Video: Woede oor minister se ‘onverantwoordelike’ Covid-uitlatings

‘n Skermgreep uit die video wat op sosiale media versprei is. (Skermgreep: Twitter)

ʼn Video van die minister van maatskaplike ontwikkeling wat oënskynlik op straat kerjakker en waarin sy sê die nuwe koronavirus moet wyk, het ʼn herrie veroorsaak. Die DA eis ook nou dat pres. Cyril Ramaphosa stappe teen haar doen.

Die video van ʼn vrolike Lindiwe Zulu is wyd op sosiale versprei. Daarin sê sy: “Bly tuis as julle kan! Ek vind dit baie moeilik om tuis te bly.

“Virus, gaan net weg. Los ons asseblief uit. Ons het ʼn lewe om te lei.”

Zulu het sedertdien vir haar opmerkings om verskoning gevra en gesê sy is nes ander Suid-Afrikaners gefrustreerd deur die virus wat ʼn enorme uitwerking op die ekonomie en maatskaplike stelsel het.

Sy sê ook haar stelling was geensins ʼn poging om die erns van die pandemie te ondermyn nie en dat sy verbind bly tot die bepalings en voorsorgmaatreëls wat Ramaphosa afgekondig het.

Talle sosialemediagebruikers het ná haar uitlatings voet by stuk gehou dat Zulu die trekpas moet kry.

Die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, Bridget Masonga, hou ook voet by stuk dat Ramaphosa Zulu formeel moet berispe.

“Sy het om verskoning gevra, maar haar opmerkings kan nie ongestraf bly nie. Die minister se opmerkings is teenstrydig met die maatreëls en aanbevelings wat haar departement vir die van maatskaplike toelae gedoen het,” het Masango gesê.

Die departement het diegene wat maatskaplike toelae ontvang vroeër gevra om dit nie almal op die eerste dag van uitbetalings te gaan afhaal nie en het onderneem om te verseker dat nie meer as 100 mense op een slag by poskantore of Sassa-betaalpunte saamdrom nie.

Die DA sê hy gaan dié proses fyn dophou en gaan die departement verantwoordelik hou as die maatreëls nie streng gevolg word nie.

“Minister Zulu se opmerkings is hopeloos onverantwoordelik en stel ʼn swak voorbeeld vir die publiek en veral vir die kwesbare gemeenskappe wat sy verteenwoordig.”

Masonga sê Suid-Afrika is midde in ʼn krisis weens die uitbreking van Covid-19 en het veral in dié tyd verantwoordelike leierskap nodig.

“Ons vertrou die president sal weer eens die leierskap wys wat hy reeds in dié tyd gedoen het en dat hy die minister ten volle verantwoordelik vir haar opmerkings sal hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jack ·

Niks verkeerd met wat sy gesê het. Sy het bloot haar frustrasie met die virus uitgespreek. Sy het nie die regering se maatreëls in die video ondermyn nie. Ons almal wil hê die virus moet gaan. Ons almal wil buite rondloop. Sy het bloot verwoord wat almal dink en voel.

Dr Pieter ·

Nee Jack, mens verwag meer verantwoordelikheid van ‘n minister. Sy moet die voorbeeld stel.
Jammer as jy ook nie die erns van die verspreiding van die virus insien nie. Kyk rondom jou hoeveel besighede moet hulle deure sluit en inkomste verbeur, kerke kan nie normaal voortgaan nie, skole is gesluit, ….. Almal lei daaronder en elkeen moet sy deel bydra om verspreiding te help beperk.

Elsa ·

As almal van die straat en wegbly uit parke, sal dit uitstekende wees. Dis nie nou die tyd om op die sypaadjies te sit en suip by die park, nog minder vir sokkerspelers.
Jy kan by jou eie huis suip.

Ronéll ·

In my opinie ruk hulle alweer die dinges onder die hoender uit. Suid Afrikaners probeer altyd om n lekker lawwe ligte toon aan moeilike omstandighede te gee. As ons deurentyd morbied gaan wees en onsself in n hoekie gaan sit en bejammer, kan ons almal netsowel onsself in n donker kamer toesluit en wegkruip.

Dr Pieter ·

Nee, glad nie. Elkeen moet sy bydrae lewer om die verspreiding te help keer. ‘n Ministers het groot verantwoordelikheid om die voorbeeld te stel en die President se oproep tot self-isolasie te ondersteun.

Anel ·

Ek stem 100% saam met jou. Ek wil net weet wat gaan ons doen as dit winter word. Onthou, in die Noordelike halfrond begin dit nou warmer word en ons staan aan die begin van die winter. Wil hulle ons nou inhok tot Septemer, Oktober wanneer die somer begin? Hier hiseria is vir my persoonlik verregaande. Wees jouself, eet gesond, hou jouself skoon, en hou op om paniekerig en in vrees te lewe, want dan gaan jy siek word. Depresiewe mense word gewoonlik vinniger siek as mense wat gelukkig is. Glo en vertou en hou op stres.
As jy gewoonlik siek word in die winter, kan jy moonlik siek word, so nie gaan aan gewoonweg aan met jou lewe.

Prontuit ·

ag nee seriously? noem my ‘n blond maar ek vang nie waaroor die bohaai gaan nie nee o jitte dis nou die dam ruk! ons sien altyd eerste negatief raak in alles raak ons so paranois?

Jaco ·

As meeste draers van die virus wit id, deporteer dan sommer al SA se wit mense na Europa en Amerika.

twaalfboor ·

Ek dink nie sy weet in elkgeval iets van die ekonomie af nie.

katerinadiekat ·

Daar is diegene wat Baie erger dinge kwytraak, selfs volksmoord op ons minderheidsgroep aanhits – Maar ek sien nooit enige woede Daaroor nie!

Johanncb ·

Behalwe vir haar onverantwoordelike uitlating, baljaar die Minister heerlik rond op die belastingpligtige se fondse! Dít terwyl ons, die gewone burger, moet swaarkry en onsself moet onder kwarantyn plaas!

Cherokee ·

Werklik belaglik om fout te vind met wat sy gesê het. Waarvoor sy verkoning gevra het is nie duidelik nie en dat sy gestraf moet word, is blote onsin.

Snowball ·

Nog een wat nie die erns van ‘n pandemie besef nie….totdat dokters moet besluit wie word gered en wie nie, want daar is eenvoudig nie plek vir nog siekes nie. Bid dat hierdie virus nie die afmetings aanneem wat dit al in ander lande het nie. Bid dat dié wat maatreëls instel insig sal hê en nie soos dié leë blik dink dit is iemand anders se probleem nie.

De Villiers ·

Kyk ek hou nie van die ANC of enige van sy “leiers” of ondersteuners nie,maar ek sien regtig niks fout met wat die vrou gedoen het nie.

Sy was net ‘n grappie gemaak en bietjie ‘n show aangesit vir die kamera!

Suid Afrikaners moet groot word!

SJME ·

Bou ‘n bruggie en kom daaroor… Glimlag of frons net en gaan aan met die lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.