‘Video wys Panayiotou was betrokke by moord’

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die hof (26 Oktober 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Christopher Panayiotou se betrokkenheid by sy vrou, Jayde, se moord word bewys in ʼn video wat tydens ʼn geheime polisieoperasie opgeneem is, het die hooggeregshof in Port Elizabeth Donderdag gehoor.

Meer as ʼn jaar het al verloop sedert die moordverhoor teen Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko begin het. Die verhoor, waarin nagenoeg 58 getuies getuig het, is besig om tot ʼn einde te kom.

Adv. Marius Stander, die staatsaanklaer, het Donderdag sy slotbetoë in die hof gelewer. Hy het verwys na die geheime polisieoperasie waarin ʼn gesprek tussen Panayiotou en Luthando Siyoni op video vasgevang is waarin Panayiotou hom oënskynlik by sy vrou se moord impliseer. Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal het om Sizwe Vumazonke te huur om Jayde te ontvoer en te vermoor.

Stander het in sy slotargumente gesê nadat die hof bevind het Vumazonke was betrokke by Jayde se ontvoering en moord en dat Siyoni betaal is om die huurmoordenaar te kry, is die res van die staat se saak eenvoudig. Stander het gesê Vumazonke sowel as Siyoni het Jayde se motor se nommerplaat geken, albei het geweet waar haar vriendin, Cherise Swanepoel, woon, waar Jayde woon en dat die twee vroue in die oggende saam na die skool gery het waar Jayde ʼn onderwyseres was.

“Vumazonke was by die huis minute voordat die oorledene weg is werk toe. Hoe sou hy geweet het? Wie anders sou weet hoe laat die oorledene in die oggende werk toe gegaan het behalwe vir [Panayiotou]?” het Stander gevra.

Stander het gesê nadat die moord uitgevoer is, het Siyoni die hele nag by Panayiotou se Infinity-nagklub gewag vir die geld wat hy betaal moes word. “Ek voer aan dat Panayiotou se weergawe dat Siyoni gehaal is om ʼn kitsbank in Kwazakhele vir hom te wys, is bloot ʼn rookskerm vir hom wat Siyoni betaal het.

Christopher Panayiotou se minnares, Chanelle Coutts (regs), in die hof (26 Oktober 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

“Op die aand van 21 April 2015 om 23:50 [dieselfde dag as Jayde se moord], toe [Panayiotou] vir Siyoni wou sien, het hy hom by 082 260 1360 gebel. Daar is geen aanduiding dat Panayiotou probeer het om Siyoni op enige ander nommer te skakel nie. Hy het dus geweet daardie nommer is die nommer wat Siyoni gebruik. Nadat hy egter deur ao. Koen vir Siyoni se nommer gevra is, het hy nie die 082 630 4096-nommer, die 082 260 1360-nommer of die 078 235 0557-nommer vir Koen gegee nie. Dit is dus duidelik hy wou nie gehad het die polisie moet Siyoni opspoor nie.”

Stander het verder aangevoer dat Panayiotou skynbaar ʼn gewoonte gehad het om kommunikasie te verdoesel, aangesien hy vir Siyoni en nog een van sy werknemers, Mawonga Ndedwa, aangesê het om hul SIM-kaarte te vernietig.

Stander het gesê Panayiotou het tydens ʼn vroeëre borgtogaansoek beweer hy het vir die polisie gesê hy het met Siyoni vergader. “Dit is ʼn blatante leuen omdat daardie vergadering eers gereël is ʼn uur nadat hy met die polisie gepraat het.”

Volgens die staat is dit duidelik dat Panayiotou nie wou gehad het die polisie moet weet dat hy met Siyoni vergader het of wat tydens die ontmoeting gesê is nie. “Hierdie argument word natuurlik ondersteun deur die beeldmateriaal in die voertuig wat wys hoe Panayiotou vir Siyoni deursoek om seker te maak dat hy nie ʼn opnametoestel aan hom het nie.”

Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer die verdediging sy slotbetoë sal lewer.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.