[Video’s] PG du Plessis oorlede

PG du Plessis. Foto: Maroela Media

Die skrywer en dramaturg dr. PG du Plessis is Woensdagmiddag in die ouderdom van 82 oorlede.

Pieter Georg (PG) du Plessis, wat met sy Koöperasiestories diep in die harte van Suid-Afrikaners gekruip het en talle stories tydens die immergewilde televisieprogram Spies en Plessie – met permissie vertel het, het prostaatkanker gehad. Hy sou volgende maand sy 83ste verjaardag gevier het.

Du Plessis was bekend as dramaturg vir sy aangrypende verhoogdramas soos Die nag van Legio, Siener in die suburbs en Plaston: DNS-kind, en TV-reekse soos Koöperasiestories en Die Maplotters.

Du Plessis is op 14 Julie 1934 in Boshof in die Vrystaat gebore en het aan die Hoër Volkskool in Heidelberg gematrikuleer. Hy het in 1955 sy BA-graad in Afrikaans-Nederlands en geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy het later ook sy doktorsgraad verwerf.

Du Plessis was ook betrokke by die tydskrif Standpunte, Die Transvaler en Hoofstad. Hy het in 1972 die Hertzogprys vir drama gewen vir Die nag van Legio en Siener in die suburbs.

Die ATKV het gesê: “Dit is met leedwese wat ons vandag ‘n legende groet. PG du Plessis, ons gaan jou mis.”

In 2008 is Du Plessis se roman oor die Anglo-Boereoorlog, Fees van die ongenooides, gepubliseer – die Afrikaanse weergawe van die televisiereeks Feast of the uninvited. Hierdie roman is in 2009 met die WA Hofmeyr-prys vereer en in 2012 met die Helgaard Steyn-prys.

Du Plessis praat oor die skryfproses:

Du Plessis gesels oor die kuns van storievertel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

david ras ·

P.G–een van ons heel grootstes…….
Die een skrywer wat die Afikaner kon beskryf –met al ons knoetse en kwaste, maar altyd met mededoe…!

Christa ·

Slim en ondeund, met ‘n stil en sterk vrou aan sy sy.
Ons en die bedryf gaan jou so mis PG.

Chantelle ·

Ek het die voorreg gehad om groot te word voor jou,op jou plaas te speel en tannie Marie se koekieste verslint.Mag jy in vrede rus,jy het groot spore gelos,sterkte aan tannie Marie en die familie

Cherokee ·

Chantelle, dit was op Rysmierbult, as ek reg is? Dit is immers waar ek gedink het hy boer.

Chantelle ·

Dis reg Cherokee, sy plaas se naam is “se moer” hy het altyd gespot en gese dis” se moeêr” vir wanneer die dominee sou kom kuier, die dae wat ons daar om gespeel het sal ek altyd in my hart hou.

Cherokee ·

Dankie vir die bevestiging, Chantelle. Het in die nabye omgewing grootgeword. Maar se moer met daai omgewing veral nou in die winter! Nou woon ek in sub-tropiese wêreld. :-)

Francois ·

Manne, gaan gereeld vir ‘n psa prostaattoets. As jy ‘n urienevloei probleem het laat jou dokter jou ondersoek en na ‘n uroloog verwys. Moet nie wag nie !

Dirkie ·

Hy was ook al 83. Hoe lank wou jy nou hê hy moes leef. Daar is ‘n tyd om te leef en ‘n tyd om te sterf. Hy het geleef en verdien sy ruskans nou.

zahn ·

Stil broers, daar gaan ‘n man verby.. Dankie dok, sommer vir alles.

Fanie ·

PG het my soos Breyten besef: ‘Afrikaans is my asem’. Hy was nie net ‘n taalmens nie, maar ‘n kultuurmens. PG laat ‘n kosbare skat na. Kom laat ons soos Van Wyk Louw dit stel, ‘díe kosbare skat veilig deur die skare dra’.

Barend Spies ·

Ai oom PG, ek wou nog regtig vir ‘n laaste keer kom kuier en gesels, maar die kans het hom net nie voorgedoen nie. Ek neem aan dit gaan egter jolig aan die ander kant. Sterkte aan sy familie ons dink aan julle

Louis ·

Die nuus vat die wind uit my seile uit!!Elke keer wat n grote gaan moet ek weer wind kry!Rus in vrede my Oom!Sterkte aan die familie.:(

Susan Eckard ·

RIV Oom PG oom het soveel kanker pasiente in Potch gemotiveer tydens chemo sessies. Ben was baie kere saam met Oom PG tydens chemo so groot inspirasie gewees. Baie sterkte tannie jul was so besonderse paartjie.

Annakapat ·

Die voorreg gehad om n lesing by hom te kry op n skryfkursus wat ek bygewoon het. Wat n man!

