Video wys dosent se moordenaar draai terug vir nóg skote

‘n Skermgreep uit die video.

Prof. Saber Tayob Mohammed se moordenaar het teruggedraai en nóg ’n paar skote op hom gevuur selfs nadat hy op die grond neergeval het.

Só kan daar in beeldmateriaal van Mohammed, ’n dosent aan die Universiteit van Limpopo (UL), se laaste oomblikke gesien word. Dié beeldmateriaal is Maandag op sosialemediaplatforms versprei nadat Mohammed Sondag koelbloedig doodgeskiet is toe hy vroegoggend in Polokwane gaan draf het.

Daar kan in die beeldmateriaal gesien word hoe ’n wit Volkswagen Polo net ná 06:30 stadig verby die drawwende Mohammed langs Munnikrylaan tussen die Sterpark- en Bendor-woonbuurt ry. Die motor kom dan ’n ent verder tot stilstand.

’n Man klim uit die motor, rig ’n vuurwapen op Mohammed en trek die sneller. Dit blyk uit die video dat verskeie skote van naby op Mohammed gevuur word en hy op die grond val.

Die skieter neem dan ’n paar treë na die motor toe voordat hy terugdraai en nóg skote van naby op Mohammed afvuur.

Prof. Saber Tayob Mohammed (Foto: Universiteit van Limpopo/Facebook)

Die video eindig dan.

Die UL se visekanselier en rektor, prof. Mahlo Mokgalong, het vanoggend sy skok en ontsteltenis oor die dood van “een van die universiteit se opkomende akademici en leiers” uitgespreek.

Mohammed was ten tyde van sy dood die direkteur van die universiteit se Skool vir Rekeningkunde.

Hy het in 2009 as ’n senior lektor in rekeningkunde en ouditkunde by die universiteit aangesluit voor hy in 2017 tot medeprofessor bevorder is. Hy was ook sedert 2020 die waarnemende programkoördineerder vir die universiteit se nagraadse diploma in rekeningkunde.

“Prof. Tayob was ’n gesoute geoktrooieerde rekenmeester en akademikus, wat die Skool vir Rekeningkunde met onderskeiding gedien het en wat dit sy doel gemaak het om dit te help groei as ʼn sentrum van uitnemendheid in al sy dissiplines,” sê Mokgalong.

Die polisie kon nie Maandagmiddag bereik word om kommentaar te lewer oor enige moontlike verwikkelinge in hul ondersoek na die moord op Mohammed nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

Celé, wat is jou plan met duisende onwettige wapens in moordenaars se hande?

Het jy geen gewete teenoor die burgers van hierdie land nie?

Jy kry ‘n enorme spul geld van die belastingbetalers wat só vermoor word !!!!!!!!

Diline

MOORD het ‘n allerdaagse ding geword in die korrupte land! SKUIM van die aarde wat sulke dinge doen

piet

Grusaam.

Thelsa

Cele, hoe werk jou vuurwapen lisensie-wet ??? Soos die bestuurderslisensies ???

Wielspore

Dit wil voorkom of hierdie ‘n sluipmoord is.