Vier mans is Maandagmiddag in Wesstraat in Durban, KwaZulu-Natal beseer toe steierwerk op hulle geval het.
“Paramedici is na die tweede verdieping ontbied,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Vier mans was onder die steierwerk vasgekeer. Hulle het daarop gewerk toe dit inmekaargestort het.”
Paramedici het die steierwerk versigtig verwyder. Die mans het geringe tot matige beserings opgedoen. “Gelukkig is niemand ernstig beseer nie,” het Meiring bygevoeg.
Die werknemers is na St Augustines geneem vir verdere mediese behandeling.
Plaaslike owerhede stel ondersoek in.