Hannet Visser ·

Ek buig my kop vir ‘n groot man – ek weet die engele lag vanaand ekstra baie……. rus in vrede Groot man!

Johann Marx ·

Nou is die hele span van Spies en Plessis aan die anderkant. RIV oom PG. Stuur groete vir jou suster Miemie, ons verjaar nog elke jaar saam…al is sy nie meer hier nie.

Mandy ·

Hy was my gunsteling gunsteling in die Quality street tjoklitbox van groot Afrikaanse skrywers. Was altyd bietjie verlief op hom ook. Daai stoute vonkel in sy oë was die duiwel se vuursteen. Dis baie hartseer nuus vir my. Hoe gepas is die nat ou grys wolk-karos wat oor die berge hang vanaand, die reën wat teen die ruite huil.

Johann cb ·

‘n Groot gees se stem het stil geword…
Sy boeke was voorgeskrewe stukke toe ek in die laat sewentigs studeer het…
Vol insig, begrip, advies, humor en baie meer!
Wat ‘n voorreg was dit!
So kom elkeen van ons tot rus…rus in vrede PG. Sterkte aan al die naasbestaandes.

Volkskas ·

Wys vir jul kinders die Spies&plessis video’s op youtube.
Laat hulle fees van die ongenooides lees, watookal
Want hierdie man se werke is bloot tégoed om verby te laat gaan

Totsiens PG en baie dankie

dirk L ·

dankbaar ek het Fees van die Ongenooides, op die rak. Sal dit weer nadertrek en stadiger lees hierdie slag. Dankie vir alles PG, rus in vrede

Marlene ·

Rus in vrede oom PG dankie dat jy ons mooi taal so verryk en ons volk so laat lag het

Christelle ·

Ag nee….! My Innige meegevoel en simpatie aan familie, vriende met due afsterwe van PG du Plessis. RIV Jou verhale en digkuns sal voortlewe in ons huise.

De Villiers Hauptfleisch ·

Ek het toevallig verlede week weer PG se roman “Fees van die ongenooides” van my boekrak afgehaal en kon dit nie neersit totdat ek dit in 2 dae deur gelees het nie. PG was `n ongelooflike begaafde skrywer wat `n toneel of gebeurtenis so raak en in fyn detail kon beskryf dat jy dit voor jou geestesoog kon sien afspeel. Soos die resensent skryf “PG du Plessis oorrompel die leser met skreiende en skokkende gebeure in die lewe van mense wat in rustiger tye so anders sou wees, toegespin in die kokon van vrede en sy illusies van beskawing. Maar in die verhaal groei daar uit die geweld van oorlog vreemde en ongehoorde dinge.” Lees gerus weer die boek.

Jaco ·

Ek het nou net die boodskap van my moeder uit SA ontvang. PG se boeke en videos op Youtube (Spies en Plessis & Kooperasiestories) het my aan die gang gehou hier oor die verre oseaan. Het ‘n maand gelede sy laaste boek ‘Fees van die ongenooides” as geskenk van my suster ontvang toe hulle hier by ons in Sydney kom kuier het. Het laasnag nog daarin gelees. Dis hartseer dat PG se stem nou stil sal wees en ek nou sy laaste skrywe het. n man wat diep spore in afrikanerharte getrap het. Sy legende sal daarop voortbou. Rus in vrede…

Pieter du Plessis ·

Rus in vrede Neef
Dankie baie vir jou nalatingskap.
Pieter

Thea ·

RIV Oom PG, Dink aan die tannie en die familie in hierdie moeilike tyd. Oom PG is volksbesit, een die bestes .

Pieter George du Plessis ·

Tragiese nuus. Daar gaan ‘n man verby…

Jean ·

Fantastiese mens en FANTASTIESE taalkundige. Hy het die mooiste Afrikaans gepraat en grootliks bygedra tot die behoud en gebruik van Afrikaans in SA. RIV. Daar gaan ‘n groot man verby.

PG Du P L ·

Oom Pieter (PG), wat ‘n groot legende. Altyd bitter trots om jou naamgenoot te wees. Oom Pieter, jy moet lekker rus omdat jy ‘n pragtige vol lewe gehad het. Sal nooit vergeet dat oom so lief vir tannie Marie was nie. Nie net lief nie maar tot op die einde, soos ‘n jongeling, steeds smoorverlief op haar was. Fritz en Marietha was bevoorreg om in so ‘n besonderse huis te kon grootword. Oom Pieter het altyd so ‘n ontdeunde uitdrukking op sy gesig gehad, so asof hy op die punt is om jou ‘n streep te trek. Tannie Marie, Marietha, Fritz en die hele familie, baie sterkte vir die Groete……. Pieter (PG)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.