Video’s: Inwoners van George spoel weg

Paaie lê onder water in George (Foto: Verskaf)

Die George-munisipaliteit het Maandag ’n beroep op inwoners gedoen om verkieslik tuis te bly weens swaar reën wat tot erge vloede in dié kusdorp gelei het.

Verskeie paaie is weens oorstromings gesluit en sommige hospitale en huise is onder water. Boonop ervaar sekere dele van die stad kragonderbrekings weens die swaar reën.

Die munisipaliteit het Maandagoggend gevra dat mense Langenhoven-, Hope-, St. Mary-, Fiegland- en Merrimanstraat asook R102 Old Airport- en Saasveldpad moet vermy.

Volgens Nikolene Suter, ’n inwoner van George, het inwoners omtrent nie toegang tot die middedorp nie weens die oorstroomde paaie.

“Die mure van mense se huise val om en baie skole het kinders huis toe gestuur,” vertel Suter.

Volgens Suter is die Geneva-kliniek en die Garden Route-winkelsentrum ook onder water. ’n Video wat op sosiale media versprei word, wys ook hoe water in die MediClinic in George se gange afstroom.

“Dit het Sondagmiddag so 17:00 begin reën, maar in die vroeë oggendure erger en harder begin val. Een goeie ding is die dam wat darem nou oorloop,” sê Suter.

Die bekende sanger Elvis Blue het op sy Facebookblad ’n video geplaas waar hy reënwater uit sy huis probeer vee en geskerts dat hy nou sy eie “Op die water-musiekfees” kan aanbied.

Koop jou kaartjies vir die water fees in my huis. ????????

Posted by Elvis Blue on Sunday, November 21, 2021

Volgens die George-munisipaliteit is sy bestuurslisensie-toetssentrum vir die dag gesluit en vullis sal later as gewoonlik verwyder word.

Die munisipaliteit het gevra dat inwoners eerder moet tuis bly weens die swaar reën (Foto: NickeyleRoux, Twitter)

Reën val steeds hard in George (Foto: Gerrie Pretorius, Twitter)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

WILLEM ·

Reen is altyd welkom, en baie maal na ‘n droogte kom vloede. Ons in PE wag nog op reen en hoop en vertrou dat ons ook vandag en more ons deel sal kry. As ons damme net kan water kry – ons het ‘n water nood!! Ons bid maar daagliks en vertrou dat ons Hemelse Vader op Sy tyd uitkoms sal bring. Lees Psalm 139. Hy weet alles en is by ons.

SjN ·

Skade kan vervang en herstel word, maar nie water tekort nie.

Dries ·

Moenie teveel kla nie. Sê soos Noag “daars water laat ons tuinmaak en plant”

Swerwer ·

Reë, reën lieflike reën. Diè wa kry, wees dankbaar, daar is baie wat smag na daardie waters.

Jannie van Niekerk ·

Nouja, ek wed julle die vloede gaan nouweer APARTHEID se skuld wees…

PersHeks ·

Lekker lag ek nou Jannie! Ja daar is al klaar genoem dat dit die stadbeplanners se swak beplanning is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.