Vier beseer in brand by Pta-Oos-plakkerskamp

(Foto: Guido Urlings, AfriForum)

Tshwane-nooddienste het Sondagaand net voor middernag reageer op ʼn brand wat by die Plastic View- informele nedersetting in Woodlands, oos van Pretoria, uitgebreek het.

Verskeie informele huise het gebrand en die vlamme was meer as 20 meter hoog toe brandbestryders by die toneel opgedaag het, sê Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die munisipaliteit, in ʼn verklaring.

“Verskeie ontploffings, vermoedelik weens gassilinders, kon gehoor word tydens die brandbestrydingspogings tydens winderige toestande. “Brandbestryders het omstreeks 01:40 die brand onder beheer gebring en dit teen 03:30 geblus.”

Minstens 400 huise het in ligte laaie gestaan by die informele nedersetting. “Die omvang van die skade word nog bepaal. Rampbestuur en beamptes van maatskaplike ontwikkeling is op die toneel besig met assessering. ʼn Plaaslike kerk bied skuiling aan sommige van die persone wat deur die brand geraak is.”

Vier mense (identiteit nog nie bekend nie) is met ʼn privaat ambulansdiens na ʼn hospitaal geneem. Een persoon is in ʼn bedenklike toestand en die ander drie is stabiel.

Die oorsaak van die brand word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Pretoria-Oos is ok nie meer wat dit was nie. The Russians are coming!

Patch ·

Hierdie is nou al die hoeveelste brand by Plastic View. Ek wens daar was ‘n maklike, goedkoop manier om vir hierdie mense beter en veiliger huisvesting te bied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.