Vier aanvalle glo op plase, kleinhoewes binne 24 uur

Argieffoto: Lorraine Claasen

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag gesê vier aanvalle het die afgelope 24 uur op plase en kleinhoewes in verskillende provinsies voorgekom.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê een van dié aanvalle het vanoggend in die vroeë oggendure by ʼn huis in ʼn landelike gebied in Grootvlei, noord van Pretoria, plaasgevind. Dit is nie in dié stadium duidelik of die aanval op ʼn plaas of ʼn kleinhoewe was nie.

Volgens kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het ʼn 75-jarige man omstreeks 04:00 wakker geword en op pad badkamer toe homself in drie verdagtes vasgeloop. Een van dié verdagtes was met ʼn vuurwapen gewapen.

Die man en sy vrou is vasgebind waarna die aanvallers met ’n Nissan-bakkie en huisware op die vlug geslaan het. Daar word beweer dat die aanvallers ’n deur oopgebreek het om toegang tot die huis te verkry. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

Makhubele kon nie onmiddellik bevestig of die egpaar enige beserings opgedoen het nie. ’n Saak van huisbraak word ondersoek.

Volgens Müller was daar ook vanoggend, omstreeks dieselfde tyd as die aanval by Grootvlei, ʼn plaasaanval in die Mooinooi-omgewing in Noordwes. Müller sê volgens inligting van die plaaslike veiligheidstrukture is plaaswerkers deur aanvallers oorval en vasgebind voordat hul huis geplunder is. Geen ernstige beserings is aangemeld nie.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder van Noordwes, kon teen Donderdagaand nie die voorval aan Maroela Media bevestig nie.

In ʼn ander onverwante voorval is ʼn 55-jarige man Woensdagaand deur minstens een aanvaller op ʼn kleinhoewe in die Cullinan-omgewing oorval.

Makhubele het aan Maroela Media gesê die aanvaller het een keer ʼn skoot in die grond afgevuur en daarna op die vlug geslaan. “Niemand is tydens die voorval beseer nie. Daar is ook nog niemand in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.

Müller beweer daar was twee aanvallers wat die man gekonfronteer het toe hy na buite gegaan het om iets te gaan haal. Die aanvallers het hom glo beveel om op die grond te lê en stil te bly.

“Hy het egter vir sy vrou in die huis geskree en sy het die paniekknoppie gedruk. Die aanvallers het skote afgevuur en gevlug met net die man se selfoon,” het Müller gesê.

Makhubele het bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van die afvuur van ʼn vuurwapen met die doel om skade aan te rig.

Daar het ook na bewering ʼn vierde aanval Woensdag omstreeks 20:30 op ʼn plaas in die Modimolle-gebied in Limpopo plaasgevind. Müller sê volgens AfriForum se inligting is twee plaaswerkers deur ses gewapende aanvallers oorval en met draad vasgebind. Die werkers is van selfone, klere en kontant beroof voordat die aanvallers op die vlug geslaan het.

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het die voorval aan Maroela Media bevestig. ‘n Saak van huisroof word ondersoek.

Verlede week het daar drie plaasaanvalle binne agt uur in onderskeidelik die Noord-Kaap, Limpopo en Gauteng plaasgevind. Müller sê net in September was daar reeds 18 aanvalle op plase en kleinhoewes en drie mense is in dié aanvalle vermoor.

Daar was tot dusver vanjaar 307 plaasaanvalle en 41 plaasmoorde, aldus AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Canine ·

Hoeveel huis inbrake was daar gisteraand . Ek weet van twee in rustenburg. Ons almal is uitgelewer aan die misdaad probleem. Miskien moet ons ophou om plaas/plot inbrake afsonderlik te hanteer.

