Vier aangekeer oor Nelspruit-sakeman se moord

Riaan van der Sandt (Foto: Facebook)

Vier verdagtes, tussen 27 en 30 jaar oud, is in hegtenis geneem in verband met die moord op Riaan van der Sandt, ʼn sakeman van Nelspruit.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê die vier verdagtes is aangekeer deur die polisie se provinsiale span wat ernstige en gewelddadige misdaad ondersoek, Nelspruit-polisie en privaat sekuriteitsbeamptes.

“Volgens inligting het ʼn groep gewapende mans ʼn bandehandelaar in Ou Pretoriaweg op 5 Augustus bestorm. Riaan van der Sandt (51), eienaar van die bandewinkel, en sy werknemers was besig om die winkel vir die dag te sluit toe die groep omstreeks 16:00 toegeslaan het.”

Die aanvallers het Van der Sandt en sy personeel met vuurwapens gedreig en een van die werknemers aangerand. Hulle het die werknemer gedwing om hulle na die kluis te neem. “Daar was ʼn onderonsie tussen een van die verdagtes en die eienaar. Mnr. Van der Sandt is noodlottig in die bors geskiet. Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug.”

Die saak is by die polisie in Nelspruit aangemeld en ʼn saak van moord en roof is aanhangig gemaak. “Beamptes het die saak ondersoek en ʼn deurbraak gemaak toe die verdagtes Donderdag in die vroeë oggendure aangekeer is. Daar is ook beslag gelê op ʼn vuurwapen wat vermoedelik in die aanval gebruik is.”

Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit ook in enige ander misdaad gebruik is.

“Een van die verdagtes is nog voortvlugtig en word deur die polisie gesoek.”

Die vier verdagtes sal na verwagting Maandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn op aanklag van moord en roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Nog aanklagte kan moontlik bygevoeg word.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die sinnelose moord op die sakeman veroordeel en die beamptes geloof vir die inhegtenisneming van die verdagtes.

Van der Sandt is Saterdag uit die AGS Communio-kerk in Nelspruit begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Weereens swart op wit moord. Geen kommentaar van polisie minister of enige politieke ampsdraer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.