Video’s: Waterskouspel by Augrabies

(Foto: Marelize Opperman via Facebook)

Die watermassa van die Oranjerivier wat by die Augrabieswaterval Nasionale Park in die Noord-Kaap by die waterval afstort het Maandag tot 3 532 kubieke meter per sekonde toegeneem.

Twee van die sewe uitkykpunte is vir veiligheidsredes gesluit terwyl die kolkende en skuimende water teen ʼn diepte van 56 m woed.

Talle mense het foto’s en video’s van die aangrypende watertonele in die park op sosiale media gedeel.

Die waterval se vloei het ook in Januarie vanjaar 3000 kubieke meter per sekonde oorskry.

(Foto: Theuns de Bruin via Facebook)

Volgens die departement van water en sanitasie is daar tans hoë watervloei in die Oranjerivier se opvangsgebied en kan die watermassa na verwagting verder styg tot ʼn hoogtepunt van 4 500 kubieke meter per sekonde, afhangend van die verdere reënval.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê daar is ʼn verwagting dat die Oranjerivier by Upington tot 7,2 m sal styg vanweë die gekombineerde uit- en oorvloei van die Vanderkloof- en Bloemhofdam.

Die Bloemhofdam se uitvloei is sedert verlede week verminder.

Die departement van water en sanitasie het verlede week in sy weeklikse verslag oor damvlakke aangedui dat die Vaaldam nou 106,4% vol is.

Die vlak van die geïntegreerde Vaalrivierstelsel het van 93,3% verlede week tot 101,2% gestyg. Dit is die land se grootste stelsel en bestaan uit 14 damme met opvangsgebiede in die Vrystaat, Noord-Kaap, Mpumalanga en Noordwes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

kommentaar ·

Ek sal baie graag Sputnik Ratau se ma wil ontmoet wat haar kind so ‘n cool naam gegee het

Namgrl ·

so pragtig!!! prentjie mooi!!!! Seeninge en nogmaals seeninge….

Rudi ·

Dis mooi, maar die water gaan verlore in die see. Waarom word daar nie nog damme gebou om hierdie baie water op te vang nie of gekanaliseer word na Kaapstad se kant toe nie?

Karina ·

Dit is ongelooflik mooi die magdom van water! Ek sal dit graag eendag self wil aanskou. Ai, as ‘n bietjie van daardie water net na PE se damme kan vloei sal dit wonderlik wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.