Edd ·

As iemand in jou huis inbreek is die bure daar nog voor die boosdoeners uit jou tuin is. Op ‘n plaas en ‘n kleinhoewe kan hulle hul tyd vat om skade aan te rig soos hulle wil. Niemand gan jou hoor skreeu nie en as jy die paniek knoppie kon druk is jou naaste bure 10 tot 15 min uit en die polisie sal die volgende ogend dalk ‘n draai kom maak. Plaasanvale is so erg omdat ons so ver van die res van die samelewing af gesonder is. Jou stelling is arogant en oningelig.

agtogwatnog ·

Met alle repek Edd, jou stelling is eensydig en selfsugtig, dit vat 1 sekonde om sneller te trek en n onskuldige slagoffer se lewe te neem. Hoekom staan die afrikaner nie saam nie, want as jy nie boer nie, is jy nie goed genoeg nie. Ons dorps bewoners en stadsjappies koop julle produkte en skree om jul beskerming en dit is waar ons as as hulpbron se nuttigheid eindig. Ek het ook vriende agv geweld verloor, hulle was stadsjapies en dorps bewoners. Persoonlik was ek geroof huis leeg gedrae, tydens gewapende roof moes ek kyk hoe aanvaller pistool teen my vrou se kop druk terwyl ander my besigheid leeg drae. Dit is aanvaarbaar want ek sit nie op n plaas nie nê. Word groot daar is n baie groter aanslag as net op julle “Boere”

Koos de Meyer. ·

Ek stem. Hulle moet sommer die lykswa as taxi gebruik as hulle by my huis in breek.

Wilma ·

Oe en blankes moet asb stilbly voordat ons weer van rassisme beskuldig word. Ander mag doen wat hul wil en regering ondersteun misdadigers.

Ivan ·

Wanneer sal van die kleinhoewe boere of bewooners iets uit die aanvalle leer. Stel boobie traps met klokkie dun nylon daaraan gekoppel. Enig iets wat kan afgaan en wat aandag kan trek. So kan die mense darem ne vermoor word nie. Kan iemand nie n patend uitwerk vir die mense nie. Dit is skandelik. Keer die inbreker vas en maak van hom of van mince meat. Dit tyd kom nader..??

Andre ·

Daar is sulke patente kyk na Brandwag tegnologie op faceboof of youtube

Ekke ·

Grootvlei by ons. Ons kan slegs rustig slaap as ons die Bloed van die Here Jesus oor ons pleit saans en dwars deur die dag – GEEN beter verdediging nie.

alida ·

Hier is weer baie “slim” mense vandag. Mense op kleinhoewes en plase het werk om te doen. Hulle is paraat te alle tye ons weet dit almal. Die enigste ding wat miskien kan werk is as elke boer en sy werker ‘n paniekknoppie om die nek dra heeldag terwyl hulle buite is mits hulle by ‘n Veiligheidsmaatskappy aangesluit het. Ek weet dit gaan langer vat om by die toneel uit te kom maar tenminste kan die skelms gevang word.

Jerry ·

Hoe moet n mens Afri-Forum se rol by plaasbeveiliging interpreteer? Goeie besigheid vir reaksionere simpatiseerders, statistiekiste, joernaliste, propagandiste? Aanvalle vind steeds plaas teen dieselfde tempo en selfs hoer tempo as wat die geval was voordat die forum op die toneel verskyn het. Net soos wat dit die geval is met die SAPD lyk dit nie of Afri-Forum se plaasbeveiliging strukture bevoeg of opgewasse is om boere te beveilig nie! Toevallig is dit juis plaasaanvalle en moorde op boere wat AfriForum se standpunt versterk vir veldtogte wat daarop ingestel is om die regering te beskuldig, te blameer en om daardeur buitelandse ondersteuning te kry om druk op die regering te plaas vir Afrikaner selfbeskikking en n eie grondgebied! Bewys my asseblief verkeerd!

Sarel ·

As jy swart is word jou misdryf gedefinieer as huisbaak en afvuur van n vuurwapen. As jy wit is sal dit wees roof en poging tot moord .

Sarel ·

Waarom moet Afriforum die boere beskerm? Dit is die polisie se mandaad wat hulle nie kan of wil uitvoer nie . Dan gaan die onus oor na die boer om homself te beveilig . Afriforum gee ondersteuning net soos die landbou organisasies. Hou op om altyd te verwag dat iemand anders die werk moet doen terwyl jy maar met jou dagtake aangaan soos normal. Sal ons asb eerder vasstel wat reeds gedoen word voor ons kommentaar lewer .

Andre ·

“Afvuur van n vuurwapen om skade aan te rig” Is daar so n artikel in die Wet ?

LB S ·

Watse twak! Afvuur van ‘n vuurwapen OM SKADE AAN TE RIG se voet! POGING TOT MOORD. Maar ons herhaal hierdie dinge daagliks, ons gewone mense op straat. Maar die SAPD sien dit blykbaar heel anders in!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.