dat dit gevaarlik is omdat ons met grootskaalse georganiseerde misdaad te doen het, kan ʼn mens ook net soveel in 24 uur doen. Die departement van omgewingsake het net vier personeellede op Gansbaai – hoe kan hulle iets teen die oormag stropers doen? Daar is dan soms meer as 150 stropers op ʼn keer langs die kus en hulle is goed georganiseer,” het die bron gesê.

Kyk die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Keelvol ·

Willem dis omdat die publiek nie volgens die wet wil handel nie. Hulle wil die wette verbreek soos hulle wil.

Nie Verbaas ·

ANC, julle voel seker verskriklik trots op julle handewerk. Dit is n uiterse skande en kom ons kyk of en hoe Cele op dit reageer.

Chris dupreez ·

Dit wys maar net weer dat die polisie onbevoeg is, van die minister af ondertoe

Keelvol ·

Nou sluit by die polisie aan en wys hoe dinge gedoen moet word?

Johnny ·

1) Dis nie “vermeende” stropesr nie – dit is stropers.
2) Wanneer die misdadigers só min respek vir die owerhede het dat hulle die polisie openlik aanval en bowenal nog iemand uit arres ontset, is ons in op die rand van ‘n staat van anargie. Dit gaan nie lank vat voordat hierdie gedrag versprei en alledaags word nie.

johann ·

Dit was nou die gulde geleentheid om sterk op te tree (skiet)teen die persone wat die gereg gedwarsboom het anders sal die polisie binnekort geen outoriteit hê nie.

Kokerboom ·

Die regering, die Polisie asook Weermag is totaal onbevoeg. Dis absolute twak. Die ding KAN gestop word maar regering handhaaf dubbele standaarde en wil nie “our people” vervreem om weer vir hom te stem sodoende word visbronne instemmend verwoes

Karlahari ·

Ek stem nie saam nie.
15 beamptes wat hulle werk WIL doen wat deur n menigte omsingel word.
Useless regering miskien. Waar was jy en ander inwoners om die beamptes te help?

Snowball ·

Dit gaan al vir jare so op Pearly Beach. Dit is seker een van die mooiste stukke kuslyn daar en dit was eens ‘n vreedsame juweel. Toe trek die ANC ‘n plakkerskamp soontoe, ter wille van stemme, net so ‘n ent agter die kusdorpie se laaste straat en vandaar was dit heelpad afdraand na ellende. Misdaad, stropery en diefstal seëvier. Al wat ‘n venster is, moet diefwering en alarms hê. Weg is die vrede en natuurskoon. Dit het ‘n aasplek en stropersnes geword. Wetstoepassing TOTAAL AFWESIG. My hoop is maar op die haaie van Dyer eiland wat dalk van hierdie uitvaagsels opvreet. Of dalk help ‘n skerpskutter agter ‘n duin om die bietjie wat nog nie verwoes is nie, te red.

Pietertjie ·

Waarmee was die wetstoepassers gewapen? Boete-boekies?

Mariana ·

Maar as hulle kom met pangas en messe en allerhande wapens, mag die polisie hulself mos verdedig, maar hulle is bang vir die gespuis. Die kriminele is soos sprinkane, vreet als wat voorkom en die see gaan net soveel gee. Paar haaie kan maar naderstaan ja,

Pot se lepel ·

1. Dit gaan gelukkig nie meer lank aanhou nie want een van die dae is die perlemoen uitgeroei. N parasiet benut nie volhoubaar nie.
2. Dit klink darem baie in dieselfde lyn as op n plaas in Dirkiesdorp (Piet Retief)? Daar is mense wat hulleself teen so massa verdedig het tans agter tralies omdat die SAPS ook nie opgetree het nie.

Jack ·

Die res van afrika het dieselfde pad geloop en die stropery ter see of land gaan net voort totdat daar niks oor is nie. Die stropers is heelwaarskynlik ingevoerde burgers en sekerlik onwettig in die land. Slegs n paar polisielede wat nog wil moet 50 miljoen plus in toom hou. Nie in ons leeftyd nie. As hierdie n land soos in die midde ooste was het daar baie van hulle sonder hande rondgeloop want dis al wat hier gaan werk.

Samuel ·

Perlemoenstropery is goed georganiseerd en stropers is uiters gevaarlik! Dit is baie makliker om baaiers op strande te verjaag.

Is daar nie miskien waarheid in die beweringe dat van die polisielede in die stropers se sak is nie?

Dirk Mostert ·

Kan nie op die foto uitmaak of hulle maskers dra nie. Dit sou Cele motiveer om weer die weermag op te roep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.