Vier beseer in brand by JHB-restaurant

Foto: Emer-G-Med/Twitter

Minstens vier mense is beseer nadat ʼn brand by ʼn restaurant in Rivonia, Johannesburg, uitgebreek het.

Met paramedici se aankoms op die toneel kort na 14:00 was die restaurant reeds in ligte laaie, het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê.

“Brandbestryders het intussen begin spook om die vlamme te blus, terwyl paramedici pasiënte op die toneel begin behandel het.”

Vier mense is beseer, waaronder een kritiek, het Meiring gesê. “Die beseerdes is op die toneel behandel waarna die kritiek beseerde pasiënt met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is vir verdere behandeling.”

Foto: Emer-G-Med/Twitter

Die ander beseerdes is met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem.

Die restaurant wat gebrand het, is in die omgewing van die Rivonia Village-winkelsentrum. Volgens ooggetuies het dit ook gelyk of die brand na winkels aangrensend aan die restaurant versprei het.

Video’s op sosiale media het ʼn groot swart rookwolk in die lug gewys. Daar word beweer dat die brand moontlik die gevolg van ʼn gasontploffing was.

Die presiese omstandighede rakende die voorval word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.