[Video’s] Polisieman slaap, ander een ‘doen’ hare

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

Twee video’s het aan die lig gekom ʼn dag nadat Fikile Mbalula, die minister van polisie, ʼn beroep op die publiek gedoen het om swak dienslewering en ongerymdhede by polisiestasies landwyd aan die groot klok te hang.

In een van die video’s wat onder die minister se aandag gebring is ná sy #MyPoliceStation-veldtog van stapel gestuur het, sit ʼn beampte en slaap in ʼn raserige aanklagkantoor, terwyl ʼn paar mense rondstaan en wag om gehelp te word. ʼn Sosialemediagebruiker het op Twitter gesê die beampte was glo besope en dat die video by die KwaMhlanga-polisiestasie, noordwes van Emalahleni (Witbank) in Mpumalanga, geneem is.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het Donderdag gesê die voorval is onder die aandag van die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Mondli Zuma, gebring.

“Lt.genl. Zuma neem kennis van die ontstellende video wat uitbeeld dat ʼn beampte slaap terwyl hy aan diens is,” het Hlathi gesê.

“Die kommissaris wil die gemeenskap verseker dat geen steen onaangeroer gelaat sal word om teen hierdie soort gedrag op te tree nie.” Zuma het beveel dat die voorval amptelik ondersoek word.

In nóg ʼn video is Mbalula deur ʼn Twitter-gebruiker in kennis gestel van ʼn voorval by die Madadeni-polisiestasie in Newcastle, KwaZulu-Natal. Die gebruiker het ʼn video geneem van ʼn vrou wat skynbaar ʼn ander vrou se hare in die stasie versorg. Dié vroue het nie polisieuniforms aan nie.

Mbalula het die gebruiker bedank en gesê daar is reeds met optrede begin. “Ons polisiestasies sal nie in haarsalonne omskep word nie,” het hy geantwoord.

Mbalula het Woensdag die #MyPoliceStation-veldtog van stapel gestuur om die publiek die geleentheid te gee om oor die polisie se dienslewering in hul gemeenskap kommentaar te lewer om sodoende van “enige vrot aartappel” in die polisie ontslae te raak.

Dit volg nadat ʼn video aan die lig gekom het van ʼn polisiekonstabel wat glo persoonlike sake met staatshulpbronne doen terwyl lede van die publiek staan en wag om gehelp te word.

Maroela Media het Woensdag berig ʼn inwoner van Johannesburg wat vermoedelik die video geneem het, het dit Maandag op haar Facebook-blad gedeel. By haar plasing skryf sy in Engels: “Die vrou is besig om haar DStv-rekening uit te sorteer terwyl ek langer as 30 minute by die toonbank moes wag, net om aangesê te word om môre terug te kom.”

Volgens die inskrywing op haar Facebook-blad is die video by die Buccleuch-polisiestasie in Johannesburg geneem. Die plasing is intussen van haar blad verwyder, maar nie voordat die video gekopieer en wyd versprei is nie. Tugstappe is teen die beampte begin.

Mbalula het ná die voorval gesê swak dienslewering kan onder #MyPoliceStation op sosiale media gedeel word.

https://youtu.be/yHnLmuHpNKo

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Adam ·

Eish, ons kan darem bietjie veiliger voel wanneer die polisie aan diens slaap,, inaggenome die persentasie kriminele wat daar werksaam is.

WAB ·

… en die ander een se DSTV is afgesny en sy stoei om dit terug aan te kry!!

Willie ·

Ek was n gemeenskaps polisie sektor voorsitter… Die polisie stasie het daarteen geskop om die ou kamera sisteem reg te maak n die aanklag kantoor… so beskerm jy die gemeenskap en die polisie, veral op hoor se…

Botterblommetjie ·

Ons moet als op video begin opneem en sodoende ons land regruk….

Theresa B ·

Ai dis ‘n lekker lewe hierdie…………………………….. Almal moet by die SAPD aansluit. Jy kry BAIE voordele.

