Video’s: KZN brand oor Zuma

Die betogers is glo vies omdat oudpres. Jacob Zuma in hegtenis geneem is (Foto: Skermskoot)

Chaos het Vrydag op verskeie snelweë en paaie in KwaZulu-Natal geheers toe sogenaamde Zuma-ondersteuners in groot getalle na dié paaie opgeruk en amok gemaak het. Grootskaalse verkeersontwrigtings is veroorsaak en talle voertuie beskadig. Openbare infrastruktuur ter waarde van miljoene rande is ook beskadig.

Lennox Mabaso, woordvoerder van die provinsiale regering van KwaZulu-Natal, sê groot groepe betogers het oor die hele provinsie groot paaie en snelweë, waaronder die N2 en N3, geteiken. Die M7, wat ʼn gewilde roete vir vragte na die hawe van Durban en ander provinsiale en munisipale gebiede is, is ook erg geraak.

“Die mense betoog glo om hul misnoeë teen oudpres. Jacob Zuma se inhegtenisneming uit te spreek. Hulle het behoorlik die provinsie tot stilstand geruk,” sê Mabaso

Zuma het hom Woensdagaand aan die polisie oorgegee nadat hy tot 15 maande tronkstraf gevonnis is vir minagting van die hof. Hy is tans in die Estcourt-gevangenis.

Betogers het glo talle voertuie met klippe bestook en paaie met brandende motorbande en ander voorwerpe versper. Volgens Mabaso is openbare infrastruktuur ter waarde van miljoene rande beskadig. Verkeersopeenhopings en beskadigde infrastruktuur het veroorsaak dat talle pendelaars nie hul werkplekke of ander bestemmings kon bereik nie. Teen Vrydagmiddag was die situasie steeds nie onder beheer nie.

ʼn Video wat op sosiale media gedeel is, wys hoe ʼn motorband ʼn motoris se windskerm tref. In ʼn ander video kan gesien word hoe ʼn pad met brandende voorwerpe versper word en ʼn groep betogers in die pad dans en sing.

“Ons wil inwoners verseker dat die polisie ʼn omvattende, multidissiplinêre provinsiale veiligheidsplan ontwikkel het en wetstoepassingsagentskappe is op gereedheidsgrondslag geplaas.”

 

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het intussen gevra vir kalmte.

“Ons verstaan die betogers is woedend. As land en provinsie bevind ons ons in ʼn baie ongewone en eiesoortige situasie met die inhegtenisneming van Zuma. Dit is ʼn uitdagende tyd vir ons. Ons doen egter ʼn beroep op diegene wat betoog om dit op vreedsame wyse te doen en om tot elke prys geweld en die beskadiging van infrastruktuur te vermy,” het Zikalala gesê.

Zikalala het ook gewaarsku oor die uitwerking van onwettige byeenkomste onder die aangepaste vlak 4 van inperking wat tans in die land van krag is. Gesondheidskenners het vandeesweek gewaarsku dat die infeksiesyfer in groot dele van KwaZulu-Natal nou toenemend styg.

Volgens Zikalala sal die provinsiale regering dringend ʼn vergadering belê om die situasie verder te beoordeel en te besin oor hoe om bedreigende en gewelddadige situasies beter te bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Abraham

LOL!!

VaalDonkie

Spuit hulle met seepwater!

Suzette

Sluit die terroriste toe…

Lesly

Wat is dit met die grot mense en vuurhoutjies.

Snowball

Donshael opgeraak? Waterkanon opgedroog? Polisie useless geword? Cele, jy sal moet uithaal en wys. Tyd vir daadwerklike optrede, nie stranduitstappies nie.