Video: Woede ná rowers Sixty60-aflewering gryp

‘n Skermskoot uit die video op sosiale media.

Talle Suid-Afrikaners se bloed kook nadat beeldmateriaal wat wys hoe ʼn Checkers Sixty60-afleweraar op sy motorfiets van kruideniersware én sy selfoon beroof word, vandeesweek wyd op sosiale media versprei is.

Daar kan in die beeldmateriaal gesien word hoe die man Maandag op sy afleweringsmotorfiets voor ʼn huis vir ʼn klant wag, vermoedelik om die hek oop te maak.

Twee mans stap dan nader. Een pluk ʼn vuurwapen uit, druk dit teen die afleweringsman se maag en neem sy selfoon uit die man se hande voordat hy en sy makker ongeërg die deksel van die motorfiets se vervoerhouer oopmaak.

Die mans haal dan rustig drie sakke kruideniersware en wat lyk na ʼn boks pap uit die houer en vat op ʼn drafstap die pad met hul buit.

ʼn Derde man draf dan nader en help homself aan die laaste twee sakkies kruideniersware in die vervoerhouer. Een van die sakkies val op die grond en die derde man hardloop weg.

Die afleweringsman klim in ʼn stadium oënskynlik verdwaas van sy motorfiets af en staar die rowers agterna.

Dit was nie onmiddellik duidelik waar die voorval plaasgevind het nie.

Shoprite Holdings, wat Checkers besit, het wel die voorval bevestig en betreur, maar nie verdere besonderhede gegee nie.

“Ons is bewus van die voorval en dankbaar dat niemand tydens die rooftog beseer is nie. Die maatskappy is in kontak met die bestuurder [van die afleweringsmotorfiets] en het hom traumaberading aangebied.”

Die groep gaan ook die slagoffer se selfoon vervang.

Checkers Sixty60 het ook na die klant uitgereik na wie die aflewering op pad was. Die klant sal sy of haar geld vir die kruideniersware én die afleweringsfooi terugkry.

“Ons veroordeel sulke dade van misdaad, wat uiteindelik die veiligheid van ons klante, werknemers en afleweringsvennote in gevaar stel.”

Op sosiale media het mense vuur gespoeg oor die skaamtelose aanval.

“Dis waarom jy nie hierdie ouens lank buite die hek moet laat wag nie. Afleweringswerk is ʼn risiko in Suid-Afrika,” skryf een sosialemediagebruiker in reaksie op die video.

“Dit is diep ontstellend en maak ʼn mens woedend dat ons so moet leef, maar ons moet as klante die risiko minimaliseer deur buite die hek vir hulle te wag. Ek verstaan nie hoekom mense dit nie doen nie want die app sê vir jou wanneer die bestuurder naby jou huis is.

“Klante moet ophou om selfsugtig te wees. Dit is hartseer want hierdie ouens werk hard vir min geld.”

“Klante is slim. Hulle weet as hulle buite wag vir die Sixty60-bestuurders, sal hulle ook beroof word,” het nog iemand gereageer.

Een sosialemediagebruiker wil weet wat van ubuntu geword het.

“Misdaad is buite beheer. Dit ondermyn die vermoë van ons land om hoegenaamd te funksioneer,” skryf ’n ander.

Die Shoprite-groep vra mense ook om inligting oor soortgelyke voorvalle by 0800 118 879 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Luckykat ·

Nou word die klient wat die goed bestel het blameer. Gaan kla liewer by jul geliefde Rama en sy anc.

OW ·

SA is misdaadvodde.Hierdie regeerders se tyd loop vinnig uit.Gister se gebou van die Polisie se hoofkantoor is duidelik,presies wat in SA aan die gebeur is.’n Vriend van my wat in Knysna woon het foto’s gestuuur wat daar aangaan.100% weerspiëling wat in SA aan die gang is.Daar is geen medisyne vir mense wat nie hulle werk dien nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

OW, die massas sal weer ANC stem. ‘n Minister sê mos dis nie die einde van die wêreld nie.

OW ·

@Rep in die Wes Kaap.Dit mag dalk wees,maar ek dink die ANC gaan ‘n gevoelige slag teen hom kry,veral in Kwa Zulu Natal en Mpumulanga.’n Mens moet luister na die mense op die grond wat in die “townships” bly.Ek het ‘n vermoede,iets is aan die gebeur.

Andrew ·

hahaha. Gewonder wanneer dit gaan gebeur. Hulle het op die wagon gesring en duisende fietse gekoop, gee nog 6 maande dan ry hulle ook nie meer nie.

Danie ·

Elke ou verdien n werk maar die aflewerings met motorfietse en dit is nou almal nie net checkers se mense nie ry verskriklik onverskillig. Hulle ry voor jou in ry oor stop straate, rooi ligte hulle gee net nie om nie. Nou word hulle beroof maar dit lyk vir my so bedaard gedoen asof hy geweet het hulle gaan hom beroof. As n ou n vuurwapen uithaal en my so beroof dan spring ek van daai bike af en hol weg.

JohanR ·

2024 is die jaar dat 30 jaar van die ANC eindig. Dink net hoe dinge sal daar uitsien in 2029?

Cherokee ·

Dit lyk asof die towers toevallig om die draai gestap het, en onmiddelik besluit het om hom te beroof. Nog ‘n dief was ook toevallig daar. Op daardie video is meer diewe as eerlike werkers. Dit moet erens in Suid Afrika wees.

Karoo ·

Ja nee kyk… elke jan rap en sy maat stap nou met ‘n wapen rond en beroof hardwerkende mense…. wat op’ n eerlike manier brood op die tafel sit. Skande SA… skande

Johan ·

Heeltemal korrek Danie. Ek begin glo hulle word deur taxibestuurders opgelei. Hulle ry ongeskik en ek is nie verbaas wanneer ek n afleweringsfiets op sy sy sien lê nie.

Aai ·

Cherokee die taxi het die motorfiets gevolg en toe die motorfiets indraai het hy hulle afgelaai en om die blok gery om hulle weer op te tel na die roof.

Danie ·

Misdaad alreeds n alledaagse verskynsel een van die dae loop jy net om hulle sonder om te blik of bloos.

Theresa ·

Het nog nooit van hulle gebruik gemaak nie, en sal ook nie, dit bly n risiko, ook vir my as kliënt!

MiCheLLe ·

Soos die Amerikaners geleer word om vir ‘School-shootings’ voorbereid te wees, moet ons ook nou die hele tyd voorbereid wees vir een of ander insident… My senuwees is klaar!!!

OMW ·

Theresa, selfs om in enige winkel te gaan koop is ń risiko. Om geld by ń kitsbank te trek is ń risiko. Om brandstof te gaan in gooi is ń risiko. Om vir jou kind by die skool op of af te laai is ń risiko …..

Joan ·

hoe het hulle geweet waar omdie sleutel te kry om die houer oop te maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.