Bewerasie ·

Goed en wel die klaer neem ‘n videoclip maar genade, dit bewe so mens kan kwalik uitmaak wat daar aangaan. Fokus net en neem ‘n goeie video as jy dit met die publiek wil deel asseblief.

Tammy ·

Daar is beslis n GROOT behoefte om video te neem van die METROPOLISIE> Hierdie klomp amptenare het n houding wat skrik vir niks. Hulle grens aan misdaad wanneer hulle toeslaan.

Niel ·

Net jammer die waarna hulle moet opkyk (of sal ek sê die wat vir hulle ‘n voorbeeld moet stel) sit self lekker en slap in die Parlement. Selfs ou Zuma is skuldig hieraan.

LMF ·

Hier kom nou n vervolg verhaal hahaha dit gaan van die beste lag (en huil ) verhale wees En ek sou ook gebewe het as ek video moes neem hier in Hercules is so baie lede en cover vir mekaar en ek sou net daar agter trallies gewees het

knersus ·

ons het ‘n week ‘n polisieman in uniform, gewapen en al gesien loop op straat terwyl hy bier drink uit ‘n bottel, dit het so belaglik geraak dat niks meer snaaks is nie

Stofskoen ·

Wie weet … dalk is Mnr. Phaka so gedertimineerde polisieman wat dalk al ‘n langer as 24 uur skof aaneen gewerk het?

Muldersdrift ·

#mypolicestation

This is what we have to put up with living in Muldersdrift

SAPS have not as yet assigned a Detective to tie all the cases to the Nyaope Gang members arrested by Drift & a member of the SAPS Trio Task team despite pressure by CPF, Security Co’s and others to the Provincial Commissioner & West Rand Cluster Commander and presenting them with all the case numbers and witnesses.
So unless an ID parade is organised this weekend, the two gang members WILL BE RELEASED for a 2nd time. Meaning slaughter for everyone on the road as they will think they are truly invincible! Please use what ever means possible to demand victim rights and insist SAPS do their job.

Cacophony ·

Korrup en nou nog moeg ook? Die grootste slapende draak in ons sprokiesland.

Chris ·

Die poeliesman is baie paraat. Hy is 24/7 op diens, selfs in die aand. Hy het net sy oë laat rus. Al daardie papierwerk is hard op die oë. Wagter is weg met die “van”.

Sputnik ·

In Pretoria se Pierre van Ryneveld sit een glo gereeld onder ‘n boom en wag vir iemand om nie by die stopteken te stop nie – R50 of R100 op sy “clip”-bord en siedaar, geen verdere probleem nie. Kan iemand dit nie asb. op video vaslê en rapporteer nie?

Cornelia ·

Die probleem is, daar is mense wat nie omgee dat hulle slegte diens lewer nie. Ek bly in NZ en my klagte gaan oor die Suid Afrikaanse Hoe Kommissaris in Wellington. Ek wag nou al van Januarie af vir my 18 jarige seun se paspoort. Oproepe, briewe, e-pos en faxe bly ongeantwoord. Niemand help my of antwoord my navrae nie! Ek weet my klagte het nou niks te doen met die artikel nie, maar ek weet regtig nie meer waar om te kla nie, niemand stel belang om mens te help nie. Die slotsom is dat SA se dienslewering het waarlik versleg en mense het nie meer trots op hulle werk nie.

Johan ·

Dis onwettig om mense af te neem; video of klank opname sonder die persoon se toestemming of hofbevel. Doen jy dit en kos daardie persoon sy/haar werk gaan jy vir daardie persoon vir die res van sy/haar lewe betaal.
Ongeag wat daardie persoon gedoen het. So wees baie versigtig hoe jy so n situasie hanteer.

Gee ·

Dankie! Genade elke jan rap en sy maat is heeldag deesdae besig met sy video. Shame niks beter om te doen.

Boet Fasie ·

Stem saam met jou Johan, maklik deesdae om iemand met jou selfoon op te vang of af te neem, maar dit kan jou geld kos want die wet beskerm ‘n persoon se regte en sy privaatheid, al dink jy, jy doen goed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.