Video: Vrystaatse plase beskadig tydens brand

‘n Veldbrand het van Koffiefontein tot Jagersfontein versprei (Foto: Verskaf)

Brandbestryders en boere het Maandagaand ure lank gespook om veldbrande wat op ’n paar plekke in die Gariepdistrik in die Vrystaat uitgebreek het, in bedwang te bring. Weens winderige toestande was dit byna ’n onbegonne taak en teen Dinsdagoggend was van dié brande steeds nie geblus nie.

Brande is Maandagmiddag by onder meer Koffiefontein, Jacobsdal, Petrusburg, Fauresmith en Jagersfontein aangemeld.

Johan Breytenbach, algemene bestuurder van die Vrystaatse sambreelbrandvereniging (FSUFPA), sê die brand tussen Koffiefontein en Petrusburg het oor ’n groot oppervlakte versprei weens die sterk noordwestewind wat tot 70 km/h gewaai het.

“Die brand het teen 20 km/h en oor ’n algehele afstand van ongeveer 70 km versprei,” het Breytenbach aan Maroela Media gesê.

Boere en plaaslike grondeienaars het ingespring om die brand te help blus. Die Mangaung-brandbestrydingsvereniging is omstreeks 16:00 na die gebied ontbied.

“Die wind het teen die aand in ’n westelike rigting gedraai en die brand oor ’n groter gebied laat versprei.”

Boere het van wyd en syd gekom om te help om die brande te blus (Foto: Verskaf)

Elzmari en Viaan Viljoen, wat in die Tierpoort-omgewing naby Jagersfontein boer, sê ongeveer 2 500 ha van hul grond het afgebrand. Viaan sê volgens berigte het tot 100 000 ha grond net in hul omgewing gebrand.

“Ons het van gisteraand 18:00 tot vanoggend 04:00 die brand probeer blus. In ’n stadium het ons gedink die vlamme gaan ons oorweldig,” vertel Viaan.

Boere het van wyd en syd gekom om te help om die brande te blus (Foto: Verskaf)

Elzmari se skoonsuster, Jana Viljoen, wat ook op dieselfde plaas woon, sê boere, werkers en mense met brandslaantoerusting het van wyd en syd gekom om te help.

“Ons huishulp het haar kombers natgemaak en oor van die vlamme gegooi om só ook die brand te help blus,” vertel Elzmari.

Volgens Breytenbach is die brand se perimeter teen Dinsdagoggend onder beheer gebring, met ’n paar aktiewe gebiede daarbinne wat steeds gebrand het.

Boere en plaaslike grondeienaars het deur die aand gespook om die brand in bedwang te bring (Foto: Verskaf)

“Ons sal vanoggend (Dinsdag) eers die omvang van die skade kan bepaal.”

Volgens Breytenbach kan die oorsaak van die brande nog nie bevestig word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

James ·

As brande “op ‘n paar plekke” ontstaan – is dit verseker nie weerlig nie….

Tiptol ·

Ons land is besig om afgebrand te word. Letterlik en figuurlik.

4ntj13 ·

Dis hoofsaaklik een enkele brand. (ʼn Baie kleiner brand was net noord van Fauresmith ook, maar vroeër geblus.) Dit het begin NW van Petrusburg en het baie vinniger as 20 km/h versprei en verbreed. Toe draai die sterk wind skielik wes en veroorsaak verskeie strepe brande oor sy hele lengte, tot teen die N1 by Tierpoort, suid van Bloemfontein. Toe die wind in die oggendure suid draai, was almal wat kon, gereed om te keer dat Bloemfontein self brand. Hulle het die brand eers laatoggend heeltemal onder beheer gekry. Op ʼn stadium was die front, die breedte, 70km. Dis waarvoor Bloemfonteiners vandag dankie kan sê aan ons vuurslaner-helde, en die boere wat als verloor het kan probeer help met skenkings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.